Beklee jou hart met geregtigheid
Geregtigheid is ‘n swaar woord, maar wat beteken dit presies? Hoe kan ons daagliks die borswapen van geregtigheid aantrek om in die stryd te veg?
“met die borswapen van die geregtigheid aan” (Efesiërs 6:14)
‘n Romeinse soldaat gaan nie na die oorlogsveld sonder sy borswapen nie. Die borswapen beskerm die belangrikste organe, insluitend die hart. As hierdie organe tydens die oorlog beseer word, is dit ‘n noodlottige geval vir die soldaat. In die wapenrusting van God word die term “geregtigheid” dus aan ‘n noodsaaklike item, naamlik die borswapen, verbind. Paulus het nie die borswapen self benoem nie, maar eerder, ons vind hierdie verbintenis in Jesaja 59:12-21 waar God self die borswapen van geregtigheid aangetrek het om sy vyande te oorwin.
Geregtigheid is ‘n swaar woord, maar wat beteken dit presies? Hoe kan ons daagliks die borswapen van geregtigheid aantrek om in die stryd te veg?
Geregtigheid word ook soms in Engels uprightness genoem, met ander woorde: om in die regte verhouding tot God te staan. Dit sluit in dat ons in lyn lewe met sy wil, sy wet onderhou, en dat ons vry van skuld of sonde is. So ‘n persoon word regverdig voor God genoem. Met die sondeval het ons egter hierdie regte verhouding met God verbreek deurdat ons soos God wou wees (Genesis 3:5). Deur die verhouding met God te verbreek, het ons sondeskuld verwerf en verdien daardeur die ewige dood. Met ander woorde: ons is nie meer geregtig om voor God te verskyn soos ons is nie, die skuld is te groot, en ons kort versoening.
Toegerekende geregtigheid
“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23)
Maar God is genadig. Met die sondeval belowe God ‘n volmaakte Versoeningsoffer aan die mens, Iemand wat die gebroke band tussen God en mens sal herstel (Genesis 3:15). Deur God se genade en Christus se versoeningsoffer aan die kruis word ons ten eerste vrygestel van die sondeskuld en ten tweede word aan ons die gawe van die ewige lewe gegee. Dit is in so ‘n mate dat sy geregtigheid “só volmaak aan ons geskenk is asof ons self vir al ons sondes betaal het en geregverdig is” (Nagmaalsformulier). Dit is toegerekende geregtigheid: God plaas die volmaakte geregtigheid van Christus op ons rekening sodat ons sondeskuld volledig afbetaal is.
Uitgeleefde geregtigheid
Maar hoekom sal ons dan geregtigheid moet aantrek as die geregtigheid alreeds aan ons geskenk is? As dit toegerekende geregtigheid was, sou Paulus nie ons beveel het om geregtigheid aan te trek nie, want ons is alreeds deur Christus geregverdig (Romeine 8:30). In Efesiërs 6 vestig Paulus die aandag op geregtigheid wat uitgeleef word. Noudat ons weet dat Christus ons sondeskuld volledig afbetaal het, wat doen ons? Hoe lyk jou lewe anders as jy besef jy is geregverdig voor God? Uitgeleefde geregtigheid is die nuwe lewe wat voortvloei uit die besef dat God ons uit genade geregverdig het. Hierdie besef moet deurdring tot ons hart, want ons hart is bedrieglik en verdorwe (Jeremia 17:9). Paulus plaas daarom geregtigheid voor die hart.
In die stryd is dit belangrik om te kyk wat ons vyand, Satan, doen sodat ons die geskenkte geregtigheid van God én die herstelde verhouding met God miskyk. Satan val ons aan uit twee rigtings. Soms wil hy hê dat ons moet dink dat ons sonde te groot is om ooit voor God regverdig verklaar te kan word (m.a.w. dat ons God se genade miskyk). Ander kere wil hy ook hê dat sonde nie regtig saak maak nie, want ons is klaar geregverdig voor God. Albei leuens lei ons weg van Christus en God se genade.
Wanneer daar ‘n gaping in die borswapen is, vind Satan ingang tot ons hart. Spreuke 4:23 sê dat uit die hart die oorspronge van die lewe is. Satan se ingang tot ons hart is daarom nie net ‘n persoonlike aanval nie, maar dit filtreer deur tot ons arbeid in God se koninkryk: deur ons werk, verhoudings, skool, universiteit, ens. Maak daarom seker dat jou borswapen geen gaping het vir Satan om jou hart te wond met leuens nie.
Op ‘n praktiese noot het Paulus in die voorafgaande verse, nog voordat die wapenrusting van God ter sprake was, alreeds ‘n fondasie vir ons gelê: beproef wat vir die Here aanneemlik is (5:10), let op hoe jy leef (5:15), soek die wil van die Here (5:17), word vervul met die Gees (5:18), sing tot eer van die Here (5:19), wees onderdanig aanmekaar (5:21), wandel in die huwelik soos God beveel het (5:22-33), wees aan jou ouers gehoorsaam (6:1-4), en doen jou werk met blymoedigheid (6:5-9). Verder skryf Paulus ook dat ons vergewingsgesind moet wees juis dat ons nie deur Satan bedrieg sal word nie (2 Korinthiërs 2:10-11). In die gemeenskap van heiliges mag ons ook uitreik en sorg vir mekaar se harte sodat ander nie afvallig word en deur die sonde verlei word nie (Hebreërs 3:12-13). In toekomstige oordenkings gaan ons kyk na geloof, gebed, en die werk van die Gees om verder jou hart te beskerm teen die aanvalle van Satan.
Ons is verordineer om meer en meer gelykvormig te word aan die beeld van Christus (Romeine 8:29). Dit maak dat ons nie anders kan as om die wapenrusting, en spesifiek, die borswapen van geregtigheid aan te trek en ‘n lewe tot eer van God te leef nie. Dra daarom die borswapen van geregtigheid, nie op grond van jou werke nie, maar op grond van sy genade en barmhartigheid wat aan ons bewys is deur sy Seun (Titus 3:5). In Christus mag ons hierdie geregtigheid uitleef en uitstraal na ‘n donker wêreld!
Coram Deo
Deur die sondeval het ons ewige sondeskuld verwerf, maar deur God se genade en barmhartigheid het Hy sy eniggebore Seun gestuur om as die volmaakte versoeningsoffer te dien vir al ons sondes. Slegs deur Christus is ons nou regverdig voor God verklaar. Deur die borswapen van geregtigheid aan te trek, leef ons uit die geregtigheid wat Christus aan ons geskenk het en beskerm ons ons hart teen Satan se aanvalle terwyl ons sy geregtigheid in ‘n donker wêreld uitleef.
Gebed
Onse Vader, ons verdien die ewige dood. Deur die sondeval het ons die regte verhouding tot U verbreek en kan nie onsself red nie. Maar U wat genadig en barmhartig is, het u Seun vir ons gestuur om ons vry te stel van alle skuld sodat ons siel vry mog raak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers. Ons dank U vir u verlossingswerk aan die kruis dat ons nou vry die wêreld mag ingaan, geklee met die borswapen van geregtigheid. Ons vra U of U ons sal versterk in die stryd dat ons Satan geen plek in ons hart sal gee nie. Daarby is ons swak, ons val in sondes. Ons bid daarom of U genadiglik ons harte van sonde wil reinig sodat ons geregtig voor u troon mag nader deur u Seun. Aan U kom alle eer en glorie toe, tot in alle ewigheid! Amen.
Vir verdere lesing
- Jesaja 59:12-21
- Filippense 3:8-9
- Perfect Unity deur Ralph Cunnington verduidelik mooi hoe die sondeval die verhouding tussen God en mens verbreek het en hoe Christus die eenheid herstel het.
- Jaag die goeie ná kyk na praktiese maniere om jou lewe te vul met die goeie.
Bronne
- Efesiërs 6 | Die borsplaat van geregtigheid (Nagmaal) | Ds. HH van Alten | [Link]
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 25-36). Crossway.
- https://www.desiringgod.org/articles/guard-your-heart-from-evil
- https://www.crossway.org/articles/10-key-bible-verses-on-the-heart/
- https://www.gotquestions.org/breastplate-of-righteousness.html
Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata