Vryspraak deur Sy bloed
Ons skuld is nie weggeneem nie. Dit is afbetaal. Toe Jesus op die kruis gehang het, het Hy gesê: “Dit is voltooi.” Dit is een woord in Grieks: "Tetelestai". In 'n besigheidskonteks word dit gebruik om aan te dui dat skuld volledig afbetaal is.
Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria
Ons skuld is nie weggeneem nie. Dis afbetaal. Toe Jesus op die kruis gehang het, het Hy gesê: “Dit is voltooi.” Dit is een woord in Grieks: "Tetelestai". In 'n besigheidskonteks word dit gebruik om aan te dui dat skuld volledig afbetaal is. In 'n regterlike hof is dit gebruik om aan te dui dat 'n bepaalde vonnis volledig uitgedien is. In 'n militêre konteks het dit beteken dat 'n oorlog gewen is. Toe Jesus gesê het: “Tetelestai”, het Hy eintlik gesê: :Die sondeskuld is ten volle afbetaal, die vonnis is ten volle uitgedien en die stryd teen die sonde en die dood is heeltemal oorwin."
Dit is nie altyd maklik om te vergewe nie. Daarom het God Jesus Christus gegee as voorbeeld en as krag waarmee ons dit kan doen. Dit is dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het wat ons daagliks uit God se hand ontvang.
As ambassadeurs van God in hierdie wêreld vra Hy ons om ons naaste te vergewe, soos Hy ons vergewe het (Mattheus 6:12 en Kolossense 3:13). Hoe vergewe ons? Vir vergewe is daar twee Griekse woorde wat ons moet verstaan. Die eerste is “aphiemi” (word gebruik in Mattheus 6:12 en 18:21), wat beteken om te laat gaan of te los. Die tweede is “charizomai” (dit word gebruik in Kolossense 3:13), waarvan die wortel “charis” is, wat "genade" beteken. As ons dus vergewe, laat ons eerstens die sonde wat teen ons gedoen is, gaan en tweedens bly ons steeds vol genade teenoor die persoon.
Ons kan seker sê: "Vergewe en vergeet", alhoewel dit nie die kern daarvan saamvat nie. Dit sou beter wees om te sê: "Ek hou geen aanstoot teen jou en ek bring dit nie meer op nie. Ek maak doelbewus 'n punt daarvan om nie meer hierdie wat jy teen my gedoen het, op te bring teen jou of ander nie. Ek dink ook nie meer in bitterheid daaraan nie. Ek laat nie toe dat dit tussen ons gaan staan nie.
Dit klink reg om te sê: "As iemand opreg berou het, sal 'n mens hom opreg kan vergewe." As jou broeder vir die soveelste keer teen jou gesondig het en duidelik nog steeds nie ware bekering toon nie, kan jy hom steeds vergewe?
In Mattheus 18:21-22 staan daar: “Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar sewentig maal sewe toe.” (AFR53)
Ja, ons kan. Ons kan en ons moet. Jesus verwys hier nie net na die hoeveelheid kere wat ons moet vergewe nie, maar Hy verwys ook na opregte vergewing, al toon ons broeder nie ware berou of bekering nie. Daarom kan ons nie net vergewe as iemand opreg berou het nie. Ons moet altyd vergewe, selfs al verander die persoon nie sy gedrag nie.
Dis die mooi van vergifnis in Jesus Christus. Ons kan niks aan Jesus bied nie, maar tog vergewe Hy ons. Daarom moet ons ook ons naaste vergewe, al word daar nie ware berou getoon nie.
Vergewing kan 'n lang proses wees. Vergewing is 'n keuse wat jy moet maak. Ek gaan kies om nie weer te dink oor hierdie onreg wat teenoor my gepleeg is nie. Ek kies om nie bitter teenoor die betrokke persoon te wees nie. Tydens vergewing kan daar ook 'n verlies gely word. As ek waarlik die betrokke persoon gaan vergewe, gaan ek ook kies om die verlies te ly.
'n Ander deel van vergewing is selfvergewing. Is dit Bybels? Wel, nee, nêrens in die Bybel staan dat byvoorbeeld Paulus homself vergewe het vir die sondes wat hy gedoen het nie. Ons dink dit is nodig om onsself te vergewe vir sondes wat ons gedoen het, maar wie is ons om onsself te vergewe? Is ons God, dat ons ons eie sondes moet vergewe? As jy in ware geloof vashou aan die vergewing van sondes wat ons in Jesus Christus het, sal jy ook nie sogenaamde selfvergewing nodig hê nie. Die verlossing in Jesus Christus is al vergewing wat ons nodig het. So vind ons rus in Christus met sy tweede laaste kruiswoord: "Tetelestai."
Bronne
- Gale, S. D. (2016). Finding Forgiveness: Discovering the Healing Power of the Gospel. RHB.
- Nederveen, I. (2024). Christenlike Konflikhantering: Salig is die vredemakers. Vrouesaamtrekdag.
- TETELESTAI-Paid in Full. (s.j.). Herwin van Precept Austin: https://www.preceptaustin.org/tetelestai-paid_in_full
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp