Versoening.
Afgelope Saterdag hardloop ek gou vining in ‘n winkel in om paar dinge te koop. Buite vang ‘n bord my oog “Blessed Yom Kippur”. Hierdie jaar (2026) was Yom Kippur (die groot versoendag) vanaf sononder Sondag 20 September tot Maandag aand.
Lees: Levitikus 4-7:21
Afgelope Saterdag hardloop ek gou vining in ‘n winkel in om paar dinge te koop. Buite vang ‘n bord my oog “Blessed Yom Kippur”. Hierdie jaar (2026) was Yom Kippur (die groot versoendag) vanaf sononder Sondag 20 September tot Maandag aand. Die groot versoendag word beskou as die mees heilige dag in die Joodse Kalender.
Terwyl die Jode die groot versoendag vier wil ek ook hierdie week aandag gee aan die wonderlike boodskap van versoening soos wat ons daarvan kan leer uit die sond- en skuldoffers.
Die sondoffer se doel was primêr om versoening te doen voor God, terwyl die skuldoffer se doel meer was om skuld af te betaal, daarom moes die oortreder 20% meer gee as dit wat hy skuldig was. Lees gerus die besonderhede van beide hierdie offers in Levitikus en Numeri. Eerder as om op die detail te fokus wil ek let op drie belangrike toepassings: (i) sonde in swakheid vs moedswillige sonde, (ii) skuldbelydenis en (iii) die volmaakte offer van Christus.
Sondes in swakheid vs moedswillige sondes
Die sondoffer en skuldoffer was beide bedoel om versoening te doen vir sondes wat onopsetlik, uit nalatigheid of soos die Bybel dit stel “uit swakheid” gedoen is. Dit is belangrik om uit te lig dat moedswillige sondes die doodstraf verdien het beide:
- in die Ou-Testament (Numeri 15:22-31) : “En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die Here begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word… Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die Here; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit. ”
- en ook in die Nuwe-Testament (Hebreërs 10:26-31): “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”
Neem jou lewe onder die vergrootglas. Hoeveel keer doen ons nie sondes uit swakheid nie. Ons is so goed om verskonings uit te dink vir ons sondes, om onsself te oortuig dat ons sondes nie opsetlik was nie. Ek het so kwaad geword omdat hy dit of dat gedoen het. My vriendinne skinder en ek wil nie die geselligheid van die kuier opmors nie. Die sisteem is korrup, ons moet nou maar net ook betaal. Dink maar aan jou eie scenario’s.
En dan die nog meer konfronterende vraag: is daar moedswillige en opsetlike sondes in my lewe? Doen opreg selfondersoek!
Skuldbelydenis
As ons eerlik is, weet ons ons verdien die doodsvonnis, “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” (Romeine 3:10). Wat nou gemaak?
In sy ongelooflike genade nooi God sondaars om na sy heiligdom te kom! Hy nooi ons om ons skuld te bely. Dit was in wese wat jy gedoen het as jy met jou sond- of skuldoffer na die heiligdom gegaan het.
Ons bring nie meer sond- en skuldoffers nie, so skuldbelydenis loop die gevaar om baie minder prakties in ons lewe te wees. Die Bybel is egter baie duidelik oor die belangrikheid van skuldbelydenis: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).
Maak dit prakties, bely jou sondes by die naam. Moet nie net in die algemeen bid vir vergewing van sondes nie, doen werklik selfondersoek.
Ongelukkig is dit soms vir ons makliker om God om vergewing te vra as ons naaste. Die skuldoffer sluit in om jou naaste te vergoed vir enige skade wat jy hom aangedoen het. Jesus self leer ons: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe” (Mattheüs 5:23-24).
Jesus ons offer
Maar hoe is dit moontlik, hoe kan ons, sondige mense, voor ‘n heilige God nader? Ons weet reeds dat die wet ons tot dood veroordeel het. Verder lees ons in Hebreërs 9:22 “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie”.
God sy dank: Jesus het sy bloed kom vergiet om vir ons die volmaakte versoening te bewerk, want “die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Hebreërs 10:4).
Die boek Hebreërs werk op ‘n wonderlike manier uit hoe Jesus die finale en volmaakte offer is. Lees gerus hierdie verrykende boek op jou eie tyd. Tog wil ek hierdie kort reeks afsluit met ‘n pragtige aanhaling uit die laaste hoofstuk van Hebreërs, ‘n aanhaling wat mooi aansluit by die voorskrifte vir die sondoffer wat buite die laer verbrand moes word (Levitikus 4:12), maar ook ‘n aanhaling wat die hele boodskap van die offerdiens pragtig vir ons saamvat (Hebreërs 13:10-16):
“Ons het 'n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word — hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. Laat ons dan gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers.”
Coram Deo
Doen opregte selfondersoek. Neem jou lewe onder die vergrootglas en bely die sondes wat jou van God vervreem en jou skuldig laat staan teenoor jou naaste. Sonde is dodelik, en God se heiligheid kan dit nie verdra nie. Maar moet nie moedeloos wees nie, God is genadig, Hy maak die pad oop tot versoening, vir egbreekers soos Dawid, moordenaars aan ‘n kruis, vervolgers op die pad na Damaskus en ook vir jou en my. Loof en dank God vir die versoening wat ons deur die volmaakte offer van Jesus Christus kan kry en gee jou hele lewe as dankoffer aan Hom.
Gebed
Almagtige, Drie-enige God. Here ek doen so baie sondes weer en weer. “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek… Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Romeine 7:14-25). Here, want hoe wonderlik is u belofte in Christus. Vergifnis, liefde en ‘n verhouding met U. Was my genadiglik skoon, skep in my ‘n nuwe hart (Psalm 51). “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Daarom sal elke vrome U aanbid” (Psalm 32:5-6). Here, help my dat dit ook in my lewe ‘n werkilikheid sal wees, dat ek my hele lewe as ‘n welgevallige dankoffer aan U sal gee. Dit bid ek in Christus se Naam. Amen
Bronne
- Got Questions. (2026, Januarie 21). What is the Day of Atonement (Yom Kippur)? Verkry vanaf Got Questions: https://www.gotquestions.org/Day-Atonement-Yom-Kippur.html
- Got Questions. (2022, Januarie 4). What is a sin offering? Verkry vanaf Got Questions: https://www.gotquestions.org/sin-offering.html
- Ligonier. (2010, Mei 27). The Sin Offering. Verkry vanaf Ligonier: https://learn.ligonier.org/devotionals/sin-offering
- Got Questions. (2022, Januarie 4). What is a trespass offering / guilt offering? Verkry vanaf Got Questions: https://www.gotquestions.org/trespass-offering.html
- Van Wyk, C. (2017, April 25). Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes. Verkry vanaf Bybel Skool: https://bybelskool.com/levitikus-41-513-die-sondeoffer-as-reiniging-en-vergifnis-van-konkrete-sondes/
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria