Ewige Lewe: Is Dit Jou Hoop?

Deur hierdie Adventstydreeks gaan ons kyk na die tradisionele temas van hoop, vrede, vreugde en liefde en hoe Jesaja oor dit geprofeteer het. Vandag kyk ons na die tema Hoop soos beskryf is deur Jesaja oor die koms van Christus; beide sy eerste en tweede koms.

Ewige Lewe: Is Dit Jou Hoop?
Photo by JOHN TOWNER / Unsplash

Lees: Jesaja 9:1-6

“Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5)

Deur hierdie Adventstydreeks gaan ons kyk na die tradisionele temas van hoop, vrede, vreugde en liefde en hoe Jesaja oor dit geprofeteer het. Vandag kyk ons na die tema Hoop soos beskryf is deur Jesaja oor die koms van Christus; beide sy eerste en tweede koms.

Jesaja was ‘n profeet in die tyd van koning Ussía, Jotam, Agas en Hiskía. In die eerste hoofstukke van sy boek, lees ons van sy profesieë oor die ballingskap en God se oordeel oor Israel en Juda. Dit is baie donker en depressiewe boodskappe wat ons vind in hierdie hoofstukke, maar tussendeur laat die HERE sy mense wel nog hoop vind in die feit dat Hy, God, hulle sal verlos van hulle vyande - ons teksgedeelte is een van sulke boodskappe.

Jesaja verduidelik vir ons die donker tye van Israel in vers 1. Hy noem van die verdrukking en swaar tye wat sal kom. Maar daar is hoop - Jesaja sê daar is lig in hierdie donker tye vir die wat woon in die land van doodskaduwee (v.1). Wat of wie is hierdie lig? Jesaja gee vir ons die antwoord in vers 2: Die HERE! Hoe is die HERE ‘n lig en hoop vir hulle? Wel, sê Jesaja, “want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het, die roede van hulle drywer, het U [die HERE] verbreek” (v.3). Verder noem hy in vers 4 ook dat die HERE ‘n einde gaan maak aan die oorloë waarin Israel moes veg.

Dit is nou waar ons kom by die hoogtepunt van die hoop waaroor Jesaja geprofeteer het: vers 5 en 6. Hoe gaan God al hierdie dinge laat gebeur? Hy gaan sy Seun stuur! Vers 5 en 6 is van die bekendste verse in die Ou Testament wat oor Jesus se koms praat. En dit praat nie net oor Christus se eerste advent nie, maar ook oor sy tweede advent en die ewige lewe. Wat ‘n troos en hoop is hierdie nie vir die Israeliete wat in ballingskap gaan wees nie - die HERE belowe dat daar vrede sonder einde gaan wees oor die troon van Dawid (v.6).

Maar wat van ons wat nou in die eerste week van die Adventstyd 2026 leef? Hoe vind ons hoop in Jesaja se boodskap? Hoe bring die Adventstyd vir ons hoop? Daar is baie dinge in ons lewens; baie swaar dinge ook. Daar is dinge wat ons laat voel daar is nie meer hoop nie: ons verloor ‘n geliefde aan die dood, iemand vir wie ons baie lief is word ernstig siek, iemand loop weg van die kerk, jy verloor jou werk en die lys gaan aan. Hierdie tipe dinge dryf ons om hopeloos te voel. 

Dit is deur sulke dinge waar die Here ons toets en ons vorm. As ons hoop hier verloor, dan kan dit beteken dat ons op onsself en wat ons kan doen fokus en nie fokus op die “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” nie.

Aan die ander kant is daar baie dinge in ons lewens waarvoor ons hoop - goeie punte by die skool, ‘n goeie werk, ‘n lewensmaat, rus en vrede. Hierdie ook kan ons wegdryf van die Drie-enige God af.

Paulus leer vir ons dat Christene net een uiteindelike hoop het: Christus se tweede koms om ons na die nuwe hemel en aarde saam te neem. Hy skryf in Titus 2:11-14 “want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke”. Dit is veral hierdie hoop wat ons spesifiek in fokus moet hou wanneer ons deur die Adventstyd gaan - dit moet ons lewens verander! Petrus skryf dat ons hierdie hoop so moet uitleef dat ander vir ons moet vra wat die hoop is (1 Petrus 3:15). 

So, waneer jy deur ‘n tyd van hopeloosheid gaan of wanneer jy afgelei word deur wêreldse hoop en begeerlikhede moet jy stilstaan by Jesus Christus. By Hom lê ons enigste hoop en troos: die ewige lewe. 

Spandeer hierdie eerste Adventsweek om terug te kyk en na te dink oor Christus se lewe en sterwe en ook sy tweede koms; dink aan God se genade in jou lewe. Leef dankbare lewens gevul met die hoop van die ewige lewe. Getuig van die hoop wat in jou is en lewe só dat jy saam met Johannes kan sê: “Amen, ja kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).

Gebed

Ons genadige God en Vader, ons is dankbaar dat ons voor U kan kom. Help ons Here, om u genade en liefde in ons lewens raak te sien. Lei ons om ons enigste hoop en krag in U te vind. Help ons deur u Heilige Gees, want ons kan niks uit onsself doen nie. Here, help ons ook om lewende getuies te wees van die hoop wat in ons is! Vergewe al ons tekortkominge deur die bloed van u Seun, Jesus Christus. Amen.

Coram Deo

As jy deur hierdie week gaan, dink aan waar jou hoop regtig lê: plaas jy jou hoop in wêreldse dinge of alleen in Jesus Christus en sy verlossingswerk? Lees deur Sondag 1 en kyk na jou lewe - waar vind jy jou enigste troos? Vind hoop in Christus deur die lees van sy Woord en getuig daarvan deur ‘n paar Psalms vir Hom te sing (dink aan Psalm 42, 62 en 130)!

Bronne en Verdere Studie

Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata