Die Gawe van Werk
Hoe voel jy oor werk? Wat dink jy is die plek van werk in jou lewe? Hoekom werk jy?
Hoe voel jy oor werk? Wat dink jy is die plek van werk in jou lewe? Hoekom werk jy? Hierdie vrae het sentraal gestaan in die insiggewende aanbieding getitel “Die Gawe van Werk” wat tydens hierdie jaar se mini-kongres aangebied is deur br. Albert van Renssen. Tydens hierdie aanbieding het ons meer geleer oor hoe God werk bedoel het, die hedendaagse uitdagings in die werksplek en hoe gelowiges hulle daaglikse take as ‘n betekenisvolle roeping kan uitleef.
Werk word algemeen gesien as ‘n noodsaaklike euwel - slegs ‘n middel om ‘n salaris te verdien. Die Bybel leer ons egter ‘n ander werklikheid; werk was deel van God se oorspronklike ontwerp voor die sondeval. God het self gewerk toe Hy die aarde geskape het (Genesis 1:1, 31 en 2:1-3, 8-10). Verder is ons geskape na God se beeld (Genesis 1:26-28). Adam moes werk op die aarde. Al kon God self alles onderhou, het Hy nogsteeds hierdie werk vir Adam gegee. Verder weerspieël ons God se karakter deur ons arbeid en ons kreatiwiteit. Dit is waar dat na die sondeval daar baie moeites en swaarkry saam met werk gaan, maar werk is opsigself nie sleg nie, en die oorspronklike doel van werk het nie verdwyn nie.
Verder koppel mense maklik hulle identiteit aan hulle werk en laat toe dat hulle werk ‘n prioriteit in hulle lewens raak. Dit is egter nie hoe dit moet wees nie. Jou identiteit moet eerstens in Christus gevind word. Na die sondeval het Christus ons versoen met die Vader. Hierdeur het Hy ons vrygekoop van verdrukking (Galasiërs 3:10-13). Werk bring nogsteeds swaarkry, maar ons kan nou in blydskap en uit dankbaarheid hierdie werk doen, in gehoorsaamheid aan die opdrag wat ons by die skepping van God ontvang het (Efesiërs 2:8-10).
Hiermee saam moet ons dan ook aandag gee aan die gawes wat aan ons geskenk is. Ons moet as rentmeesters hierdie gawes ook gebruik om God en mekaar te dien (1 Petrus 4:10). Ons kan mekaar dien deur die gawes wat ons van God ontvang het, sowel as deur die finansies wat ons, as gevolg van die gebruik van hierdie gawes, het. Verder kry ons die opdrag om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie. Ons moet altyd die Here soek, selfs in ons werk en by ons werksplek, waar dit soms so maklik kan wees om die wêreld te volg.
Alles wat ons doen moet ons doen tot eer van die Here. Ons moenie net werk sodat ons raakgesien word, of net werk as iemand kyk nie. Ons moet die Here dien deur ons werk (Kolossense 3:17, 22-24). Hy heg waarde aan ons werk, en dus kan ons dit dan ook as waardevol beskou. Enige eerlike werk is ‘n betekenisvolle manier om God en ons naaste te dien. Martin Luther het dit soos volg verwoord: “The Christian shoemaker does his duty not by putting little crosses on the shoes, but by making good shoes, because God is interested in good craftsmanship.”
Daarom moet ons nie gelykvormig raak aan die wêreld met ‘n negatiewe gesindheid teenoor werk nie. Ons moet ook nie rondloop met die idee dat die minimum vereistes van ons werk al is wat ons moet doen nie en dat geen ekstra moeite of entoesiasme nodig is nie. Hierteenoor moet ons ook nie al ons aandag en tyd aan ons werk bestee nie. Daar moet ‘n balans wees. Ons moet ook rus, na ons familie omsien, ons kinders grootmaak tot eer van die Here, ons taak in die kerk verrig, gasvry wees en op nog baie ander maniere die Here en ons naaste dien. As Christene is ons vry en hoef ons nie as slawe van ons werk te leef nie.
Laastens kyk ons na werk en rus. Die bekende gesegde van Aristotle staan hier uit: “We work in order to enjoy leisure.” Rus ons om te kan werk of werk ons om te kan rus? In Genesis sien ons dat God eers gewerk het en toe gerus het, maar die doel van die skepping was nie sodat God kon rus nie - dit was om te kan geniet van Sy skepping. In Prediker 2:24 en 3:13 sien ons dat ons die vrugte van ons harde werk mag geniet, maar as Christene werk ons nie om te rus nie. Ons rus sodat ons krag kan hê om weer te kan werk tot eer van die Here.
Om te werk is beide ‘n gawe en ‘n opdrag van God. Laat ons dit in ons lewens doen tot eer van die Here om so vir Hom en ons naaste dien.
Geskryf deur Salomien van der Linden, VGK Bellville