Is ons die enigste Ware kerk? - NGB Artikel 28

Daar is baie verskillende kerke. Net so was daar in die tyd van die Reformasie Rooms-Katolieke, Ortodokse, Gereformeerde en baie ander kerke. In vandag se tyd is ons situasie baie meer ingewikkeld - met teologiese kultusse tot nie-kerklike organisasies, en alles tussenin.

Is ons die enigste Ware kerk? - NGB Artikel 28
Photo by Akira Hojo / Unsplash

Geskryf deur Kirsten de Beer, VGK Kaapstad

Daar is baie verskillende kerke. Net so was daar in die tyd van die Reformasie Rooms-Katolieke, Ortodokse, Gereformeerde en baie ander kerke. In vandag se tyd is ons situasie baie meer ingewikkeld - met teologiese kultusse tot nie-kerklike organisasies, en alles tussenin. So watter een is die ware kerk?

Die Woord van God is die Bron van ons lewe as Christen, en die Gids waarvolgens ons moet leef. So wat sê die Bybel oor die kerk? In Handelinge 2:38-40 lees ons dat Petrus die Jode oproep tot geloof en bekering in Christus: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word”. God wou hê dat Sy volk onderskei moes word van die wêreld en nie deel raak van wêreldse dinge nie. Daarom word ons gedoop as verbondskinders. Verder in Handelinge lees ons dat die kerk volhard het in verskeie dinge: lering, nagmaal, gebed, verbondenheid aan mekaar, lofprysing en bywoning van die eredienste, wat aansluit by NGB 28 en 29. Dit stel vir ons ‘n voorbeeld van hoe die ware kerk moet lyk.

NGB 28 sê dat alle gelowiges verplig is om deel te wees van ‘n “heilige vergadering”. As lede van die liggaam van Christus moet ons onsself onderwerp aan God, ons medegelowiges dien, en onsself onderskei van die wêreld. Die Apostoliese Geloofsbelydenis praat nêrens van verskillende kerke nie, maar slegs van die een “heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. In hierdie verband lees ons in NGB 29 dat die ware kerk onderskei kan word van die valse kerk deur middel van verskeie eienskappe.

Daar is drie kenmerke van die ware kerk: suiwere prediking van die Woord van God, die gebruik van die sakramente soos God dit ingestel het en kerkdissipline.

  • Suiwer prediking behels dat ons as sondaars net gered en verlos kan word deur die genade van God alleen, deur geloof in Christus alleen, vir die verheerliking van ons God, die Almagtige, alleen, soos geopenbaar in die Skrif.
  • Daar is net twee sakramente: die doop en die nagmaal. Die doop word bedien aan die kinders van gelowige ouers in die Naam van die drie-enige God, terwyl die nagmaal net bedien word aan belydende lidmate deur die gebruik van brood en wyn wat in die Naam van Christus geseën word.
  • Toesig oor die prediking van die Woord en dissipline in die kerk word deur die ouderlinge gehandhaaf sodat die kerk God se heiligheid en die waarheid van die Woord reflekteer. Dit beskerm die kerk teen valse leer, beskerm en voed die kudde en bewaar die suiwerheid van die evangelie.
    Ten slotte, om die vraag te antwoord: Nee, ons is nie die enigste ware kerk nie. Die heilige, algemene, Christelike kerk ter sprake, is die eenheid van al die ware kerke volgens die drie kenmerke van NGB 29. Die kerk van Christus bestaan dus uit verskillende gemeentes regoor die wêreld wat aan die eienskappe van die ware kerk voldoen. Hierdie gemeentes mag dalk in verskillende denominasies buite ons eie wees, maar hulle is nog steeds deel van die ware kerk. Ons is almal broers en susters in die liggaam van Christus en moet mekaar dien en opbou in ons heilige geloof deur die gemeenskap van die heiliges wat God aan ons gegee het.

Bronne

Die Bybel (2020 vertaling):https://biblesa.co.za
Ligonier Ministries: https://www.ligonier.org/posts/what-biblical-church
https://www.ligonier.org/learn/qas/what-are-the-signs-or-marks-of-the-true-church
https://www.ligonier.org/learn/qas/what-are-the-essential-ingredients-of-a-true-church
VGK.co.za – Ds. C Kleyn: https://www.vgk.org.za/preke/24174
R.C. Sproul: https://www.youtube.com/watch?v=9QmeBPHOXLY

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp