Wanneer eksamen stres te veel word

Almal moes al in hulle lewe ‘n toets aflê. Dit begin al in laerskool en vir sommige mense gaan dit aan tot ver in hulle volwasse lewe. Almal weet hoe dit voel voor jy die lokaal betree vir eksamen, voor jy in die motor klim om jou bestuurslisensie te haal.

Wanneer eksamen stres te veel word
Photo by Ben Mullins / Unsplash

Geskryf deur Marna Potgieter, VGK Bellville

Almal moes al in hulle lewe ‘n toets aflê. Dit begin al in laerskool en vir sommige mense gaan dit aan tot ver in hulle volwasse lewe. Almal weet hoe dit voel voor jy die lokaal betree vir eksamen, voor jy in die motor klim om jou bestuurslisensie te haal of op pad na ‘n saal om toelatingseksamens af te lê vir tersiêre opleiding. Dit is op die beste van tye nie ‘n lekker gevoel nie.

Dit is natuurlik ‘n voorreg om eksamen te kan aflê of om die geleentheid te hê om aansoek te kan doen vir verdere studies, maar, net voor jy jou pen optel, dink ‘n mens meestal nie daaraan nie. En dit is menslik. Stres is deel van die lewe – hoe jy dit hanteer wat die verskil maak. Maak dit van jou ‘n ongelowige as jy ‘n knop in jou keel het of as jou hande bewe? Nee, glad nie, maar jy kan dit vir jouself makliker te maak deur (i) die regte ding te doen, (ii)op die Here te vertrou, (iii) in Hom te rus en (iv) perspektief te behou.

Doen die regte ding

Almal sal saamstem dat as jy nie getrou jou werk doen nie, jy nie seën daarop kan verwag nie. Aan die ander kant is dit ook nie geval van “do your best and God will do the rest” nie. Alles in die lewe is een – jy kan nie jou geloof losmaak van enige iets wat jy in die lewe doen nie. Jou geloof in God is deel van jou gaan slaap en opstaan… jou alledaagse lewe. Dit moet dus ook ‘n rol speel in jou studies en eksamens. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat jy in alles wat jy doen, ‘n kind van God is en jy daarom jou werk tot Sy eer moet doen.

“En wat julle ook al doen, doen dit van harte, soos vir die Here en nie vir mense nie…”

Kolossense 3:23

Vertrou op die Here

As jy dan voorberei vir jou eksamen, moenie op jou eie kragte of kalmte staatmaak nie. Ons weet tog dat ons tot alles in staat is deur God wat ons krag gee. Ons is nie, soos die wêreld ons wil wysmaak, tot alles in staat as ons hard genoeg werk of dit graag genoeg wil hê nie. Alles is gawes van God af: die geleentheid om te leer en te kan eksamen skryf, die verstandelike vermoëns om te kan studeer, die vermoë om te kan fokus en te konsentreer – en selfs vrede en kalmte terwyl ons dit doen.

Daarom – as ons vir eksamens voorberei of enige spanningsvolle situasie tegemoet gaan, laat ons eers tyd saam met ons Here spandeer.

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Filippense 4:6-7)

Rus in die Here

As ons ons vertroue in God stel, moet ons ook in Hom rus. Ons kan so erg op ons eie kragte staatmaak of onsself wysmaak dat ons net nog harder moet werk as ons seën wil verwag op ons studies. Beplan jou studies, doen jou werk, maar rus in die Here. Vertroue bring rus. As jy tot die Here gebid het vir kalmte en sukses in jou studies, gaan werk dan en rus. Moenie saans leer tot jy gaan slaap nie – maak tyd om die Bybel te lees en te bid, om rustig te raak voor jy gaan slaap. Buiten die feit dat dit goed vir jou is om so te gaan slaap, kan God enige iets vir jou gee in jou slaap gee.

Rus in die Here op Sondae, tydens Bybelstudie en katkisasie – moenie sonder ophou studeer nie. Gee aan God die eer wat Hom toekom. Hy bepaal die gang van jou lewe. Geen haar sal van jou hoof val sonder dat Hy daarvan weet nie. Hy is met jou tot die voleinding van die wêreld.

Kyk na geloofshelde soos Dawid en Daniël. Dawid het vir sy lewe gevrees en Daniël was besorgd oor sy volk in ballingskap. Beide het nie opgehou om God te aanbid nie – geen aardse magte of kragte het hulle van God kon skei nie. Die Psalms is vol van Dawid wat uit vrees na God gaan en dan rus vind – in dieselfde Psalm. Van Daniël is gesê dat hy voortreflik en nougeset was in alles wat hy gedoen het, en steeds het hy God aangeroep en op Hom gewag. Hy het nie sy eie planne gemaak nie. Die twee manne het baie groter angste en bekommernisse gehad as bloot ‘n eksamen, maar ons kan baie leer uit hoe hulle met hulle vrese en spanning na God gegaan het.

“Ek sal gerus gaan slaap in vrede en ongestoord lê ek my neer, want U alleen verhoor by bede, U waak oor my in teënhede.” (Psalm 4 – berymd)

Behou perspektief

As ‘n mens Dawid en Daniël se psalms en lewensverhale lees, kan jy nie anders as om te besef dat jy perspektief moet behou nie. Eksamens is net ‘n onderdeel van ons lewe, moontlik ‘n belangrike onderdeel, maar nogtans net ‘n onderdeel. Eksamens is belangrik, want ons as Christene moet ons plek vol staan in die samelewing – ook sodat ons ander mense tot seën kan wees. Eksamens bepaal nie of jy ‘n suksesvolle lewe het nie. Net soos jou aardse besittings, kan jy ook nie jou geleerdheid saam met jou neem as jy sterf nie. ‘n Suksesvolle lewe is ‘n lewe saam met God – om kennis van ons Redder, Jesus, te versamel en uit dankbaarheid en vreugde te lewe – al is jou lewe hoe eenvoudig.

“Wat het ek in die Hemel Heer? Wat kan ek newens U begeer? Wat het ek waar my hart onrustig hom in die aarde kan verlustig?” (Psalm 73 berymd)

So, as die eksamenstres te veel word, word stil, bid, gaan werk en gaan rus – in die Here! Ervaar hoe waar Dawid se woorde is in Psalm 94:19 waar hy bid en vir die Here sê dat wanneer sy gedagtes te veel en te deurmekaar word, versterk die Here se trooswoorde sy siel. Niks in ons lewe is te onbelangrik om oor te bid nie. Jy is in ‘n verhouding met God, praat dan ook met hom as dit minder goed gaan en die eksamenstres te veel word. Luister dan ook na Sy liefdevolle raad en vertrou Hom, want op Hom kan jy staatmaak.

Bronne:

  • Die Bybel
  • Die Vox Viva Toep
  • www.vgk.org.za
  • www.gkwonderboompoort.org
  • www.christianstudylibrary.org