Dra God se Naam

Wat as jy iemand was met basies geen kennis van die Christelike geloof nie, en jy hoor hoe Christene sê dat dit jou geloofsplig is om vir Trump te stem, of dat dit God self is wat Amerika help om Iran aan te val? 

Dra God se Naam
Photo by Daniel Leone / Unsplash

Die onlangse gebeure in Amerikaanse politiek het veroorsaak dat Christendom meer gereeld in die nuus verskyn. Of dit nou Pete Hegseth, Verenigde State se Sekretaris van Verdediging (later aangewys as Sekretaris van Oorlog), is wat Psalm 144 aanhaal in verband met die oorlog in Iran (Stanley, 2026): “Geloofd sy die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te voer” (Psalm 144:1).

Of Paula White-Cain, Trump se “Spiritual advisor”, wat tydens die Withuis se Paasete Trump se lyding en oorwinning met die van Jesus Christus vergelyk (Closson, 2026). Dieselfde Paula White-Cain het tydens die verkiesing verkondig: “Saying no to President Trump would be like saying no to God.” (Dowdell, 2025). 

Waarskynlik voel jy nogal ongemaklik met hierdie uitsprake, maar wat maak dit jou nou eintlik? Dit is Amerikaanse politiek, dit is ver van ons af, en hulle sê en doen in elk geval baie ander dinge waarmee ons nie noodwendig saamstem nie. 

Wel het jy al ooit gedink wat dit vir ongelowiges beteken? Wat as jy iemand was met basies geen kennis van die Christelike geloof nie, en jy hoor hoe Christene sê dat dit jou geloofsplig is om vir Trump te stem, of dat dit God self is wat Amerika help om Iran aan te val? 

Op ‘n soortgelyke manier kan ons vra: wat moet die heidene nie dink as een groep Christene hulle vir LGBTQIA+ beywer, terwyl ‘n ander groep (tereg) uit die Bybel bewys dat God sulke dade haat? Of as een of ander prediker beweer dat Jesus op ‘n spesifieke datum gaan terugkom en dit dan nie gebeur nie? Of as jy langs die pad groot borde sien wat die voorspoedsteologie adverteer? 

Al hierdie dinge laat mens dink aan Romeine 2:24: “die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster”. Want dit is hierdie tipe dinge wat die sekulêre media bereik, dit is hierdie tipe dinge wat die wêreld se beeld oor die Christendom vorm. 

Dit bring ons by die derde gebod: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie”. Die woord wat hier met “gebruik” vertaal word (tissa) kan ook as “optel” of “dra” vertaal word. As Christene dra ons God se Naam en dit beteken baie meer as net dat “Christen” ‘n vervorming van die woord “Christus” is. 

In Eksodus 23:21 sê God die volgende oor die Engel wat Hy stuur om die volk deur die woestyn te lei: “Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.” Uit hierdie vers is dit duidelik dat die Engel, wat God se Naam dra, deur die volk eerbiedig moet word omdat Hy ‘n direkte verteenwoordiger van God self is. 

Nog ‘n voorbeeld om die konsep te illustreer, word in die offerdiens gevind. Ons lees in Eksodus 28:12 “En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene vir die kinders van Israel — Aäron moet hulle name op sy twee skouers dra voor die aangesig van die Here om hulle in gedagtenis te bring.” En weer in vers 29 “So moet Aäron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis te bring voor die aangesig van die Here gedurigdeur”. Deur die stamme se name op sy heilige priesterklere te dra, het Aäron die volk voor die Here verteenwoordig. 

Om iemand se naam te dra beteken om hulle te verteenwoordig, en die wonderlike is dat God sy Naam oor ons uitspreek. Hy lê sy Naam op ons: “Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.” (Num 6:23-27)

Ja, dit is inderdaad wonderlik en ‘n groot seën, maar saam met die seën kom daar ook ‘n groot verantwoordelikheid. As naamdraers van God is ons sy verteenwoordigers hier op aarde. En in ‘n tyd soos vandag is ons plig net nog groter. Mense se beeld van God word gevorm deur Christene se doen en late. 

Hoe leef jy? Besef jy dat jy so moet lewe dat mense kan sien wie God is? Leef so dat mense kan besef wat regte Christenskap is, want “hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?” (Romeine 10:14)

Jy is ‘n naamdraer van die God wat Lig is (1 Johannes 1:5), wees dan ‘n lig (Mattheüs 5:14-16) wat God verheerlik, asook die donker verdryf (Efesiërs 5:8). Jy is ‘n naamdraer van God: “wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur” (Efesiërs 5:2). Jy is ‘n naamdraer van God: “trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is” (Efesiërs 4:24 - 2020). Jy is ‘n naamdraer van God, en Hy roep ons op: “Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is Heilig” (Levitikus 19:2).

Bronne

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria