Advent: Terugblik en Vooruitsig
Advent. Het jy al gehoor van die Adventstyd? Mens hoor dit eers nader aan die einde van die jaar, nader aan Kerstyd. Maar wat presies is hierdie tyd en is dit belangrik vir ons as Christene om daarmee besig te wees?
“Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors - tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (Jesaja 9:5-6)
Advent. Het jy al gehoor van die Adventstyd? Mens hoor dit eers nader aan die einde van die jaar, nader aan Kerstyd. Maar wat presies is hierdie tyd en is dit belangrik vir ons as Christene om daarmee besig te wees? Dit is hierdie vrae wat ons in die komende reeks van oordenkings hoop om te beantwoord.
Die woord “advent” in Engels kom van die Latynse woord adventus. Hierdie woord kom weer van die werkwoord adveniō. Die woord kan in twee dele gedeel word: die werkwoord veniō wat beteken “come” en ‘n voorsetsel ad beteken “to” in engels. Die werkwoord ad + veniō beteken dus “come to” of “arrive” en die selfstandige naamwoord adventus beteken dus “arrival” of aankoms. Dit is hierdie selfstandige naamwoord wat gebruik word in die Latynse Bybel om die aankoms van Jesus Christus met sy geboorte in Betlehem te beskryf. Maar die woord word ook gebruik om Christus se tweede koms te beskryf (bv. 1 Thessaloniscense 4:15 en 1 Korinthiërs 15:23).
So wat is Adventstyd dan? Dit is ‘n tydperk van 4 weke - dit begin op die Sondag naaste aan 30 November en eindig op die laaste Sondag voor Kersfees. Dit is ‘n tyd van voorbereiding vir die feesviering van Kersfees. Vir die wêreld is dit net ‘n feestyd en al wat belangrik is is familie, vriende, kuier en presente! Hulle weet nie meer waaroor die Kerstyd werklik gaan nie. So word die Adventstyd eerder die tyd om presente te koop, huise skoon te maak en tuine te versier.
Vir sekere Christelike denominasies is daar vaste tye en skedules vir die Adventstyd. Dit is denominasies soos die Rooms-Katolieke Kerk, Oosters-Ortodokse Kerk en die Anglikaanse kerk. Hulle het spesefieke kalenders gemaak wat gebasseer is rondom hierdie tydperk. Dit is ‘n baie belangrike deel van hulle liturgiese jaar.
Hier sien ons twee uiterstes, aan die een kant gaan alles oor die feesviering en regmaak vir Kersfees - alles gaan oor die mens. Terwyl aan die ander kant word die kerk kalenders gefokus op en om hierdie tydperk. So hoe moet ons dan as Gereformeerdes na Adventstyd kyk? Eerstens moet ons fokus nie op die mens gerig wees nie (soos die wêreld doen), maar ons moet eerder gefokus wees op die eerste en tweede koms van Christus. En tweedens, moet ons ook versigtig wees vir die gevaar om sekere dae as meer belangrik te sien. Johannes Calvyn noem dat daar die gevaar is dat ons bygelowig kan word en dan die tydperk meer belangrik maak as die Evangelie. Ons sal meer in diepte daarna kyk in die res van hierdie reeks.
Die Adventstyd is ‘n tyd om terug te kyk na Christus se geboorte, maar ook ‘n tyd van vooruitsig op Christus se tweede koms en die ewige lewe saam met God - Jesaja profeteer hieroor in hoofstuk 9:5-6! Die Adventstyd is vir ons ‘n goeie geleentheid om stil te staan, ons harte voor te berei en ons te verheug in die hoop, vrede, vreugde en liefde wat tydens die Kerstyd in Jesus gevind word.
Gebed
Almagtige God, hemelse Vader, ons kom voor U, nie dat ons dit verdien nie maar alleen uit genade. Here, soos ons nou in die Adventstyd ingaan, help ons om ons fokus op U te hou en op die wonderlike Evangelie van u Seun wat aarde toe gekom het om vir ons sondes te sterf. Help ons om dit nooit te vergeet nie! Ons mag ook uitsien na die tweede koms van Christus - versterk ons asseblief Here in hierdie laaste tyd. Want aan U behoort al die krag en mag, tot in ewigheid. Amen.
Coram Deo
Die Adventstyd is ‘n kans vir ons om te stop en stil te staan by Christus. By sy eerste koms en ook sy tweede koms. Dit is die tydperk waarin ons nou leef - ons het die troos van die eerste koms en die vooruitsig van die tweede koms en die ewige lewe daarna. Kom ons leef elke dag gefokus op ons almagtige God en sy beloftes aan ons, gevind in sy Woord.
Bronnelys
- https://bibleproject.com/guides/advent/#embracing-the-season-modern-advent-traditions
- https://www.gotquestions.org/what-is-Advent.html
- https://www.compellingtruth.org/what-is-advent.html
- https://www.usccb.org/prayer-worship/liturgical-year / https://www.churchofengland.org/faith-life/what-we-believe/advent-and-christmas
- https://ccel.org/ccel/calvin/institutes/institutes.vi.xi.html
Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata