Toegewyde gedagtes...

In die geestelike stryd speel die helm van verlossing ‘n groot rol in sy beskerming, naamlik om beide ons hart en verstand te bewaar teen die Bose. Hoe doen die Bose dit? Watter hoop is daar vir ons? Hoe trek ons die helm van verlossing aan?

Toegewyde gedagtes...
Photo by Marco Antonio Casique Reyes / Unsplash
“En neem aan die helm van verlossing” (Efesiërs 6:17)

Met die gordel vasgegord, die borswapen op ons, ‘n paar skoene aan ons, en die skild in ons hand, lyk die oorlogsveld al baie meer oorleefbaar. Maar, daar is een probleem: ons kop is nog blootgestel - ‘n ligte kopstamp kan ons onbewus maak en die einde vir ons beteken. Om die rede het Romeinse soldate ‘n helm gedra. Dit het sy kop, gesig en nek beskerm. Die helm het ‘n groot kuif gehad en was versier met patrone om die rang van die soldaat aan te dui, maar ook om hulle herkenbaar te maak tydens die stryd.

In Jesaja 59:17 dra God ook ‘n helm, naamlik die helm van verlossing. God dra hierdie helm saam met die borsplaat van geregtigheid om deur sy geregtigheid die verlossing vir Israel te bewerk (Jesaja 51:5-8). Geregtigheid en verlossing loop hand-aan-hand in die gedeeltes van Jesaja (en ook elders in 1 Thessalonicense 5:8). In die wapenrusting van God word die hart geklee met [die borsplaat van] geregtigheid en die verstand met [die helm van] verlossing. Dit mag dalk toevallig klink, maar die Woord verbind gereeld hart en verstand. Christus het vir sy dissipels gesê dat uit die hart slegte gedagtes voortkom (Mattheüs 15:19). So kan ons dwaas word en ons onverstandige hart verduister (Romeine 1:21). Ons word daarom opgeroep om die Here lief te hê met ons hele hart en ons hele verstand (Mattheüs 22:37). Waar geloof soms gesien word as iets wat net aanvaar moet word, vorm denke egter deel van ons geloof (vgl., Lukas 1:3-4 en 2 Petrus 3:18).

In die geestelike stryd speel die helm van verlossing dus ‘n groot rol in sy beskerming, naamlik om beide ons hart en verstand te bewaar teen die Bose.

Hoe val die Bose ons verstand aan?

"elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God" (2 Korinthiërs 10:5)

Die Bose laat ons verstand nie in vrede nie. Wanneer die toegang na die hart goed beskerm word deur die borsplaat, loots hy sy aanval op die verstand. Hy doen dit deur skanse op te rig om ons van die goeie af weg te hou, soos byvoorbeeld: materialisme, geldgierigheid, eie plesier, en relativisme. Buiten dit kan ons ook persoonlike skanse oprig om ons van God se verlossing weg te hou. Dink maar aan skuldgevoelens, haat, ontevredenheid, en bekommernisse oor werk, jou loopbaan en die toekoms. Ons kan ook skanse oprig deur in die raamwerk van ons eie gedagtes en probleme na die preek te luister. Hierdie skanse hou ons gedagtes gevange, ons dink onsself dood, en mis die (gratis) verlossing wat God ons bied.

Maar daar is hoop…

"Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid" (1 Thessalonicense 5:8)

In 1 Thessalonicense 5:8 voeg Paulus hoop by die saligheid (wat dieselfde Griekse woord as verlossing is). In hierdie hoofstuk is Paulus op die toekoms gerig. Hy spoor ons aan om wakker te bly vir die koms van die Here, nie met vrees vir God se toorn nie, maar om die volmaakte saligheid te verkry deur ons Verlosser, Jesus Christus (vers 9-10). Hy het die bewerker van die ewige saligheid geword sodat daar vir ons verlossing kan wees (Hebreërs 5:8-9). Anders as aardse hoop as vae optimisme oor iets, is Bybelse hoop ‘n vaste oortuiging, selfs in so ‘n mate dat die hoop in ons mag wees (1 Petrus 3:15)! Ons toekomstige saligheid is gegrond in die verlossende werk van Christus (Efesiërs 1:7)!

Die hoop in ons is nie net ‘n uitkyk na ons toekomstige saligheid nie, maar dit deurdrenk ons daaglikse lewe:

  1. Hoop beskerm jou wanneer jy siek, hartseer, afgewys, alleen, moedeloos, of selfs die dood in die gesig staar. As Christus die dood oorwin het, sal Hy dan nie ook as Oorwinnaar triomfeer oor die beproewinge en swaarkry in jou lewe nie (Romeine 8:35-39)?
  2. Omdat die sonde nie meer oor ons heers nie (Romeine 6:14) en ons besef dat ons uit onsself nie die liggaam van hierdie dood kan verlos nie (Romeine 7:24), moedig die hoop, wat Christus in ons deur sy verlossing bewerk het, ons aan om te volhard in die stryd teen die sonde.
  3. Hoop gee ons die vrymoedigheid en sekerheid (boldness) om in geloof God se roeping in jou lewe na te jaag en die evangelie van vrede te verkondig. Deur ons helm te versier met God se verlossingswerk in ons lewe, kan ons elke dag in sy Lig lewe! Wanneer ons geloofsbelydenis doen, bely ons ons geloof, maar die uitlewing van ons geloof mag ons ook die sekerheid van die ewige lewe gee (1 Johannes 5:13). Die boldness van ons verlossing is dus nie ‘n saak van arrogansie wat vermy moet word nie, maar eerder die hoop van verlossing wat Christus in ons werk!

Om die helm op te sit

Met die hoop op die toekomstige saligheid, hang die hartklop van ons hoop nie af van ons huidige sukses en planne nie. Hierdie hoop word deur die Gees in ons bevestig, terwyl Hy ons in die waarheid lei, sodat ons op die toekomstige dinge mag hoop (Johannes 16:13). Deur die helm van verlossing op ons kop te sit, word ons gedagtes beskerm teen die Bose, maar ook teen ons eie sondige denke. Die skanse wat deur die Bose en onsself opgewerp word, om die kennis van God se verlossing te verdof, mag afgebreek word deur ons verstand te vul met die genade van God (2 Korinthiërs 10:4-5). Dink aan die ewige lewe (bv. as jy middagete eet) - die ewige lewe plaas jou hede in perspektief. Reflekteer op Christus se verlossingswerk (die Nagmaal is ‘n goeie geleentheid daarvoor). Groei in genade en kennis van God (2 Petrus 3:18). Bedink die dinge wat daarbo is (Kolossense 3:2) en alles wat eerbaar, regverdig, rein, lieflik, en loflik is (Filippense 4:8) - laat jou gedagtes besig wees met God en sy verlossingswerk vir jou! Jou verstand is wonderlik geskape deur God om die stryd te stry met die hoop op die toekomstige saligheid. Wy jou gedagtes toe aan die Here en gedenk elke dag sy verlossingswerk!

Vir verdere lesing

  • Voorafgaande oordenkings kan hierdie oordenking mooi in konteks plaas, veral https://olielamp.vgk.org.za/beklee-jou-hart-met-geregtigheid/
  • Alhoewel dit kortliks in die tweede paragraaf genoem word, is daar nog baie meer oor hoe ons denke deel vorm van ons geloof. Lukas het nagedink voordat hy sy evangelie geskryf het (Lukas 1:3-4) en Petrus het gesê dat sommige van Paulus se woorde swaar is om te verstaan (2 Petrus 3:18). Meer hieroor kan gevind word in Ds. HH van Alten se preek.
  • https://olielamp.vgk.org.za/vaste-hoop/

Bronne

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata