Vrees ons God of vrees ons AI?

AI, ‘n term wat ‘n groot rol in ons lewens speel sonder dat ons dit noodwendig agterkom. In kort is AI (kunsmatige intelligensie) ‘n stel algoritmes wat gebruik maak van ‘n groot datastel om patrone te vind daarin. Dit word dan gebruik om voorspellings en aannames van die datastel te maak.

Vrees ons God of vrees ons AI?
Photo by DeepMind / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria-Maranata

AI, ‘n term wat ‘n groot rol in ons lewens speel sonder dat ons dit noodwendig agterkom. In kort is AI (kunsmatige intelligensie) ‘n stel algoritmes wat gebruik maak van ‘n groot datastel om patrone te vind daarin. Dit word dan gebruik om voorspellings en aannames van die datastel te maak.

In vandag se lewe word AI reg rondom ons gebruik om ons lewens te vergemaklik of selfs om ons besluite te beïnvloed: die ideale hoogte waarop die tandepastabuisie op die winkelrak staan sodat jy dit vinniger kan raaksien, die advertensie wat jou tog maar weer oortuig om ‘n fortuin te spandeer op die nuutste selfoon, jou “99% match”-film op Netflix, die weervoorspelling vir môre of selfs om verknog te word aan sosiale media sonder dat jy dit agterkom, is alles voorbeelde van hoe AI ‘n rol in ons lewens speel.

Maar tog kan AI soveel gevaarliker word as net die bogenoemde voorbeelde. Wanneer jy aan AI dink, dink jy skielik anders. As iemand vir jou vra: “Wat is AI?”, dan dink jy aan karre wat self kan ry, robotte wat mense vervang in fabrieke, robotiese bene wat mense weer kan laat loop, AI wat die wêreld gaan oorneem, dalk selfs my werk eendag wat vervang kan word deur AI en die nuwe ChatGPT (https://youtu.be/8jhspHdXGBQ – ‘n 2-minuut video wat ChatGPT verduidelik). En hoe meer mens hieroor dink, hoe meer vrae vra ons oor ons bestaan en dit bring onsekerheid en twyfel in ons lewens, veral wanneer dit voel asof AI die wêreld kan oorneem.

Maar enige gelowige (en selfs ongelowiges) kan op ‘n punt kom waar ons vra: “Kan AI God vervang?” Of: “Wat is die verhouding tussen God en AI?” En by daardie punt wil ek graag stilstaan en in hierdie artikel ontrafel.

“Waar is God?”
Dis ‘n vraag wat die mensdom vir eeue al besig hou. Vir gelowiges wat begrip het van geloof (HK V&A 21) kan die vraag ook soms moeilik wees om te antwoord (selfs Dawid het dieselfde in Psalm 22 gevra).

In vandag se lewe is antwoorde soveel makliker verkrygbaar as voorheen. Ons kan vinnig ‘n soektog op Google doen en binne enkele sekondes kry jy ‘n antwoord. Ons vertroue in masjiene en rekenaars is dalk meer as wat ons dink. Dink maar daaraan hoe gereeld jy regtig wonder of Word se autocorrect reg was of om sonder ‘n geligte wenkbrou te aanvaar dat die sakrekenaar se resultate akkuraat is. Dit gee ons die indruk dat masjiene (en dus ook AI) nie kan sondig nie en dit kan meer betroubaar voorkom as mense. Waar AI gevaarlik raak is waar dit, met statistiek, die toekoms kan voorspel. So maak dit die sondige mens in ‘n mate vatbaar om verder te gaan as die perke wat God vir ons ingestel het. Ons begin dan vrae vra soos Dawid in Psalm 22, maar hierdie keer kry ons ‘n antwoord van ‘n AI-model.

In Japan het sekere Boeddhistiese gemeenskappe begin om robotte te implimenteer as hulle priesters. Die robot kan bid, preek en die lede seën. Mense vertrou die robot omdat hy akkuraat is en kennis besit wat geen priester ooit sou kon besit nie. Selfs al kan ‘n robot vir my preek oor God en bid tot God, wie vereer ek anders as die robot wat meer akkuraat is as enigiets anders? Dis die vraag wat by die agterdeur insluip wanneer ons ‘n rekenaar as middellaar tussen ons en God het. God sal verdwyn. Wanneer ons vir ChatGPT kan vra: “bestaan God?”, en of ChatGPT sê dat God bestaan of nie, wie sal ons volgende keer vra as ons twyfel oor iets? Natuurlik ChatGPT! Ons sal eerder die rekenaar vereer as vir God omdat ons ons antwoorde by die rekenaar kan kry (of die antwoorde waar is of nie, ons vertrou dit net soos ons ‘n sakrekenaar vertrou).

Ons soek na antwoorde, net soos Adam en Eva in die paradys. Die mens streef altyd na sy eie wil en soek self-versekerdheid, maar God het ons anders geskep. God het ons uniek geskep, nie om ons oor te laat aan die wêreld saam met die hele mensdom nie, maar om ‘n spesiale verhouding met God te hê. God het ‘n hiërargie ingestel: God bo die mens. Hy is in beheer van alles. Wanneer ons ‘n antwoord op alles kan kry, is ons nie aan God ondergeskik nie, maar vereer ons onsself deur AI. Wanneer ons AI vereer, is ons besig om ‘n moderne toring van Babel te bou (Genesis 11:4). Die oppergesag van die mensdom neem dan oor om ‘n toring te bou om die hemel te bereik (antwoorde te kry) en om ‘n naam vir onsself te maak in plaas daarvan om God te soek (selfvereering). God is immers in beheer van alles. Hy was in beheer toe hulle die toring van Babel begin bou het en hoeveel te meer dan nie vandag nie? Wanneer ons aan ons toekoms begin twyfel, byvoorbeeld: “Sal AI veroorsaak dat ek my werk verloor?” Dan kan ons onsself afvra: “Kan AI ‘n oorstroming of ‘n aardbewing voorkom?”, dan sal ons weet Wie in beheer is.

Daarby kom die vraag ook aan ons as Christene vir die wat hulle graag wil bekwaam om eendag in die veld van AI te gaan werk, of AI dan reg en eties is? God het in Genesis 1:28 vir ons gesê om te heers oor die aarde, om dit te bewaar. God het Christus as Middelaar na die wêreld gestuur om vir ons sondes te sterf. God weet as ons byvoorbeeld geld (en dus ook AI) plaas tussen God en ons, dat ons van God sal vergeet. Slegs deur Christus kom ons na God toe. As ons dit onthou, dan kan ons AI gebruik as ‘n werktuig om die aarde te bewaar, wat ook deel is van ons skeppingsopdrag. Dit kan vooruitgang in so baie areas beteken: dink maar byvoorbeeld aan statistiek-gerigte navorsing in die wêreld van medici. Kyk maar gerus by “ekstra links” onderaan die artikel. AI is ‘n realiteit, en ons word as Christene beveel om ook AI te gebruik tot opbou van God se koninkryk en nie tot opbou van die moderne toring van Babel nie. So kan ons AI met wysheid betree, naamlik met die vrees van die Here. (Psalm 111:10)

Soos ons vorentoe beweeg, laat ons nie terugkyk na die “ou tyd”, toe die lewe eenvoudiger gelyk het nie. God se Woord is onveranderd van die begin van die Skepping af. AI verander elke dag en word beter, maar sal nooit perfek wees nie. Soos die AI-robot Sophia nasionale burgerskap in Saudi Arabië gekry het, mag ons ons burgerskap in die hemel by God vind en God ken deur die Skrif en die natuur (NGB Artikel 2) en nie deur AI-bots nie. So mag ons die volle wapenrusting op ons neem en besef dat “in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.” (Romeine 8:37)

Wat is ChatGPT? https://youtu.be/8jhspHdXGBQ

Boeddhistiese robot: https://youtu.be/JE85PTDXARM

Toepassings van AI: https://www.simplilearn.com/tutorials/artificial-intelligence-tutorial/artificial-intelligence-applications

Vir interessantheid: https://www.amazon.com/Non-Computable-You-Artificial-Intelligence-Never/dp/163712015X  & die resensie van die boek: https://www.discovery.org/b/non-computable-you/

Ander bronne

https://www.theatlantic.com/technology/archive/2017/02/artificial-intelligence-christianity/515463/
https://www.christianitytoday.com/ct/2022/august-web-only/artificial-intelligence-praise-worship-body-carbon.html
https://www.christianitytoday.com/news/2019/april/ai-artificial-intelligence-technology-statement-evangelical.html
https://www.christianitytoday.com/ct/2020/june-web-only/artificial-intelligence-todays-tower-of-babel-ai-ethics.html
https://christiantoday.com.au/news/a-christian-response-to-artificial-intelligence.html
https://radical.net/article/why-christians-should-care-about-artificial-intelligence/

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp