Hoekom is ons geskape?

Wat is jou doel in jou lewe? Vir wat werk jy? As ‘n mens hierdie vraag stel aan enige persoon sal die meeste mense iets antwoord soos “om ‘n suksesvolle lewe te lei”. Ons moet ons nie misgis nie – ons as Christene is ook vinnig geneig om so ‘n antwoord te gee

Hoekom is ons geskape?
Photo by NASA / Unsplash

Geskryf deur Annemyn de Wit, VGK Pretoria

Wat is jou doel in jou lewe? Vir wat werk jy? As ‘n mens hierdie vraag stel aan enige persoon sal die meeste mense iets antwoord soos “om ‘n suksesvolle lewe te lei”. Ons moet ons nie misgis nie – ons as Christene is ook vinnig geneig om so ‘n antwoord te gee. Ons kan so vinnig te besig raak in ons daaglikse lewens dat ons vergeet waarvoor ons nou regtig lewe. En kom ons wees eerlik, wie staan in die oggende op met die duidelike doel om God te loof en te prys en alles tot Sy eer te volbring?

Met watter doel is ons nou werklik geskep?

Kom ons kyk terug na Genesis toe God die mens geskape het. Met watter doel het Adam en Eva daagliks mee opgestaan? Slegs om vir God te lewe! Ons moet ook probeer lewe soos wat Adam en Eva in die paradys gelewe het. Hulle het nie heel eerste daaraan gedink om vir hulself hard te werk nie. Dit was nie hulle eerste prioriteit nie – nee, hulle het eenvoudig gelewe om God te loof en om alles wat hulle doen tot Sy eer te doen!

God het ons geskep met verskillende doele/riglyne waarvolgens ons moet lewe. Kom ons breek dit op in ‘n paar punte. Ten eerste moet ons God dien en ‘n verhouding met Hom hê. Die Bybel beklemtoon dat dit baie belangrik is om God te ken, Hom lief te hê en Hom te dien. Ons moet Sy gebooie gehoorsaam en Hom erken as ons Skepper. Ons is mos immers na Sy beeld geskape.

Maar wat beteken dit presies dat ons na sy beeld geskape is? Ons lees dit in die Heidelbergse Kategismus v/a 6; dat God die mens in ‘n regte verhouding geplaas het tot Homself sodat Hy ons (as mense) in staat stel om onsself te kan toewy aan Hom, waarin ons Hom vervolgens kan lief hê en saam met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en prys.

Ons moet ander liefhê en dien. Dit lees ons in die tien gebooie, waarvan die belangrikste gebod is: "Ons moet die Here ons God lief hê met ons hele hart, ons hele siel en al ons verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself."

Ook moet ons God se plan vervul. God het ‘n doel met elkeen van ons. Ons moet ons talente gebruik tot eer van God. Ook moet ons talente ‘n positiewe impak bring in die wêreld – om byvoorbeeld ander mense te help. Solank ons nog lewe, is God se doel met elkeen van ons nog nie voltooi nie.

Ons moet die evangelie van God versprei regoor die wêreld. Dit lees ons in Handelinge 1:8: "maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde." Ons as Christene word opgeroep om die goeie nuus van God se verlossing te verkondig regoor die wêreld.

Bogenoemde is maar net ‘n paar punte waarna ons as Christene moet streef om te lewe. Natuurlik is dit baie moeiliker gesê as gedaan. Maar ons moet probeer streef daarna om ons lewens te fokus op God. Ons moenie dat ons lewensdoel bepaal word deur aardse dinge nie.

Vra nou weer hierdie vraag vir jouself. Wat is jou doel in jou lewe? Dink weer daaroor en probeer ‘n bietjie anders na jou daaglikse lewe te kyk. Lewe met die bewussyn dat jy nie vir jouself lewe nie, maar om alles te doen tot eer van die Here en om Hom te loof en te prys! Praat en bid tot God dat HY jou daarby sal help. Kom ons probeer lewe soos Adam en Eva!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp