Vriendskap en eensaamheid in ʼn kitswêreld

Die emosionele uitdagings wat jongmense beleef word dikwels onderskat. Om jonk te wees word ingesien as ʼn sorgvrye seisoen in ons lewens, maar niemand berei jou voor vir die laste wat voorlê nie.

Vriendskap en eensaamheid in ʼn kitswêreld
Photo by Josh Hild / Unsplash

Geskryf deur Dalene de Vente, VGK Pretoria

Die emosionele uitdagings wat jongmense beleef word dikwels onderskat. Om jonk te wees word ingesien as ʼn sorgvrye seisoen in ons lewens, maar niemand berei jou voor vir die laste wat voorlê nie. Hoe hanteer jy verlies, verwerping of eensaamheid as ʼn jongmens? Hoe bly mens ʼn goeie vriend?

Ek het vir ʼn paar van my vriende gevra wat sou hulle sê is die tien grootste uitdagings wat ʼn jongmens in die gesig staar? Sommige van die dinge wat genoem is, lui soos volg: Finansiële laste; spanning om te presteer; emosionele pyn; groepsdruk; egbreuk (jyself of ouers); die begeerte om in te pas by sekere groepe; liefdesdramas; eensaamheid; om studies, sport en vriende en godsdiens te balanseer; jou verantwoordelikheid wat groter word; verhouding met God; met mense te praat oor geloof; nuwe vriende te maak en oues te verloor.

Ek skryf graag oor die volgende: vriendskap en eensaamheid.

Vriendskap

Binne die wêreld waarin ons lewe is vriendskap soms baie goedkoop. Sosiale media is oorvol met gesegdes oor vriendskap en wyshede oor die hantering van verhoudings. Jy lees dinge soos “Don’t cross oceans for people who wouldn’t even jump puddles for you.” “Never push a loyal person to the point they no longer care,” en “Two things you should never chase, true friends and true love.”

Sommige wyshede is dalk waar en in sekere situasies het mense nodig om dit te hoor. Maar gee mense vandag nie te gou moed op met verhoudings en vriendskap nie? Ons druk ʼn paar knoppies en dan staan die pizza voor ons hek en Checkers kom laai binne 60 minute jou inkopies by die hek af. Alles gebeur vinnig.

In Kolossense 3:13 en 14 lees ons: “soos Christus julle vergewe het, so moet julle ook doen.” In boeke wat ons lees, of in televisiereekse wat ons kyk, word ons beïnvloed (sonder dat ons dit altyd besef) om te dink dat dit jou reg is om nie te vergewe nie. Christus vra egter van ons hier: “vergewe mekaar, soos wat Ek julle vergewe het!”

Deur gelowige vriende word ons gevorm. Hulle help ons om weer op te staan. Hulle deel in ons lewe: die seerkry en die vreugde. Ons leer om lief te hê soos Christus: ons vergewe mekaar weer en weer! Bid vir jou vriende, dra hulle op, waardeer hulle. Veg vir hulle wanneer hulle wil wegloop, wees daar vir hulle wanneer hulle dit nodig het, wees geduldig in hulle swakheid, wees bereid om opofferings te maak.

Nog wenke:

  • Bring vir jou vriendin ʼn kaartjie of ʼn blom in plaas van ʼn Whatsapp-boodskap.
  • Indien jou lewe werklik besig raak, stuur ten minste eenkeer per week ʼn boodskap aan jou vriende net om te laat weet dat jy aan hulle dink.
  • Sit ʼn reminder op jou foon vir hulle verjaarsdae
  • Onthou om jammer te sê
  • Moenie net vriendskap meet aan dit wat jy ontvang nie
  • Kommunikeer saam oor julle verwagtinge van vriendskap.

Eensaamheid

Wat doen ʼn mens wanneer jy eensaam voel?

  • Vermy sosiale media-netwerke: wanneer jy eensaam is wil jy nie sien hoe daardie meisie wat saam met jou op skool was in Hawaii vakansie hou nie. Dit vererger net jou eensaamheid en lê meer klem op die alleenheid. Ek het self in sommige tye van my lewe my Facebook-rekening gedeaktiveer.
  • Reël ʼn kuier saam met jou vriende, miskien kan dit nie onmiddellik nie, maar net om te weet dat jy kan uitsien daarna om tussen mense te wees, kan jou help om die eensaamheid te hanteer.
  • As jou vriende nie beskikbaar is nie, nooi iemand wat jy nog nie so goed ken nie, maar met wie jy gemaklik kan wees.
  • Gaan kuier by iemand wat jy weet deur ʼn moeilike tyd gaan. Om na ander mense se stories van pyn te luister, help jou om verder te kyk as jouself.
  • Reël ʼn uitstappie saam met mense in jou kerk. Pak ʼn staproete aan, vang vis, hou ʼn speletjiesaand. Selfs al kom daar nie baie mense saam nie, is dit nog steeds die moeite werd.
  • Kry ʼn stokperdjie bv. Kaartjies maak, foto’s neem, maak vir jouself ʼn tuin, skryf.

Ek onthou die een van die mees bemoedigende boodskappe wat ek al ooit gehoor het, was dat Jesus as mens ook al die emosies wat oor ons pad kom, self beleef het. Woede, hartseer, verlies, verwerping – dit is alles emosies wat Jesus moes verwerk. Daarom kan ons as mense by Jesus gaan skuil. Hy sê self in Matteus 11:28: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en ek sal vir julle rus gee.”

Corrie ten Boom het geskryf, alles wat jy beleef maak jou die mens wat jy moet wees: “This is what the past is for! Every experience God gives us, every person He puts in our lives is the perfect preparation for the future that only He can see.” (― Corrie ten Boom, The Hiding Place)

Jy kan oor enigiets skryf vir ons! Gebruik gerus die volgende skakel vir meer inligting: Skryf vir ons!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp