Waarom laat ’n goeie God slegte dinge toe?

Wat het die vrye wil, God se plan, beproewing en dankbaarheid vir lyding te doen met waarom ’n goeie God slegte dinge toelaat? Om die vrae te beantwoord gaan ons kyk na elkeen.

Waarom laat ’n goeie God slegte dinge toe?
Photo by Nik Shuliahin 💛💙 / Unsplash

Geskryf deur Cornèl Meyer, VGK Pretoria

Wat het die vrye wil, God se plan, beproewing en dankbaarheid vir lyding te doen met waarom ’n goeie God slegte dinge toelaat? Om die vrae te beantwoord gaan ons kyk na elkeen.

Die vrye wil

God het vir die mens sy eie vrye wil gegee sodat ons ons eie besluite kan maak. Ons kan heel aan die begin van Genesis sien dat die mens die besluit gemaak het om tog van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet. Dit was ongelukkig waar die sonde begin het. Waarom het God dit dan toegelaat dat die mens in die eerste plek die besluit kon maak? As God ons as mense so geskape het dat ons altyd sy wil gehoorsaam, is daar dan steeds vrye wil? Ons het vrye wil binne God se wil, maar tog laat Hy ons toe om besluite op ons eie te maak, sodat ons nie net soos robotte funksioneer nie. Die vrye wil is soos om op jou pa se skoot in die wildtuin te bestuur: as kind glo jy dat jy die kar bestuur en beheer. Solank jy op die pad bly is alles goed, maar jou pa sal die stuurwiel gryp sodra daar gevaar kom en jy van die pad afdwaal. Net so beskerm God ons teen die Bose en dinge wat ons nie kan teenstaan nie. Dit bring ons nou by die volgende punt.

God se plan is nie ons plan nie

“Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here. “ Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne.”
- Jesaja 55:8-9
“Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee.”
- Jeremia 29:11
Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
- Job 42:2

God se eindpunt is wel by ons bekend - dit is tot verheerliking van Sy naam en dat ons Hom dien - maar die pad/roete daarheen is slegs by God bekend. Soms is daardie pad vol slaggate, sagte sand, modder en klippe. Ons gly of val hier en daar, maar dit bring ons terug na Hom. Dit help ons om op Hom en Hom alleen te vertrou. Is jy reg aangetrek vir daardie pad? Wanneer alles in ons lewens uitmekaarval, verstaan jy nie altyd hoekom God hierdie dinge in jou lewe toelaat nie. In Psalm 121:1-3 lees ons: “'n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie.” en in Lukas 12:34: “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

God doen dinge sodat ons weer op ons knieë moet gaan, want al ons aardse skatte, vertroue en hoop is weg. Dan bly net Hy oor! Ons daaglikse lewe moet so wees. God moet ons fondasie wees. Ons is die heeltyd geneig om aardse skatte na te jaag en elke keer skuif ons God maar net weer ’n trappie na onder. Hy wil nie dit laat gebeur nie, daarom beproef Hy ons in die geloof.

Beproewing en karaktervorming

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is.
- Romeine 8:28
Hy sal gaan sit as iemand wat silwer smelt en suiwer. Hy sal die Leviete reinig en hulle soos goud en silwer suiwer. Hulle sal aan die Here behoort, en offers in geregtigheid bring.
- Maleagi 3:3

God vorm ons deur beproewings en maak ons daardeur sterker. Hy louter ons soos goud om ons puur te maak. ’n Bybelstudiegroep het een keer Maleagi 3 behandel en hulle wonder toe hoe goud gelouter word. Een van hulle maak ’n afspraak by ’n goudsmit en kyk hoe die goudsmit die stuk goud met die flam gloeiend warm maak. Hy vra toe of dit nodig is om heeltyd by te wees en of hy nie net die flam daar kan hou en kan aangaan met ander werk nie. Die goudsmit antwoord toe dat hy die heeltyd moet kyk, want as die goud te lank in die vlam gehou word, kan dit brand en beskadig. Die man vra toe: “Maar hoe weet jy as die goud puur en skoon is?” Die goudsmit antwoord en sê: “Wanneer ek my beeld daarin kan sien.”

Ons is die goud. Ons word soms in hierdie warm vlamme gehou en beproef. Dit is soms hartseer of pynlik. God beproef ons deur “slegte” ding in ons lewe toe te laat, soos om mense vir wie ons lief is uit ons lewens weg te neem. Dit alles doen God egter om ons puur te maak, sodat Hy sy beeld in ons kan sien! Die mooi daarvan is dat God altyd daar is, deur die hele proses. Hy laat ons nie alleen nie. Hy doen dit sodat ons sy mooi beeld ook na die wêreld kan uitstraal.

Dankbaarheid vir ons lyding

Nou mag jy dalk dink: “Hoe kan ons dankbaar wees vir ons lyding?” Ons kan en moet eintlik wees. God gebruik nie altyd ‘n lekker proses nie; die vormingsproses is soms hard. As ‘n mens na ’n beeldmaker kyk wat iets uit hout kerf, gebruik hy soms ’n byl wat groot stukke hout afkap. Soms gebruik hy die klein handskaaf om dit te vorm, maar op die ou end is die beeld baie mooi. Die proses laat ons groei in die geloof en dit help ons om op Hom te vertrou.

Nog iets om voor dankbaar te wees is die gemeenskap van heiliges. As alles goed gaan, vertrou jy baie op jouself en het jy hulle nie nodig nie. Dan leef jy vir jouself. Daar is niks wat die krag van die gemeenskap van die heiliges laat uitblink soos tye van nood nie. Dan staan ons saam en ondersteun mekaar. Uit ervaring kan ek sê dat wanneer jou lewe op sy slegste lyk en alles onderstebo gegooi is, is dit juis wanneer God hulle stuur om jou te ondersteun. Ons is geseënd met ‘n sterk en mooi gemeenskap van heiliges wat mekaar se laste dra en ook kan deel in mekaar se blydskap. Deel alles van jou lewe met hulle, nie net die slegte nie, maar laat hulle saam met jou ook in jou blydskap deel!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp