Calvary Chapel Ontario Resensie

Ons lewe in ‘n tyd waar sosiale media nie ongewoon of vreemd is nie. Ons word daagliks gebombardeer met inligting van gebeure regoor die wêreld. Dit is soms moeilik om te onderskei wat waarheid is en wat nie.

Calvary Chapel Ontario Resensie
Photo by Joseph Pearson / Unsplash

Geskryf deur Marlouise van der Meer, VGK Pretoria-Maranata

Ons lewe in ‘n tyd waar sosiale media nie ongewoon of vreemd is nie. Ons word daagliks gebombardeer met inligting van gebeure regoor die wêreld. Dit is soms moeilik om te onderskei wat waarheid is en wat nie, veral as dit kom by channels, websites, en Instagram accounts wat sê dat hulle christelik is.

Die channel wat ek hier review is “Calvary Chapel Ontario.” Dit is die Youtube-channel van die Calvary Chapel kerk in Ontario in Kanada. Pastoor is Paul LeBoutillier. Inligting oor hom en sy opleiding ontbreek.

Beskrywing

Die channel bestaan uit live streams, vraag en antwoord video’s asook preke oor elke boek uit die Bybel. Oor die algemeen word hoofstukke vers vir vers behandel, terwyl sekere hoofstukke gekombineer word. Daar is ook Bybelstudies spesifiek vir vrouens wat deur Paul se vrou, Sue, aangebied word. Die preke is gewoonlik tussen ‘n halfuur en ‘n uur lank. Die preke word eenvoudig aangebied met diepte, maar maklik te verstaan. Die pastoor praat baie passievol oor die Woord van die Here — maklik om na te luister.

Op die kerk se website word hulle geloofstandpunte beskryf. Hulle glo ook soos ons Gereformeerdes dat die Bybel geïnspireerd is deur die Heilige Gees, dat dit die Woord van God is, dat God drie Persone is maar een Wese en in verlossing deur genade alleen.

Ongelukkig glo hulle in die 1000 jaar vrederyk en nêrens word iets van die belydenisskrifte genoem nie. Dit hoef ons nie te ontmoedig om die video’s te kyk nie, maar ons behoort wel versigtig en oplettend te wees as daar oor die wederkoms gepraat word. Hierdie kerk se oortuigings is soortgelyk aan die Gereformeerde Baptiste. Prediking oor die boek Openbaring moet ook versigtig benader word.

Gevolgtrekking

Ek dink dit is ‘n goeie bron van informasie om die Bybel beter te verstaan en diepgaande te bestudeer. In die preke word woorde en frases, wat mens maklik mis lees of as onbelangrik beskou, uitgelig. Aktuele onderwerpe, krisisse en sondes van ons tyd word ook na vore gebring en bespreek.

Die channel het ‘n hele projek gehad, Through the Bible with Pastor Paul,  waarin hulle die hele Bybel deurgewerk het.  Omdat die meeste Bybelgedeeltes vers vir vers behandel word, kan mens ook maklik die video’s opdeel vir ‘n paar dae, veral omdat van die video’s nogal lank is. Mens kan dit gebruik as daar voorstudie gemaak moet word of selfs tydens Bybelstudie-ure. Die preke is ook in die vorm van ‘n klankbaan beskikbaar op hulle website.

Om meer inligting te verkry oor hierdie kerk en hulle preke, volg gerus hierdie skakel: https://www.ccontario.com/

Hier is een van hulle preke: