Dra die gordel van waarheid!
‘n Romeinse soldaat se gordel was ‘n simbool van militêre status, dit het sy rol en posisie gewys. Dit het sy identiteit as soldaat sigbaar gemaak. In Efesiërs 6 word hierdie gordel die rol van waarheid gegee wat gaan oor die waarheid van God soos Hy Homself in Christus en sy Woord openbaar.
“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord” (Efesiërs 6:14)
Die beskrywing van die wapenrusting van God begin met die opdrag om ‘n gordel te dra. ‘n Romeinse soldaat se gordel was ‘n simbool van militêre status, dit het sy rol en posisie gewys. Dit het sy identiteit as soldaat sigbaar gemaak. In Efesiërs 6 word hierdie gordel die rol van waarheid gegee. Hierdie waarheid gaan oor die waarheid van God soos Hy Homself in Christus en sy Woord openbaar.
Die wêreld loop oor van relativisme - die begrip dat waarheid, moraliteit, en kennis nie ‘n vaste grond het nie, maar eerder relatief is tot kulturele, historiese, of persoonlike raamwerke. Dit klink aanloklik, want wie wil nou in ‘n sisteem van leerstellings leef as die skoen my nie pas nie? Klink dit nie miskien bekend nie? Tydens die Rigterstydperk het relativisme ook gereeld geseëvier (vgl. Rigters 21:25) en die volk het vanweë geestelike louheid in sonde geval.
Wat doen Satan?
Die Ware God waarsku die gemeente van Laodicéa: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Daar is geen middelgrond nie, ons kan nie twee here dien nie (Mattheus 6:24). Satan is tevrede wanneer ons geloof lou is. Hy bevraagteken ons geloof deurlopend: “Het jy regtig die gordel van waarheid nodig vandag?”
Van die begin af (Johannes 8:44), bevraagteken Satan die waarheid: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1). Satan probeer alewig die idee skep dat ‘n gelowige nie vryheid het nie en sal so voortgaan tot die koms van Christus (2 Thessalonicense 2). Net so kan Christenwees vandag soos ‘n lewenslange beperking voel: “Christene mag nie werk op Sondae nie, mag nie van geld hou nie, mag nie saambly voor die huwelik nie” of in kort: “Christene mag nie net doen wat hulle wil nie”. Sy poging om die waarheid te verdraai was net so aktueel toe Christus op aarde was. Van die versoeking in die woestyn tot op die kruis het Satan probeer om die waarheid te vervals (vgl. Mattheus 4:1-11, Johannes 19:21-22, en Matt 27:39-43).
Wat doen ons?
“En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” (Johannes 3:19)
Maar buiten Satan se leuens kies ons van nature ook teen God. Ons eie sondige natuur dryf ons na wêreldse plesiere (1 Johannes 2:16), maar deur die krag van die waarheid kan ons staande bly. God gooi sy reddingsboei uit na ons deur sy Seun en deur sy Gees. As ons nie omgord is met die waarheid nie, dan val ons maklik weg in die golwe van vleeslike begeertes. Of ons slaap en of ons wakker is, ons gedagtes is altyd besig, van nature geneig om te dwaal. Elke dag bring genoeg versoekinge om God se goedheid, voorsiening, krag, wysheid, en liefde te bevraagteken of te vergeet.
Wat maak dit dan so moeilik vir ons om eenvoudig die waarheid ons s’n te maak? Die waarheid wys ons weg van onsself - soos Johannes die Doper sê: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30). Relativisme soek binne onsself na identiteit, stabiliteit, en status. Oosterse gelowe, byvoorbeeld, glo dat ware vrede in die mens self gevind word. Die mens wil dus in beheer wees en self bepaal hoe sy lewe moet lyk. Ons kyk weg van díé Lig en dink dat ons in ‘n donker wêreld ‘n lig sal kan vind wat inpas by ons lewensstyl.
Wat het Christus gedoen?
Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here… en geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.” (gedeeltelik Jesaja 11:1-5)
Sal…wees.
Nie “omgord wanneer dit nodig was” nie.
Altyd.
In sy volmaaktheid het Christus nooit afgewyk van sy trou aan die waarheid nie. Waar die eerste Adam geval het, het die tweede Adam staande gebly en nie geval vir die Satan se leuens nie. Toe Jesus in die woestyn versoek is, het Hy getrou aan die Skrif gebly deur die Satan met die Woord teen te staan. By sy kruisiging was Hy bespot en bespuug, maar Hy het trou gebly aan die wil van sy Vader (Johannes 6:38). Deur getrou te bly en die gordel van waarheid te dra, het Hy die oorwinning behaal. So is die gordel van waarheid, wat ons op ons moet neem, nie ‘n splinternuwe gordel nie, maar eerder ‘n oorlogsgeteisterde gordel wat deur Christus self gedra is. Die goeie werk wat God in ons begin het, sal voleindig word tot op die dag van Christus se wederkoms (Filippense 1:6). Dis daarom dat ons onsself kan omgord en ons eie heil kan uitwerk met vrees en bewing, want dit is God wat in ons bekwaam om sy wil uit te voer (Filippense 2:12-13).
Hoe dra ons dit prakties?
Bly in die Woord
“As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32)
Ons word beveel om hierdie oorlogsgeteisterde gordel te dra. Jesus sê dat dié wat in sy woord bly, waarlik sy dissipels is en dat die waarheid hulle sal vrymaak. Dawid vind ook vreugde in die waarheid van die Here se verordeninge (Psalm 19:7-11). As ons daarom in die Woord bly, kan ons met vreugde as Christene leef en staande bly teen die leuens van die duisternis.
Herinner jouself aan die waarheid
“En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22)
Wanneer Bybellees ‘n roetine raak, kan dit die geval wees dat mens belangrike dele van die waarheid vergeet of miskyk. ‘n Analogie: as jy ingenieurswese studeer doen jy calculus in die eerste paar jare. As jy ‘n ervare ingenieur vra om een van die somme te doen, sal hy eers weer sy geheue moet verfris.
Net so, om elke dag die stryd te kan stry, moet ons onsself voed met die waarheid en groei daarin sodat ons nie deur golwe rondgeslinger word nie (Efesiërs 4:14-15). Prakties kan dit goed wees om van tyd tot tyd deur die Belydenisgeskrifte te gaan, of om vir jouself ‘n paar “reminders van waarheid” neer te skryf - nie motiverende verse nie, maar waarhede wat kontekstueel geanker is in die Skrif. Hier is ‘n paar voorbeelde:
- In Christus is ek ‘n nuwe skepsel (2 Korinthiërs 5:17): My identiteit moet gevind word in Christus, nie in my loopbaan, vriende, familie, verhouding, ras, of bankrekening nie.
- In Christus is daar geen veroordeling vir die wat in Hom is nie (Romeine 8:1): Christus het volledig vir my sondes van gister, vandag, en môre betaal. Deur my sondes te bely, reinig Hy my van my ongeregtigheid (1 Johannes 1:9).
- In Christus, is daar ‘n lewende hoop aan my geskenk (1 Petrus 1:3-4): Tydelike lyding hier op aarde laat my uitsien na die ewige vreugde. Vertrou in sy beloftes en weet dat Hy my nie sal verlaat nie (Openbaring 21:3)
Bid vir lig en leiding
“Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:4-5)
Christus het onder ons kom woon en ons die weg gewys deur Homself (Johannes 14:6). Na sy Hemelvaart stuur Hy sy Gees om in ons harte te kom woon, Een wat ons in die waarheid sal lei (Johannes 16:13). Daarom mag ons ook saam met Dawid die Here vra om ons te deurgrond, om lig te skyn in die donker plekke van ons hart, en om ons ‘n ewige weg te wys (Psalm 139)!
Vir verdere lesing
- 1 Johannes 1
- Johannes 8:12-59
Bronne
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 25-36). Crossway. Link
- https://www.crossway.org/articles/have-you-put-on-the-belt-of-truth-today/
- https://www.crossway.org/articles/christians-must-be-truthful/
- https://www.crossway.org/articles/10-key-bible-verses-on-truth/
Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata