Wat kan ons uit die boek Ester leer in vandag se tyd?

Daar is baie mense wat glo dat die boek Ester nie in die Bybel hoort nie, omdat God se Naam, Jahweh, nie in die boek genoem word nie. Ons weet egter dat God se hand sigbaar is in al die gebeure wat rondom sy volk plaasvind. God werk agter die skerms. 

Wat kan ons uit die boek Ester leer in vandag se tyd?
Photo by Billy Pasco / Unsplash

Geskryf deur Ineke Bijker, VKG Pretoria

Daar is baie mense wat glo dat die boek Ester nie in die Bybel hoort nie, omdat God se Naam, Jahweh, nie in die boek genoem word nie. Ons weet egter dat God se hand sigbaar is in al die gebeure wat rondom sy volk plaasvind. God werk agter die skerms. 

‘n Voorbeeld hiervan is wanneer Mordegai vir Ester sê: “Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom” (Ester 4:14a). As Mordegai verwys na “'n ander kant” waarvan daar “verligting en redding” gaan kom, verwys hy na God. God is agter die skerms besig om verlossing vir ons te bewerkstellig, soos wat Hy regdeur die hele Bybel besig is om te doen en vandag steeds doen. 

So wat kan ons vandag uit Ester leer?

God voorsien. God het geweet dat sy volk in gevaar was, as gevolg van die duiwel se plan om hulle uit te roei. Hy het op sy tyd redding gebring. Hy het voorsien dat Mordegai op die regte tyd op die regte plek was om die sameswering teen koning Ahasveros te hore te kom. Hy het ook vir Ester die vrymoedigheid gegee om na koning Ahasveros te gaan. God voorsien vir elkeen van ons wat ons nodig het. Hy gee vir ons die krag om ons daaglikse arbeid te verrig. Hy maak seker dat ons genoeg kry om te eet. Hy sal vir ons voorsien in alles wat ons nodig het. 

God is altyd aan die werk, selfs al kan ons dit nie sien nie. In donker en swaar tye kan ons daaraan vashou dat God ‘n plan en doel met ons lewens het. Ons mag weet dat ons deel is van God se agenda vir die wêreld. Ons lewens is deel van 'n groter plan -  'n veel groter plan as wat die menslike brein kan verstaan. Alles wat met ons gebeur, werk uiteindelik uit tot ons beswil. God gebruik al ons omstandighede, goed of sleg, om ons op die regte spoor te hou.

God gebruik alledaagse mense sowel as invloedryke mense. Hy gebruik ook sondige mense soos Ester en Mordegai, wat gekies het om in Babel te bly eerder as om saam met die volk terug te gaan na God se beloofde land en tempel. God gebruik ons ook as sy beeld om te wys dat alles gebeur soos wat Hy wil. 

Ons leer ook, soos dit in Spreuke 21:1 staan, dat “die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” God het koning Ahasveros daartoe gelei om in die nag wakker te lê en die kronieke te laat lees, terwyl Haman beplan het om Mordegai te vermoor. God het koning Ahasveros se hart geopen om aan Ester en Mordegai se behoeftes te voldoen. Dieselfde geld vir vandag se heersers. God werk ook deur hulle, daarom mag ons glo en vertrou dat selfs as hulle verkeerde keuses maak wat in stryd is met wat ons glo, God hulle gebruik tot eer en verheerliking van sy Naam. 

Daar is baie meer wat ons kan leer uit die boek Ester. Een van die belangrikste goed wat ons deur die hele boek Ester kan sien en leer, is dat God in beheer is van alle dinge. Soos Paulus dit duidelik stel in Romeine 8:28: “Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Bronne

https://www.olivetree.com/blog/god-book-of-esther/

https://www.gotquestions.org/Book-of-Esther.html

https://studyandobey.com/character-studies/esther-charater-study/

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp