Maak gereed vir die oorlog!

Oorloë voel ver van ons af, en dit is moeilik om die volle realiteit daarvan te verstaan. Miskien het jy al Gladiator of ‘n soortgelyke film gekyk, miskien sien jy foto’s en video’s van oorloë op die Internet, of miskien kom jy agter jou beursie is leër nadat jy jou kar volgemaak het...

Maak gereed vir die oorlog!
Photo by Lawrence Hookham / Unsplash
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” (Efésiërs 6:10-13)

Efesiërs 6 bring ons op 'n oorlogsveld...

Oorloë voel ver van ons af, en dit is moeilik om die volle realiteit daarvan te verstaan. Miskien het jy al Gladiator of ‘n soortgelyke film gekyk, miskien sien jy foto’s en video’s van oorloë op die Internet, of miskien kom jy agter jou beursie is leër nadat jy jou kar volgemaak het... Van die ouer mense onder ons verstaan die realiteit van ‘n oorlog beter - miskien het jou pa in die weermag gedien, maar die realiteit word veral die beste deur ons grootouers verstaan wat geleef het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Tog kry ons te doen met ‘n oorlog in Efesiërs 6:10-20, wat is hierdie oorlog en hoe is dit ‘n realiteit vir elke mens op aarde?

Voordat ons op die oorlogsveld kom, skryf Paulus aan die Efesiërs om kragtig in die Here te word (vers 10). Hierdie krag is dieselfde Griekse woord (“ischus”) wat in Efesiërs 1:19-20 gebruik word om God se krag in Christus se opwekking uit die dode te beskryf. Die krag van sy sterkte waarmee ons die stryd moet voer is daarom dieselfde krag waarmee Christus uit die dode opgewek is. Met hierdie krag kan ons die oorlogsveld ingaan, maar hoe lyk hierdie oorlogsveld?

Efesiërs 6 se oorlogveld lyk anders - nie ‘n stryd wat beperk is tot finansiële, liggaamlike, emosionele, of sosiale vlak nie, maar eerder 'n oorkoepelende geestelike stryd wat gevoer word (vers 12). Ons is reeds verkies en verenig met Christus in die hemel (Efesiërs 1:3-4, 2:6, 3:10), en mag deel hê in sy oorwinning, maar die oorwinning bring ‘n voortdurende daaglikse werklikheid op aarde. Die kerk van Christus word onderdruk deur dieselfde teenstander wat in Genesis 3:15 as ‘n slang verskyn en in Openbaring 12:9 as ‘n draak uitgebeeld word. Hierdie teenstander is aktief daarop uit om te verslind (1 Petrus 5:8).

Die inwoners van Efese was bekend met towery en bonatuurlike kragte (Handelinge 19:18-19), en was daarom ook nie onbekend met die realiteit van Satan se bonatuurlike krag nie. Maar, die bekeerlinge in Efese is nie meer Satan-slawe nie (Efesiërs 2:1-3), maar nou eerder teenstanders van hom. Op hierdie oorlogsveld bevind hulle hulself nou geklee met ‘n ander uniform, met ‘n uniform van onverganklikheid (1 Korinthiërs 15:53-54).

Waar is hierdie oorlogsveld? Paulus skryf doelbewus oor die allerdaagse lewe voor ons by vers 10 uitkom (huwelik, familie, en werk). Dit was in die allerdaagse lewe waar die Satan in Genesis 3:1 die mens tot sonde verlei het. Ons kan geneig wees om te dink dat al Satan se aanvalle soortgelyk aan ‘n skielike gebeurtenis soos Job se teëspoed geloots word (Job 1 en 2). Sulke skielike gebeurtenis kan vergelyk word met die “dag van onheil” in vers 13. Jesus het self die “dag van onheil” ervaar toe almal Hom verlaat het (Lukas 22:53). Maar, versoekings is rondom ons, die begeerte is binne ons en die geleentheid is altyd daar om te sondig. Dawid het op ‘n doodgewone aand op die dak van sy paleis gewandel en in sonde geval (2 Samuel 11:1) - ‘n suksesvolle aanval van die Satan om die koning van God se verbondsvolk in sonde te laat val. Maar die Satan werk ook op nog meer subtiele maniere. 2 Korinthiërs 11:14 sê dat hy selfs homself kan verander in die engel van die lig om geduldig teen die stroom te werk totdat ons in sonde val (Psalm 1). Dit is daarom dat Paulus in Efesiërs 4:27 ons beveel dat ons die duiwel geen plek moet gee nie.

Ons is gewone gebrekkige, sondige, vlees-en-bloed mense (soos Dawid in Psalm 51 bely). Wie is ons om alleen in die stryd teen Satan te probeer staan? Maar, daar is hoop: God se seëninge het ons s’n geword in Christus wie sy en ons vyande oorwin het (Efesiërs 1:15-23). Dit is dáárom dat ons, soos vers 13 beveel, die volle wapenrusting van God moet opneem.

Vers 14-18 lê vir ons die volle uitrusting vas wat ons as gelowiges nodig het om hierdie geestelike stryd te voer - nie deur ‘n fisiese swaard te gebruik soos die een wat Petrus gebruik het om Malgus se oor af te kap nie (Johannes 18:10-11), maar ‘n buitengewone uitrusting wat ons op ons kan neem om die stryd aan te pak. Hierdie oordenkingseries oog om elke item van die wapenrusting van God te bestudeer in diepte, maar ook om die item in die geheelbeeld van die wapenrusting te sien. Deur die wapenrusting op ons te neem, mag ons, deur die krag van God in Christus se oorwinning, staande bly en seker wees dat die poorte van die doderyk ons nie sal oorweldig nie (Mattheüs 16:18).

Coram Deo

Ons daaglikse stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar eerder teen die bose geeste in die lug. Ons kan nie alleen hierdie stryd aanpak nie en die besef bring gelowiges na Christus waar Hy deur die krag van sy sterkte ons toerus met die wapenrusting om hierdie stryd te stry tot die voleinding van die wêreld. Mag ons elke dag die krag van bo kry om staande te bly in hierdie stryd!

Gebed

Onse Vader wat in die hemele is, U wat deur die krag van u sterkte die dood oorwin het deur Christus se opstanding. Ons erken ons is swak en sondig en kan nie uit onsself staande bly teen die liste van die duiwel nie. Daarom het ons U nodig. Ons dank U vir u genade dat ons deel mag hê aan Christus se oorwinning. Rus ons toe met u wapenrusting en versterk ons in ons daaglikse stryd en in die dag van onheil sodat u Naam alleen daardeur verheerlik mag word! Ons bid dit in Christus se Naam, Hy wat ons deur sy bloed aan die kruis met U versoen en verenig het. Amen.

Vir verdere lesing

  • 1 Korinthiërs 15 handel oor Christus se oorwinning oor die dood en dat gelowiges van hierdie oorwinning mag geniet as ons standvastig en oorvloedig in die werk van die Here staan.

Bronne

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata