Hoeveel nut het lees vir ‘n kind van God?

79% van volwassenes kan lees, terwyl 54% van die Amerikaanse bevolking se gemiddelde leesvaardighede onder die vlak van ‘n graad 6 leerling is. Indien die statistieke dieselfde lyk in die kerk, behoort daar alarms by ons af te gaan. Gaan mense kan Bybellees en verstaan wat God vir hulle sê?

Hoeveel nut het lees vir ‘n kind van God?
Photo by Clay Banks / Unsplash

Geskryf deur Arco Klapwijk, Providence Canadian Reformed Church

Terwyl die titel nog in jou kop ronddraai, is hier ‘n paar statistieke oor leesvaardighede in Amerika van 2024. 79% van volwassenes kan lees, terwyl 54% van die Amerikaanse bevolking se gemiddelde leesvaardighede onder die vlak van ‘n graad 6 leerling is. Indien die statistieke dieselfde lyk in die kerk, behoort daar alarms by ons af te gaan. Vrae sal opkom soos: gaan mense kan Bybellees? Gaan mense kan verstaan wat God vir hulle sê? Meer nog, hoe sal mense kan praat oor die evangelie as hulle nie die woorde daarvoor het nie?

Jy ken moontlik die bekende storieboek Matilda, ‘n storie van ‘n jong meisie wat mal is oor lees. Sy word deur haar gesin geboelie en geforseer om TV te kyk, eerder as om boek te lees. In hierdie fantasieverhaal kom Matilda agter dat sy objekte met haar intelligente boekebrein kan beweeg waarmee sy dus haar gesin pes en ‘n wrede skoolhoof uitoorlê. Hierdie boek is ook in ‘n 1996 fliek uitgebeeld, wat ironies genoeg die rede is waarom baie mense die storie ken, eerder as deur die boek. Hierdie storie is egter al oud en het die meeste mense se sienings oor lees verander.

Instagram of Youtube kry honderde meer voete (of kan ek sê oë) as biblioteke. Potgooie het ook ‘n groot aantrekkingskrag geword. Jy mag dalk wonder: “Wat maak dit saak? Mense kan mos inligting kry waar hulle wil? Ek kan eerder ‘n Youtube Short kyk as om my wiskunde handboek te raadpleeg?” Terwyl tegnologie baie nuttig is, wil ek jou graag ook wys op die nut van lees.

Eerstens verg video’s of potgooie minder aandag en word potgooie dikwels as agtergrondgeluide by ander take geluister. Die kuns van lees is dat jou volle aandag by die boek moet wees. Jy moet ‘n boek gaan haal. Jy moet dit oopmaak. Jou oë moet oor die woorde gly en jou brein moet dink oor wat jou oë observeer. Video’s bevat dikwels afleidings, of bloot die selfoon waarop dit gekyk word, lei die aandag af deur ‘n Whatsapp wat deurkom. Dit is baie maklik om net na die volgende video te blaai as jy in die huidige een belangstelling verloor.Terwyl video’s en potgooie natuurlik baie nuttig kan wees, moet lees steeds aandag kry - eintlik meer aandag. As mense nie kan lees nie, hoe gaan hulle persoonlike Bybelstudie doen? 

Laat ons vervolgens kyk na die belangrikheid van woorde. God het die aarde geskape deur die spreek van woorde: “En God het gesê...”. Daardie woorde eggo deur die eerste hoofstuk van die Bybel. God het met die mens gepraat met woorde. Kyk na Noag, Abraham en Jakob as voorbeelde. Ons sien God se direkte gesprekke met mense stadigaan verdwyn, totdat God sy profete stuur wat sy Woord aan die volk moet gee. Dit begin by Moses en dan nog honderde ander profete soos Jona, Jesaja en Esegiël. Esegiël het selfs sy bediening ontvang deur ‘n boekrol op te eet wat die Here se boodskap bevat het. Die klem lê hier dus op die woorde.

'Daarna het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel. Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet.' (Eségiël 3:1-2, AFR53)

Ons sien hoe die Jode die Ou Testament opskryf en deur die Skrifte leer. Vandaar ook die Skrifgeleerdes in die Nuwe Testament. Die profete en God wat direk praat was nie nodig nie, want Jesus was op pad.

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. (Johannes 1:1-5, AFR53)

Wanneer ons hierdie bekende verse lees, behoort dit ‘n besef by ons aan te wakker. Die evangelie draai om Jesus en in hierdie gedeelte dra Jesus die naam Woord. Dit herinner ons aan die begin toe God deur die Woord (dus Jesus) geskep het. Hier sien ons dan ook hoe belangrik God se Woord is. Nie net lees ons ‘n paar feite oor die geskiedenis nie, nee, ons lees van God self! Meer nog, Jesus Christus self is die Woord wat mens geword het. Nog ‘n gedeelte bevestig dit: 

'Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.' (Hebreërs 1:1-2, AFR53)

Nadat Christus na die Hemel opgevaar het, het die Woord gebly. Deur die werk van die Heilige Gees het ons vandag die Bybel, God se Woord:

'En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.' (2 Petrus 1:19-21, AFR53)

Soos ons verder deur die geskiedenis blaai, is dit opvallend hoe besonders goed God sy Woord bewaar. Duisende manuskripte getuig van die getroue oorskryf van die Bybel en baie meer gedeeltes van die Bybel is behoue, in vergelyking met ander bekende geskrifte soos Homer se Illiad of bronne oor Julius Caeser.

God se Woord, die Bybel, het dus ‘n besonderse taak. God gebruik nie beelde van hout of klip nie. Hy werk nie deur vreemde rituele soos sterre lees of orakels deur priesters nie. Nee, hy praat met ons deur sy Woord. Kyk na hoe God met Elia gepraat het: nie met vuur of wind nie, maar met ‘n sagte stem (1 Konings 19). In teenstelling met ander afgode, gebruik God sy stem en praat die taal van mense om Homself te openbaar. Die enigste plek waar God vandag nog buiten woorde met ons kommunikeer, is die doop en nagmaal – aangesien ons as swak mense hierdie sigbare tekens en seëls van sekerheid nodig het (Sondag 25-29).

Dit is belangrik om te kan lees, anders kan ons God nie leer ken nie. As ons nie ons leesvaardighede oefen nie, sal ons ook sukkel om God se Woord reg te verstaan. Ons is geneig om daagliks ure op Youtube te spandeer, wat slegte fokus en swak geheue kweek. Wil ons onsself so breinspoel dat ons nie meer kan Bybel lees nie? Of wil jy graag groei in jou verhouding met die Here? Dan, liewe gelowige, stel ek voor dat jy ‘n koppie koffie gaan maak, jou Bybel oopmaak, en tyd in God se Woord met Hom spandeer.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp