Black Lives Matter

“In 2013 begin drie radikale swart organiseerders – Alicia Gaza, Patrisse Cullors en Opal Tometi – ‘n swart-gesentreerde politieke beweging, #BlackLivesMatter. Dit was ‘n reaksie op die onskuldigbevinding van Trayvon Martin se moordenaar, George Zimmerman”

Black Lives Matter
Photo by Nicole Baster / Unsplash

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria

“In 2013 begin drie radikale swart organiseerders – Alicia Gaza, Patrisse Cullors en Opal Tometi – ‘n swart-gesentreerde politieke beweging, #BlackLivesMatter. Dit was ‘n reaksie op die onskuldigbevinding van Trayvon Martin se moordenaar, George Zimmerman” (BlackLivesMatter, n.d.)

Dit is hoe die BlackLivesMatter-beweging hulle eie oorsprong beskryf. Intussen het hulle gegroei tot ‘n globale organisasie, wat hulle beywer vir veel meer as net swart lewens.

Dit is nie die doel van hierdie artikel om die beweging in detail te analiseer nie. Daar sal eerder gekyk word na ‘n paar stellings wat BlackLivesMatter oor hulleself maak en wat ons as Christene hieroor glo.

Die aangehaalde teks in Italics is direk afkomstig van hulle webtuiste.

We are working for a world where Black lives are no longer systematically targeted for demise.

Navorsing in Amerika het gewys dat Christene meer rassisties is as die gemiddelde bevolking. Protestante het ‘n mediaanpunt van om en by 70% op die rassisme-indeks gekry, terwyl Amerikaners wat nie religieus is nie, 42% kry op hierdie indeks (Jones, 2020).

Indien dit soortgelyk sou wees in Suid-Afrika, is dit belangrik dat ons introspeksie doen en kyk wat die Bybel oor rasse te sê het.

“God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Gen 1:27

Die mens is na die beeld van God geskape. God het die mens goed gemaak. Voor God is ons almal gelyk. Daar is net een ras, en dit is die menslike ras.

Die vroeë kerk het met ‘n soortgelyke probleem gesukkel. Vir baie van die Joodse Christene was dit moeilik om die bekeerlinge uit die heidendom as broers en susters te aanvaar. In hierdie verband skryf Paulus in Galasiërs 3: 28 (lees gerus ook die res van die hoofstuk):

Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”

In Christus is Arabier, Europeër, Asiaat, Amerikaan, en Afrikaan almal deel van die een liggaam so lank as wat hulle glo en deur die bloed van Christus gewas is.

Die probleem met die BlackLivesMatter beweging is dat hulle hierdie waarhede verdraai om ‘n (goddelose) politieke agenda te dryf.

We affirm the lives of Black queer and trans folks, disabled folks, undocumented folks, folks with records, women, and all Black lives along the gender spectrum.

BlackLivesMatter is baie duidelik daaroor dat hulle die LGBTQIA+-beweging ondersteun. Hulle spreek spesifiek ook hulle ondersteuning vir swart trans vroue uit.

As Christene glo ons dat God die mens heteroseksueel geskape het en dat dit is hoe Hy wil hê ons moet lewe. In die Skrif kry ons verskeie kere te doen met hierdie probleem (dit is nie iets nuuts nie). Telkens is God se uitspraak hieroor baie duidelik. In Romeine 1 lees ons dat God nie net dié wat self sulke dinge doen nie, maar ook dié wat hulle goedkeuring daaraan gee (vers 32), sal oorgee aan hulle eie verwerplike denkwyse (vers 28 ).

As Christene veroordeel ons dus hierdie beweging ten sterkste. Dit is egter belangrik om te besef dat dit nie beteken dat ons hierdie mense verwerp nie. Is hulle nie juis ‘n vrugbare akker vir die evangelie nie? Dink aan Paulus wat gaan evangeliseer het in Korinthe, die stad waar, volgens Strabo (20 n.C), ongeveer 1 000 tempelprostitute deel was van die diens aan die stad se hoofgodin Afrodite (PERROTTET, 2007). Ons behoort mense wat sukkel met geslagsidentiteit te hanteer met nederigheid en ‘n besef van ons eie sondige aard, maar nooit mag ons God se wil en waarheid onder die mat vee nie.

By achieving liberation, we envision a future that is fully divested from police, prisons, and all punishment paradigms to be replaced with investment into justice, joy, and culture.

Behalwe dat ‘n wêreld sonder polisie, tronke en strawwe onrealisties is, is dit ook nie in lyn met die Bybel nie. Ons glo in ‘n toekoms waar dit inderdaad nie meer nodig sal wees nie, maar dit sal eers realiseer as Christus teruggekom het en ons op die nuwe aarde lewe.

Terwyl ons nog op Aarde nommer 1 lewe, het God in sy wysheid regerings aangestel om die sondige menslike ras in toom te hou. Romeine 13: 1-5 stel dit baie duidelik:

“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”

Ek dink hierdie Bybelgedeelte is baie duidelik. Die regering en die instellings wat daarmee saamgaan, soos die polisie, is in diens van God. Ons behoort dit te respekteer en ons samewerking te gee, solank as wat dit nie teen die wil van God ingaan nie. Christene kan nie deel wees van ‘n organisasie wat ronduit verklaar dat hulle die gesag van die regering wil ondermyn nie.

We have a long history of support for abortion access and activism within the Black community.

In 2022 was die Roe v. Wade saak een van die groot onderwerpe vir BlackLivesMatter. Hulle beywer hulself vir “reproduktiewe gesondheid” en een van die belangrikste maatreëls, volgens hulle, is vrye toegang tot aborsieklinieke. Wat maak in die eerste plek dat daardie ongebore black lives skielik nie matter nie? Teenoor BlackLivesMatter se pro-aborsie, is ons pro-lewe. Ons glo dat God lewe gee en God lewe neem. Die mens het nie die outoriteit om te besluit oor enie van die bogenoemde nie. Elke lewe is ‘n skeppingswonder. Baie kritici voer verkragtings, gesondheid en tienerswangerskappe aan as ‘n bewys dat Christene net wreed is deur aborsie teen te staan. Sulke gevalle maak die afkeur van aborsies inderdaad meer kompleks, maar is dit regtig hoekom aborsies gepleeg word?

Die Wêreld Gesondheid Organisasie reken daar vind ongeveer 73 miljoen aborsies wêreldwyd plaas per jaar. Nege-en-twintig persent van alle swangeskappe word met ‘n aborsie beëindig (WHO, 2021). ‘n Studie wat in 2013 in Amerika gedoen is (Foster, 2013), het bevind dat slegs 12% van abosies gepleeg word as gevolg van gesondheidsredes. 6% hiervan was egter as gevolg van die moeder se gebruik van alkohol of dwelms en is dus die moeder se eie lewenstylkeuse. Die studie bevat nie inligting oor verkragtings nie, maar 3% het gesê hulle het “abusive partners”. Meeste vroue het meer as een rede gegee. Die hoofredes was: finansies (40%), ongeleë (36%), lewensmaat-verwante oorsake (31%), ander kinders (29%), die baba sal toekomsplanne omverwerp (20%), nie emosioneel of mentaal gereed vir ‘n baba nie (19%).

Die oorsaak van aborsies is hoofsaaklik mensgesentreerd. Mense wil net lewe vir die hier en nou, sonder om verantwoordelikheid te dra vir dit wat hulle doen.

As Christene kan ons nie net op ‘n afstand staan en veroordeel nie. God het ons as ‘n lig in hierdie wêreld geplaas om die uitgeworpenes te ondersteun. Is ons daar vir tieners wat wel swanger raak? Wat as iemand verkrag is? Ons moet nie ons oë toe hou hiervoor nie. Sulke mense het daadwerklik hulp nodig.

Daar kan nog baie meer gesê word oor BlackLivesMatter en oor elke stelling kan daar boeke geskryf word. Die uitdaging wat daar egter voor ons, as Christene, lê, is om nie net op teoretiese grond sulke organisasies te veroordeel nie, maar ook na daadwerklike Bybelse oplossings te soek. Laat ons getrou bly aan God se Woord en dit wat Hy vir ons leer oor die lewe hier op aarde, totdat Hy kom om alle gevolge van die sonde te vernietig.

Bronne

BlackLivesMatter. (n.d.). Herstory. Retrieved from Black Lives Matter: https://blacklivesmatter.com/herstory/

Foster, M. A. (2013). Understanding why women seek abortions in the US. BMC Women's Health, 13. Retrieved February 23, 2023, from https://bmcwomenshealth.biomedcentral.com/articles/10.1186/1472-6874-13-29

Jones, R. P. (2020, Julie 28). Racism among white Christians is higher than among the nonreligious. That's no coincidence. Retrieved from NBC News: https://www.nbcnews.com/think/opinion/racism-among-white-christians-higher-among-nonreligious-s-no-coincidence-ncna1235045

PERROTTET, T. (2007, November 21). Ancient Greek temples of sex. Retrieved from The Smart Set: https://www.thesmartset.com/article11210701/

WHO. (2021, November 25). Abortion. Retrieved from World Health Organization: https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/abortion

Die Bybel (1953 & 2020)

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp