Wegraping

Die woord wegraping beteken om weggeneem te word van waar jy op daardie oomblik is (weg te ruk). Sekere mense glo dat Christus in twee fases sal terugkom, die eerste fase is wanneer die wegraping gebeur en in die tweede fase sal Christus ‘n duisend jarige ryk op aarde regeer.

Wegraping
Photo by Dewang Gupta / Unsplash

Geskryf deur Henri Antonides, VGK Kaapstad

Die woord wegraping beteken om weggeneem te word van waar jy op daardie oomblik is (weg te ruk). Sekere mense glo dat Christus in twee fases sal terugkom, die eerste fase is wanneer die wegraping gebeur en in die tweede fase sal Christus ‘n duisend jarige ryk op aarde regeer. Daar sal ‘n sewe jaar verskil tussen die begin van die eerste fase en die tweede fase wees. Die eerste fase van die wegraping gebeur volgens hulle wanneer Christus eendag terugkom na die aarde toe, dan sal Hy al die Christene wegneem tot Hom – mense sal net ewe skielik verdwyn. Al die ongelowiges sal op aarde agter bly. Die gelowiges gaan in die hemel wees en fees vier saam met God, terwyl die ongelowiges op aarde verdrukking sal ondergaan vir sewe jaar. In die sewe jaar waarin die mense op aarde verdrukking ondergaan, sal hulle nog ‘n kans kry om hulself te bekeer en tot God terug te draai. Al die magte van die duiwel, konings op aarde en valse profete sal teen diegene veg wat hulself na God toe wil terugdraai. Hierdie poging om hulle weg van God te probeer hou vermeerder met die verdrukking. Nadat die sewe jaar verby is gaan Jesus weer kom met al sy heiliges: “…by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Thessalonicense 3:13) en die duisend jarige ryk op aarde sal begin.

Die wegraping word gebaseer op tekste soos Mattheus 24:40-41: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” Hier word gewys dat Christus die gelowiges sal opneem terwyl Hy die ongelowige agter laat op hulle eie.

‘n Rede hoekom hulle praat van die twee verskillende fases is omdat daar geargumenteer word dat die kerk nie die verdrukkinge sal deurgaan wat verwag word in die 7 jaar na die wegraping nie. Hierdie is nie waar nie, want Christus praat in Mattheus 24 oor die verdrukkinge wat die kerk sal deurgaan. Dit impliseer dat die gelowiges nie eers deur die wegraping weggevat sal word en dan die verdrukkinge kom nie, maar dat gelowiges eerstehands die verdrukkinge gaan ervaar. In Mattheus 24:29, 30 word daar gepraat van “En dadelik na die verdrukking…” en in Mattheus 24:31 staan daar: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompet geluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” Dit verwys na 1 Thessalonicense 4:16-17: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” As Mattheus 24:31 na die wegraping verwys, sal die gebeurtenis na die verdrukking geplaas moet word.

Die wegraping en die wederkoms het ooreenkomstes. Albei verwys na Christus wat sal terugkom om die gelowiges saam met Hom te vat, maar die wederkoms gebeur net een keer en bring al die gelowiges, die wat lewendig is en die wat dood is, saam met Hom na die nuwe aarde om vir ewig saam met Hom te lewe. Die Bybel wys vir ons dat die wederkoms gaan gebeur en nie die wegraping nie.

1 Thessalonicense 4: 13- 18: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

Hierdie 6 verse gaan oor die terugkoms van Jesus Christus en die wederkoms. Jesus gaan terugkom met die geroep van ‘n aartsengel en die geluid van ‘n trompet van God. Dan sal die dooies opstaan; en ook die wat lewendig is, gaan saam met hulle weggevoer word om die Here te ontmoet in die lug. Hierso wys dit dat die wederkoms met baie geraas gaan gebeur, terwyl daar gesê word oor die wegraping dat dit saggies gaan gebeur en sonder dat mense dit agterkom. Geen gelowige, of enige persoon, sal die wederkoms kan mis nie, of jy nou dood is of nog lewe.

Bronne:

https://www.christianstudylibrary.org/files/pub/articles/Klaas%20Stam%20-%20The%20Rapture%20of%20the%20Believers.pdf
https://www.suiderkruis.co.za/die-waarheid-oor-die-wegraping/
https://www.christianstudylibrary.org/files/pub/articles/Klaas%20Stam%20-%20Attention%20for%20the%20Rapture.pdf
https://www.christianstudylibrary.org/article/christs-return-and-rapture-evaluating-dispensationalism
https://www.evangelical-times.org/eschatology/