Memorisering van tekste elke dag
Baie van ons moes as kinders vir katkisasie tekste of gedeeltes van die belydenisskrifte memoriseer. Die memorisering van tekste is dus nie ‘n vreemde konsep vir die meeste van ons nie. Maar watter waarde het die memorisering van tekste? Is dit vir jou ‘n vreugde om tekste te memoriseer?

Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Pretoria-Annlin
Baie van ons moes as kinders vir katkisasie tekste of gedeeltes van die belydenisskrifte memoriseer. Die memorisering van tekste is dus nie ‘n vreemde konsep vir die meeste van ons nie. Maar watter waarde het die memorisering van tekste? En daarmee saam, is dit vir jou ‘n vreugde om tekste te memoriseer?
In Ps 119 sê die digter: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge!” (Psalm 119:11-12, AFR53). En later sê die digter: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” (Psalm 119:97, AFR53). Vir hierdie gelowige was die leer en bepeinsing van God se Woord nie ‘n koue en bloot akademiese teorie nie, maar dit was ‘n baie groot vreugde!
Ons kyk daarom in hierdie artikel na drie punte:
- Die opdrag om die Here se Woord te bepeins
- Waarom memorisering van tekste waardevol is
- Hoe om te memoriseer
1 - Die opdrag om die Here se Woord te bepeins
Die woord bepeins beteken om op ‘n beskouende of ‘n noukeurige manier oor iets na te dink. Om die diepte van ‘n saak te probeer insien.
In Deuteronomium 6:6-9 kry God se verbondsvolk in die Ou Testament die opdrag dat die woorde wat die HERE beveel, in hulle hart moet wees. Prakties moes hulle dit inskerp by hul kinders en orals daaroor praat. Hulle moes dit as ‘n teken bind op hul hand en dit op die deurposte en poorte skrywe.
In die Nuwe Testament skryf Paulus: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”(Filipense 4:8, AFR53). In ‘n ander brief skryf Paulus dat ons die dinge daarbo moet bedink waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie die dinge wat op aarde is nie (Kolossense 3:1-2). En bietjie later weer lees ons dat die woord van Christus ryklik in ons moet woon in alle wysheid (Kolossense 3:16).
Dit is duidelik dat die Here wil hê dat ons gedagtes vol moet wees van die Hom en sy Woord. Om tekste te memoriseer is ‘n praktiese manier om ons gedagtes te vul met sy Woord en dit te bepeins - om na te dink oor wat die teks beteken en watter implikasies dit vir ons lewens het. So kan ons ook ons gedagtewêreld onder die Koningskap van Christus plaas en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Korinthiërs 10:5).
2 - Waarom memorisering van tekste waardevol is
Daar is baie redes, maar in hierdie artikel kyk ons kortliks na drie redes:
Eerstens help die memorisering van tekste om versoekings te weerstaan. Toe Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is, het Hy eenvoudig elke keer geantwoord: “Daar is geskrywe… daar is geskrywe… daar is geskrywe…” (Matthéüs 4, AFR53).
As deel van die wapenrusting gee God vir ons die swaard van die Gees, dit is die woord van God (Efésiërs 6:17). Tydens ‘n oorlog is dit baie belangrik dat ‘n soldaat sy swaard heeltyd met hom saamdra en dat hy opleiding ontvang het oor hoe om ‘n swaard te hanteer. Hy moet gereed wees om enige tyd sy swaard te ontbloot en die stryd aan te pak, anders sal die vyand hom maklik kan oorrompel. Net so moet ons swaarde nie net in die boekrak of op ons bedkassies lê nie. Ons moet die Bybel in ons hart en verstand dra en weet hoe om die Bybel reg te gebruik om sodoende in die krag van die Gees weerstand te bied teen versoekings.
Tweedens verryk die memorisering van tekste jou gebedslewe. Ons sien dikwels in die Bybel hoe gelowiges ander gedeeltes van die Bybel in hul gebede aanhaal. Voorbeelde is Nehemia (Nehemia 1), Daniël (Daniël 9) en die kerk in die Nuwe Testament (Handelinge 4). Nog ‘n bekende voorbeeld is toe Jona in die vis was. As mens sy gebed in Jona 2 ontleed, sal mens agterkom dit bestaan uit ten minste 9 Psalms wat hy aanhaal.
Derdens is memorisering van tekste nodig vir ons gesprekke met ander mense. Indien jy vir ander mense bemoedig, vermaan of die evangelie verkondig, gaan jy nie na hulle met jou eie opinie of oorredende woorde van menslike wysheid nie. Nee, jy gaan na ander mense met die Woord van die Here - sy Woord wat gesag het oor ons lewens.
3 - Hoe om te memoriseer
Die manier om te memoriseer sal van persoon tot persoon afhang, en sal vir een persoon miskien makliker wees as vir ‘n ander. Maar die belangrikste is om te sien dat die menslike brein ontwerp is met die vermoë om te leer. Deur te leer word paadjies in jou brein gevorm (verbindings tussen neurone), en deur herhaling word die neuronverbindings versterk.
Deuteronomium 6 sê dat ouers die woorde van die HERE by hulle kinders moet inskerp. Die 2020-vertaling sê dat dit vir die kinders herhaal moet word. Dus: herhaling.
Jy moet egter vir jouself ‘n manier vind om effektief te memoriseer. Algemene raad of metodes is om die vers uit te skryf, om dit op flitskaarte te plaas of selfs om dit die agtergrond van jou selfoon te maak.
Maak ‘n lys van verse wat jy graag wil memoriseer, begin klein en bou dit stelselmatig op. ‘n Goeie metode is om byvoorbeeld Maandag tot Vrydag elke dag een vers te leer en dan die naweke te gebruik om die verse te hersien.
Om af te sluit: die Here wil hê dat ons gedagtes gevul moet wees met die rykdom van sy Woord. Dit gaan inspanning en konsentrasie verg, maar mag die Here gee dat ons met vreugde sy Woord bestudeer, Hom leer ken en dan ook daders van die Woord sal wees.
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp