Wie aan God se volk raak, raak aan Hom

Vandag sien ons dat die wêreld al hoe meer aggressief word as Christene hulle standpunte gee. Dit lyk asof alles geduld word, behalwe Christene en hulle sienings. Die wêreld geniet eintlik as daar probleme in die kerk is, of as Christene swaarkry.

Wie aan God se volk raak, raak aan Hom
Photo by Jannis Nöbauer / Unsplash

Geskryf deur Lynette Bouwman, VGK Pretoria

Vandag sien ons dat die wêreld al hoe meer aggressief word as Christene hulle standpunte gee. Dit lyk asof alles geduld word, behalwe Christene en hulle sienings. Die wêreld geniet eintlik as daar probleme in die kerk is, of as Christene swaarkry. Ons begin ook al iets hiervan ervaar in Suid-Afrika. 'n Mens kan bang raak oor wat dit vir Christene gaan beteken in die toekoms. Gaan ons vervolg word? Gaan die wêreld (en Satan) daarop uit wees om ons lewe al hoe swaarder te maak?

Obadja wys vir ons dat God die Vader in beheer is van alle dinge. Hy is die een wat elkeen van Sy kinders se lewens in Sy hand hou. Hy is ook die een wat magtige aardse volke tot ‘n val kan bring.

’n Ou familietwis vorm die agtergrond vir die profeet Obadja se profesie. Obadja se profesie teen Edom vir sy behandeling van Juda moet gesien word in die konteks van die wedywering tussen hierdie twee nasies. Edom, die afstammelinge van Esau, en Israel, die afstammelinge van Jakob, se lot is al van voor hul geboorte deur God bepaal. Rebekka se twee seuns sou gedurig met mekaar in stryd wees. “Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien” (Genesis 25:23).

Inderdaad, Jakob en Esau het gereeld geveg: die jonger, skelm broer het gereeld voordeel getrek uit die ouer broer, wie se hartstogte beheer is deur sy eetlus en nie die vrees van die Here nie (Genesis 25:29–34; 27:1–45). Alhoewel Jakob en Esau uiteindelik 'n soort versoening bereik het (hfst. 33), het hulle nageslag nooit heeltemal oor die weg gekom nie.

Edom, wat uit Esau se nageslag bestaan het, was besonder verbitterd teenoor Israel en Juda, die afstammelinge van Jakob. Die Edomiete het selfs die swerwende Israeliete die reg geweier om ná die uittog deur hulle land te trek (Numeri 20:14–21). Ongelukkig het twee nasies wat veronderstel was om broers te wees, mekaar gehaat. Die geweld teen sy broer Jakob, asook Edom se weiering om empatie te toon of om sy broer Juda by te staan tydens ’n inval in Jerusalem, was vir die Here gruwelik (Obadja 1:10-11). Israel is aangeval deur 'n vyand en het gevlug. Terwyl hulle gevlug het, het Edom reggestaan om nog 'n ekstra hou in te kry teen God se volk. Hulle verlekker hulle in die pyn en ellende van God se volk, en vererger dit nog meer.

Edom was ‘n groot en sterk nasie wat baie wysheid, rykdom en mag gehad het. Weens Edom se geografiese ligging bo-op ‘n berg was dit menslik gesproke onmoontlik om hulle aan te val. Die volk Israel het moedeloos gevoel teenoor die groot en magtige volk. Die Here openbaar dan aan Obadja in ‘n gesig dat Hy Edom tot ‘n val sal bring en dat hulle gehaat sal word onder die nasies. Hy sal alles van hulle af wegvat, sodat hulle geen rykdom, mag of wysheid oor sal hê nie. Niemand kon Edom aanraak nie, niemand nie behalwe Een.

Wanneer ons, net soos Israel, na die wêreld rondom ons kyk raak ons ook soms moedeloos. Ons wonder ook hoekom dit so goed gaan met die ongelowiges en daar slegte dinge met ons gebeur. God se oordeel oor Edom wys vir ons dat Hy altyd met Sy kinders is. Hy is ‘n regverdige God wat reg sal laat geskied. Dit is inderdaad so dat die wêreld teen ons is, maar ons moet besef dat God alle dinge ten goede laat meewerk en dat sondaars geoordeel sal word.

Soos in die geskiedenis van Obadja kan God sy volk straf, maar agter hierdie straf is sy groot liefde vir hulle. Deur die straf wil Hy hulle terugroep tot Hom. God vind geen vreugde daarin om sy volk te straf nie. Hy soek die lewe vir sy volk, en wil hulle seën. Om dit te bereik, sal Hy hulle selfs straf. As die volke rondom Israel dan vreugde vind in hierdie straf, en dit selfs erger maak, dan moet hulle weet: 'n baie swaarder straf wag vir hulle. Niemand vind vreugde in die ellende van God se oogappel en kom daarmee weg nie. In vers 15 van dieselfde hoofstuk lees ons: “Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom”.

Moet ons as sondige mense dan bang wees vir God se finale oordeel? Ja verseker! God laat nie met Hom spot nie. God duld dit ook nie as daar met sy volk gespot word nie. Daar is slegs redding teen God se toorn vir wie vergifnis soek deur Jesus Christus. God se beker van oordeel sal verseker uitgaan oor hierdie wêreld wat in opstand is teen God en sy volk. En wat dan van die sondes van God se kinders? Vir hulle het Jesus Christus daardie beker van toorn geneem, en dit Self gedrink - in ons plek. Beteken dit dan dat as ek swaarkry ervaar, ek nie gered is van Sy oordeel nie? Nee, God bring die swaarkry op ons pad om ons geloof te laat groei. Ons moet groei om gelyk te word aan die beeld van Sy Seun (Romeine 8:29). Hy is ten volle in beheer van ons lewens en doen alles tot ons beswil.

God gee die Heilige Gees aan ons om ons te help verstaan dat Hy ons lewens in Sy hande hou. Hy gebruik ons as instrumente in sy raadsplan. Die vuur van die Gees wat in ons brand dui God se krag aan. Edom en die wêreld daarbuite gebruik swaarde om hul krag te wys, maar God gebruik Sy kinders wat gevul is met die vuur van die Heilige Gees. Die vuur sal die nasies verteer en hulle brand soos stoppels. Bid daarom dat jy die Gees in jou hart sal ontvang, sodat daar ‘n vuur van liefde deur jou in die kerk sal brand.

Die kerk van Christus hier op aarde is nie die mens se ewige woonplek nie (Hebreërs 11:13). Die misdaad, vervolging, armoede en siekte is net tydelik. Ons mag met vertroue verby hierdie dinge kyk met die wete dat God in beheer is van alle dinge. Ons mag hoop op die wederkoms wanneer alles nuut gemaak sal word en al die swaarkry weggeneem sal word. Obadja help ons om te onthou dat die Here die spot en vyandskap van die wêreld teen sy kinders baie ernstig opneem, en dat die dag sal kom wanneer God se toorn hieroor baie sigbaar sal wees. Mag God nog baie mense uit hierdie wêreld roep, tot versoening en vrede met Hom voordat hierdie skrikwekkende dag kom!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp