Hillsong

“’n Gesonde kerk wat lewens verander deur Christus.” “Hillsong is ‘n kontemporêre Christelike kerk. Oorweldig deur die gawe van verlossing wat ons in Jesus gevind het, het ons ‘n hart vir outentieke aanbidding.

Hillsong
Photo by Edward Cisneros / Unsplash

Geskryf deur Johann Snijder, VGK Pretoria-Maranata

Wie is Hillsong?

“’n Gesonde kerk wat lewens verander deur Christus.” “Hillsong is ‘n kontemporêre Christelike kerk. Oorweldig deur die gawe van verlossing wat ons in Jesus gevind het, het ons ‘n hart vir outentieke aanbidding, is ons passievol oor die plaaslike kerk en is ons op ‘n missie om te sien hoe God se koninkryk regoor die aarde gevestig word.” So vind ons die Visie en die beskrywing van wie Hillsong is op hulle webtuiste.  Gaan snuffel gerus en lees hulle stellings oor wat hulle glo op hulle webtuiste.  Met die oogopslag dink ons miskien: “klink onskuldig genoeg?”  Maar dit is nodig om dieper as die oppervlakte te grawe om werklik te verstaan waaroor dit gaan.

Hillsong en God

Diep, Bybelse waarheid maak saak. In Johannes 4:24 lees ons (2020 vertaling): “God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”  Om God te aanbid op ‘n manier wat Hom behaag is dit nodig dat ons weet wie Hy is!  Die aanbidding van Hillsong mik om ‘n gemaklike en ontspanne atmosfeer te skep.  Dit maak sondaars gemaklik met die idee van ‘n regverdige en heilige God en alle vrees en eerbied word verwyder.  Die god wat hulle aanbid deur hul liedere is ‘n passiewe, oulike, snoesige god.  In hul geloofstelling op hul webblad lees ons dat hulle glo dat “God wil ons genees en transformeer sodat ons gesonde en geseënde lewens kan lei om ander meer effektief te help.”  Hierdie god wat hulle aanbid is passief.  Mens hoor telkens die taalgebruik “nooi God in om jou te help en lei” of “laat God in jou hart in”.  Maar Jahweh, die Skepper van hemel en aarde, word nie gekeer deur jou wil nie.  Jahweh is die God wat “alles doen wat Hom behaag” (Psalm 115:3) en wie se “koninkryk heers oor alles” (Psalm 103:19).  As Hy, soos met Paulus, jou roep het jy geen sê in die saak nie.

Verder nog maak hulle God af om baie een-dimensioneel te wees. Die een eienskap van God wat altyd verreweg bo-aan staan is sy liefde. John MacArthur het pragtig gesê: “Jy kan nie een eienskap van God – enige eienskap van God – neem en dit isoleer asof dit God alleen definieer nie.  God moet in al die totaliteit van al Sy eienskappe verstaan ​​word.”  God se liefde, ja! Maar net soveel sy regverdigheid, sy barmhartigheid, sy ewigheid ens.

Hulle aanbidding lyk miskien of dit baie opreg is.  Sommige van ons sal miskien dink dat God enige vorm van opregte aanbidding aanvaar, maar dit is eenvoudig nie wat die Here ons leer nie.  Dink maar aan Nadab en Abihu wat vreemde offers aan die Here gebring het, of aan Ussa wat eenvoudig maar die Ark wou stabilliseer.  Of selfs aan die volk wat ‘n kalf gemaak het aan die voet van Sinai om die Here te probeer behaag.  Maar die boodskap wat die Skrif ons leer is duidelik.  Eiewillige godsdiens is nie vir die Here aanvaarbaar nie, ongeag die “goeie of opregte bedoelings” van die mens.

Hillsong en die mens

Laat ons daarmee dan vir ‘n oomblik ook stilstaan by die mens.  Ek sou argumenteer dat die een leer van die Christelike geloof wat deur mense die meeste misverstaan, die meeste afgewater of die meeste afgeskeep word is die totale verdorwenheid van die mens. Wanneer die mens probeer om sy eie gewete te sus deur hierdie leer te ignoreer of te verminder op een of ander manier, dan lei dit daartoe dat ons die Evangelie ook verkeerd verstaan. Die Bybel leer ons dat die mens se hart “bedrieglik is bo alle dinge” (Jer 17:9) en “dood is vanweë die sonde” en ook deur God alleen lewend gemaak kan word (Ef 2:1).

In die Hillsong aanbidding staan die mens sentraal.  Vir hulle het die mens ongelooflike bydraende waarde.  Die mens vervang Christus in die middelpunt van God se verlossingsplan.  In die vierde “We Believe”-stelling op hul webblad sê hulle dat die punt van Christus se menswording was “om Sy oorwinning te bewys en ons lewenslank te bemagtig.” Sy doel was dus om ons ons volle potensiaal te toon.  Dit is een van die groot dinge wat ons sien met die Hillsong kerk.  Die mens hoef nie te verander nie.  Die liedere beklemtoon maar net dat die Here jou volle potensiaal te voorskyn wil bring, en dat Hy nooit gekom het om jou te verander nie maar juis om net aan jou duidelik te maak wie jy nog altyd was.  Tog lees ons in Johannes 3 van wedergeboorte en 2 Kor 5:19 dat “Christus die wêreld met Homself versoen het”.  Die mens staan vir hulle byna onskuldig.

Vele male word die mens ook as die slagoffer voorgehou.  Die woorde wat mens in hul liedere vind is menige male woorde soos “trapped, enslaved, wounded, broken-hearted, hurting”.  Hoewel daardie woorde nie vreemd aan die bybelse leer is nie, is die oplossing wat hulle daarvoor gee nooit die versoening met God en die ontkoming van Sy wraak nie.  Eerder word ons ore gestreel met stellings soos “God is lief vir jou nes jy is” of “God verstaan hoe moeilik jou lewe is” of “God het so ‘n wonderlike plan vir jou lewe”.  Ons kan nie ontken dat daar werklik mense is wat ware slagoffers is nie, maar wanneer ons met die ewigheid te make het, moet selfs so ‘n persoon net soveel die diepte van sy eie skuld erken en sy nood vir ‘n Verlosser besef

Ten Slotte

Hoewel dit duidelik is dat nie alles wat in Hillsong se liedere geskryf is en dit wat in hul geloofstellings staan noodwendig blatante kettery is nie, word die waarhede wat soms wel verskyn so ongelooflik onderbeklemtoon dat dit afbreek doen aan die rykdom van die Evangelie.  Die doel van hierdie artikel was nie om afbreek te doen aan enige opregte gelowiges wat in die kringe van Hillsong beweeg nie.  Maar die realiteit is dat die Hillsong bediening ongelukkig ‘n swak en oppervlakkige bediening is waar diep, Christusgesentreerde teologie skaars is.  Kom ons versuim nie om aan te hou bid vir gelowiges wat onder hierdie bediening staan nie.  Mag ons ook verstaan hoe diep en swaar ons skuld is en hoeveel ons tekort skiet aan God se eis vir heiligheid.  Hoeveel ryker is die waarheid van ‘n ewige Verlosser, Jesus Christus, dan nie?  ‘n Verlosser wat mens geword het om sondaars te red en hul harte te verander sodat ons Hom juis mag loof en aanbid soos wat Hy van ons vra.