Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe

Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe
Photo by Bernd 📷 Dittrich / Unsplash

Jesus antwoord Thomas: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).

Daar is soveel paaie wat voor ons lê. Jongmense wat pas klaar is met skool, moet besluit of hulle verder wil studeer of wil begin werk. Ons wil graag dinge doen waarvan ons hou en sukses in die lewe behaal. Daar moet natuurlik baie belangrike keuses gemaak word. Die keuses wat ons maak, bepaal dikwels watter pad ons gaan stap. Dit beïnvloed ook die rigting waarin ons lewe beweeg. Dit is waar die gevaar van “speel met vuur” inkom: verkeerde keuses kan tot verslawing lei, byvoorbeeld dwelmgebruik, alkoholmisbruik en die verkeerde vriende met wie ons ons tyd deurbring.

Ons sien keer op keer hoe talentvolle jongmense, wat ryklik geseën is met gawes wat die Here aan hulle gegee het, uiteindelik op straat beland omdat hulle ’n verkeerde pad gekies het. Daardie keuse kan ’n groot invloed op hulle lewe hê.

Christus is die enigste Weg, die Waarheid en die Lewe. Wanneer ons Hom volg en volgens sy Woord lewe, help Hy ons om op die regte pad te bly. Maar wat bedoel Christus hiermee?

Ons sien eerstens dat Christus die Weg is. Mattheüs 7:13–14 sê: “Gaan deur die nou poort in, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Die nou poort simboliseer ’n lewenspad van geloof wat na die ewige lewe lei. Die breë pad is ’n gewilde pad waarop baie mense hulle bevind, maar die werklikheid is dat baie mense daarop verlore raak. Die smal pad verteenwoordig ’n lewe van geregtigheid. Dit vereis dat gelowiges doelbewuste keuses maak, wêreldse versoekings weerstaan en hulle verhouding met God bo persoonlike begeertes stel. Die smal pad word verbind aan geloof in Jesus Christus, wat self gesê het: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word” (Johannes 10:9).

Verder sê Jesus dat Hy die Waarheid is. Die waarheid word in die Woord gevind; die Woord is waarheid. Johannes 1:1 sê: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” In Johannes 8:32 sê Jesus vir die Jode: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Dit is ’n besondere en mooi verband: Jesus identifiseer Homself as die Woord en die Waarheid. Hy beklemtoon daarmee Sy unieke rol as die Weg na God en as die vergestalting van die goddelike waarheid.

Jesus Christus is die enigste Weg na die Vader. God het sy enigste Seun, Jesus Christus, gegee. Dwarsdeur die Evangelie volgens Johannes lees ons van die besondere verhouding tussen Christus en God die Vader.

Laastens, Christus sê dat Hy die Lewe is: “En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Johannes 6:35).

“Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Johannes 11:25).
“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12).
“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6).

Soveel keer sien ons hoe die woord “lewe” in die Evangelie volgens Johannes voorkom. Dit is so pragtig om te sien hoe Christus ons deur al sy “Ek is”-uitsprake wys hoe ons in Hom kan lewe. Liewe broers en susters, onthou om Christus te volg wanneer julle die pad vir die volgende twintig jaar en daarna stap. Dink na oor wat Christus sou doen. In moeilike sowel as goeie omstandighede: wanneer julle saam met Jesus Christus wandel, kan julle op Hom vertrou en weet dat Hy by julle is.

Coram Deo

"Leer my, HEER, u regte weë,
wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë,
om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer,
lei my dwalende gedagte;
want U is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte."

Psalm 25:2 (berymd)

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, ons dank U vir die geleentheid wat U aan ons gee om U te kies. Uit ons eie uit kan ons nie die goeie kies nie, sal U deur u Gees hierdie keuse in ons werk. Help ons, Here, om op die regte pad te loop en die nou pad te stap, naamlik die pad van geregtigheid. Daar is soveel hindernisse op die pad, maar U is altyd by ons, in goeie sowel as moeilike omstandighede. Dankie, Vader. Help ons om teen die sonde te stry. Ons bid dit alles in Christus se Naam. 

Amen

Bronne en verdere studie

Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius