Pikke of swaarde - die boodskap van Joël

Joël profeteer oor die dag van die Here. Ons lees dat selfs die swakkes van die wêreld meen hulle is heldhaftig genoeg om God teen te staan. Vir sulke mense sal die dag van die Here verskriklik wees.

Pikke of swaarde - die boodskap van Joël
Photo by David Trinks / Unsplash

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria

Baie van ons is bekend met die vertroostende profesie in Jesaja 2:4 –

“En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

Dis pragtig. ‘n Tyd waarna ons definitief kan uitsien, ‘n tyd waarin daar vrede en geluk sal wees. Maar is ons bewus dat daar ook ‘n Bybelgedeelte is wat oor presies die teenoorgestelde praat?

“Roep dit uit onder die nasies, heilig 'n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!  Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is 'n held.” (Joël 3:9-10)

Voordat die stryd-byl begrawe gaan word, is daar nog ‘n groot oorlog om te voer. Joël profeteer oor die dag van die Here. Ons lees dat selfs die swakkes van die wêreld meen hulle is heldhaftig genoeg om God teen te staan. Vir sulke mense sal die dag van die Here verskriklik wees.

Maar wat van ons? Joël roep ons op om presies die teenoorgestelde as die wêreldse nasies te doen. Vir Christene is diepe besef van ons tekorte die gepaste reaksie. In hoofstuk 2:13 staan: “skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil”.

Om jou klere te skeur was in daardie tyd ‘n teken van berou, skok of groot hartseer. Die gevaar is egter dat dit net ‘n uiterlike simbool word. God sien die harte.  Ons skeur meesal nie ons klere as ons berou oor iets het nie, tog het ons ook verskeie tekens van berou.  Een van die duidelikstes is seker die nagmaal. Wanneer ons dit vier, bely ons in wese keer op keer dat ons afhanklik is van Jesus se offer vir vergifnis, omdat ons self net sondig en swak is. Die vraag is, hoe vier ons nagmaal, of selfs hoe vra ons vergifnis in ons persoonlike gebede? Is dit iets wat ons net doen, want dis wat Christene doen?  Het ons nog werklik berou? Die werklikheid is dat God inderdaad genadig, barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid is, maar Hy eis wel ware berou. Gebed en nagmaal is nie sommer ‘n vinnige manier om die vergifnistransaksie te laat plaasvind nie.  God wil verskeurde harte sien.  Hy wil sien dat ons besef hoe ons Hom beledig het met ons sondes, hoe ons Hom verloën het toe ons stil gebly het terwyl mense om ons gelaster het, en hoe ons Hom verlaat het deur agter moderne afgode aan te loop.

Ons kan slegs in vrede met God lewe as ons ons harte skeur en berou oor ons sonde toon.

Maar ons is swak. So baie keer wil ons saam met Paulus in frustrasie sug “wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek” (Romeine 7:15). Wanneer jy besef hoe swak jy is, wil jy soms amper moedeloos word. Dit is egter nie nodig nie. Joël se profesie eindig nie met ‘n volk wat in sak en as treur nie.  Nee, daar is wonderlike beloftes van herstel.  In Joël 2:28 en 29 vind ons een van die mooiste beloftes:

“En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.”

Die Here gee self die oplossing. Hy weet ons het harte van klip. Hy sal sy Gees in ons stort, sodat ons harte van vlees kan kry (Esegiël 11:19-20, Psalm 51:12).Hierdie belofte is die groot belofte van die Bybel. Dit is hierdie belofte wat ons vrede met God gee. Dit gaan nie in die eerste plek oor aardse diktators of militêre leiers wat gestop gaan word en aardse vrede nie, maar oor God wat in ons harte wil kom woon.

Ons kan slegs in vrede met God lewe as ons Gees-vervulde harte gekry het.

Solank as wat ons nog hier op die eerste aarde is, sal daar oorlog wees. Ons kan selfs verwag dat die oorlog met die bose erger sal raak. Die heidene sal hulle pikke omsmelt in swaarde om die Christendom aan te val.  Maar ons kan hier en nou al vrede hê, omdat God sy Gees in alle gelowiges stort. Ons veg nie alleen nie. God is aan ons kant en die beslissing van “die dag van die Here” is klaar bepaal, daarom sien ons uit na die dag wat die swaarde in pikke omgesmelt sal word.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp