Watter musiek is veilig vir Christene? ’n Christelike perspektief op musiek.

Nêrens in die Bybel sal jy ’n vers vind wat vir jou sê of jy wel of nie na Taylor Swift mag luister nie. Die Bybel het nie ‘n lys van elke enkele ding wat ons mag en nie mag doen nie, veral nie na watter musiek ons mag en nie mag luister nie.

Watter musiek is veilig vir Christene? ’n Christelike perspektief op musiek.
Photo by John Matychuk / Unsplash

Geskryf deur Christiaan Grobler, VGK Pretoria

Nêrens in die Bybel sal jy ’n vers vind wat vir jou sê of jy wel of nie na Taylor Swift mag luister nie. Die Bybel het nie ‘n lys van elke enkele ding wat ons mag en nie mag doen nie, veral nie na watter musiek ons mag en nie mag luister nie. Die lys sal net te lank wees. Dus leer die Bybel ons konsepte en riglyne om Christelik te kan lewe. Dieselfde geld vir die musiek waarna ons luister. Ons moet deur ‘n Bybelse lens kyk na wat ons in ons lewens inbring en hoe ons daarmee omgaan.  

Dalk moet ons eers die vrae vra: “Watter plek het musiek in ons lewens as mense? Meer spesifiek: as Christene?” Die impak van musiek in ons lewens is oral te vinde. Van in ons kultuur tot in ons godsdiens vorm musiek die hoeksteen van baie aspekte van ons lewens. Musiek kom voor in die natuur: die voëltjies sing in harmonie en die golwe slaan ritmies teen die rotse. Selfs die note van ons westerse musiek het hul oorsprong uit die natuur. Uit die Fibonacci kurwe, wat regdeur die natuur gevind gevind kan word (soos in skulpe), is elf unieke musikale note verkry wat die basis vorm van die melodieë wat die orrel elke Sondag speel. As musiek dus vanuit die natuur kom en die Here die natuur geskep het, kan ‘n mens tot die gevolgtrekking kom dat die Here musiek ook geskep het. Sy doel daarmee is dat die mens Hom moet eer met musiek en lofsang.  

Die psalms en skrifberymings wat ons elke Sondag in die kerk sing en elke melodie wat ons in harmonie saam sing, is tot eer van God. Die Israeliete het na elke oorwinning en elke wonderwerk die Here geprys met lofsang and musiek. Dit wys dat musiek en lofsang ’n groot en belangrike deel van ons diens aan God is en dat dit ’n groot deel van ons eredienste moet wees. Die samesang is ’n geleentheid vir die gemeente om proaktief aan die erediens deel te neem, wanneer elke unieke stem in harmonie saamsmelt om eer aan God te bring.  

Daar is verskillende tipes psalms, van klaagliedere tot lof- en jubelsange, wat toepaslik op ons lewens is. Dit is meestal ’n refleksie van die verskillende fases en situasies wat jy in jou lewe kan ervaar. Daar gaan tye wees wat jy bly is en lofsange wil sing en vrolik wees, maar daar gaan ook tye wees waar jou lewe soos ’n klaaglied voel. Onthou egter: elke klaaglied eindig en elke loflied het nog ’n vers om te sing.  

Nou weet ons dat psalms en liedere tot eer van God goed is, maar wat van liedere of kunstenaars wat nie spesifiek met godsdiens te doen het nie? Is dit verkeerd om daarna te luister? Dis nie op sigself verkeerd nie, net soos wat kos nie op sigself verkeerd is nie. Dis egter die voedingswaarde en hoeveelheid van die kos wat jy inneem wat bepaal of dit goed of sleg vir jou is. 

Efesiërs 5:19 sê: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange in julle hart tot eer van die Here.” Ons kan die redenasie volg dat die inhoud van liedere bepaal of ons daarna moet luister of nie.  

Soms is dit nie so voor die hand liggend of sekere liedjies of kunstenaars teen Bybelse waardes en beginsels gaan nie, dus moet ‘n mens ’n bietjie fyner gaan luister. Daar is dalk niks fout met die inhoud van die musiek van ’n sekere kunstenaar nie, maar wel met die leefstyl wat hy/sy handhaaf. Mag ons dan nog na daardie kunstenaar luister? Waar trek ons die lyn?  

’n Goeie maatstaf hiervoor is om te dink hoe dit gaan voorkom as jy vir ander mense sê dat jy na ’n sekere kunstenaar luister. As hulle geskok is dat jy as Christen daarna luister, moet jy nadink of jy op die regte spoor is. Die Here het ons almal gesonde verstande gee waarmee ons kan dink en differensieër tussen wat vir en teen Bybelse beginsels is. As jy onseker is, vra vir iemand wat jy vertrou en wat bekwaam is om ’n eerlike en objektiewe Bybelse opinie te lewer. 

Soms is dit nie so swart en wit nie. Soms is die musiek waarna jy luister se inhoud neutraal, in die sin dat dit nie teen Bybelse beginsels druis nie. Dan moet jy kyk na die kunstenaar: wat is sy beginsels? Stem dit ooreen met ons beginsels as Christene? Voel jy gemaklik om na hul musiek te luister? Dit is vrae soos die wat jy jouself moet vra as jy selfondersoek doen oor jou keuse van musiek. Straal dit ’n goeie lig uit as jy na hierdie spesifieke musiek luister? Of doen dit skade aan die beeld van Christenskap? 

Beteken dit dan dat ons net na musiek mag luister wat deur Christene gemaak is? Waar trek ons die lyn? Moet ons net kos eet wat deur Christene gemaak is? Mag ons net huise koop waarvan elke baksteen deur ’n Christen gepak is? Moet ek net met Christene praat? Mag ek net op paaie ry wat deur Christene gebou is? Nee, dis absurd om so te dink. Ons lewe in ’n sondige wêreld, maar ons moet nie deel van die sonde word nie. Ons is sondige mense. Ons is beslis nie perfek nie, maar ons moet streef daarna om die Bybelse beginsels toe te pas op elke aspek van ons lewens, insluitend watter musiek ons na luister. Doen ondersoek en vra mense rondom jou as jy onseker is. Markus 9:43 sê: “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan.”  

Hierdie is ’n baie komplekse gesprek en daar is baie opinies oor die saak. Kom ons help mekaar deur gesprekke te hê oor hierdie sake en mekaar te help om in harmonie met die wil van die Here te lewe.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp