Trek God se wapenrusting aan – en gebruik dit!

In hoofstuk 6:10-20 van die boek Efesiërs lees ons dat ons besig is met oorlog. Nie ’n fisiese oorlog nie. Nee, baie erger: ons is in ’n geestelike oorlog. Efesiërs 6:12 sê: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag

Trek God se wapenrusting aan – en gebruik dit!
Photo by wtrsnvc _ / Unsplash

Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville

In hoofstuk 6:10-20 van die boek Efesiërs lees ons dat ons besig is met oorlog. Nie ’n fisiese oorlog nie. Nee, baie erger: ons is in ’n geestelike oorlog. Efesiërs 6:12 sê: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”

Eintlik moet dit jou glad nie verbaas nie. Op verskeie plekke in die Bybel lees jy van die stryd tussen God en die bose magte. Vroeër in Efesiërs staan daar dat ons, voor ons tot geloof gekom het, ons deur die Satan laat lei het (Efesiërs 2:2).

Ons dank God dat dit nie al is wat ons in Efesiërs hoor nie! Paulus skryf dat Christus juis gekom het om sondaars soos ons vry te maak. Hy het ons kom bevry van die slawerny van die sonde en die Satan. Dis hoekom Paulus die gedeelte geskryf het: sodat ons kan weet hoe om die wapenrusting van God aan te trek en kan leer om die geestelike oorlog te veg. Paulus sê ook dat ons nie sterk moet probeer wees deur onsself nie, maar juis kragtig moet wees in die Here (v. 10). 

Trek die volle wapenrusting van God aan (v. 11-17)

In vers 11 sien ons vier dinge van die wapenrusting. Eerstens vertel die apostel Paulus vir ons wie die aanvaller is, naamlik die duiwel. Dan leer ons waarteen ons veg: die liste van die duiwel. Derdens, wat die doel van die wapenrusting is: sodat ons in die geestelike oorloë kan staande bly. Laastens vertel Paulus vir ons hoe ons dit doen: deur die wapenrusting van God aan te trek.

In vers 13 beklemtoon Paulus die belangrikheid van vers 11 deur te begin met “daarom. Hy herhaal dat ons die wapenrusting van God moet aantrek, sodat ons weerstand kan bied teen die geestelike oorloë en staande kan bly in Christus. 

As ons dink waarteen ons veg, het ons geestelike wapens nodig vir die geestelike oorlog. 

Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord (v. 14)

As ons dink aan Romeinse soldate, het hulle belde gedra. Dit het dit vir hulle makliker gemaak om ander wapens te dra en die wapens by te kom tydens ʼn geveg. Dit het ook die swak plekke van die lyf beskerm. Soos die Romeinse soldaat moet ons ook die gordel van waarheid aantrek. Sonder God se waarheid is ons a maklike teiken vir die duiwel. 

Ons lees in Psalm 18:31: “Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter (gesuiwer en waar). Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.” Daar is mag in God se Woord. So as ons dink dat God se waarheid om ons middel hang, kan ons ander instrumente van God ook daaraan hang. As ons nie in die waarheid van God glo nie, dan is daar niks om op te steun nie. Daarom begin Paulus ook met die waarheid. As jy nie in God se waarheid glo nie, het jy niks om op te steun nie.

Johannes 8: 32: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Die eerste ding wat ons moet doen om teen die vyand te veg, is om vas te hou aan God se waarheid. 

Met die borswapen van die geregtigheid aan (v. 14)

Die borswapen beskerm lewensbelangrike organe, spesifiek die hart en longe, en beskerm die soldaat teen dodelike wonde. 

Paulus bedoel die borswapen van geregtigheid, sodat ons moet besef dat die geregtigheid nie ons eie is nie. Soos ons in die geestelike oorlog ingaan, moet ons besef dat die geregtigheid deur Jesus Christus kom. 

Ons sien in 2 Kor. 5:21: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” Deur Jesus se geregtigheid is ons nou geregverdig by God en die duiwel kan dit nie van af ons wegneem nie. Ons is nou die geregtigheid van God deur Jesus Christus. Die duiwel gaan sy bes probeer om ons te oortuig dat dit nie so is nie.

En as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede (v. 15)

Dit is belangrik dat ons as Christene stewige skoene aan ons voete het. ‘n Stewige fondasie in die Evangelie sal ons help om in geestelike oorloë staande te bly. Die bereidheid om te getuig vir Jesus en te praat oor Jesus gaan ons sterker in ons geloof en vertroue maak.

Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus (v. 16) 

In Paulus se tyd was die meeste skilde van hout. Die vyand het pyle van vuur oorgeskiet en om die houtskild te beskerm, het hulle dit met leer oordek. In ons geval moet ons vuurpyle van die bose uitblus, soos sy leuens, verleiding ens. Hoe beskerm ons onsself teen die vuurpyle van die bose? Deur die geloof in God. Daarom is geloof in Christus so belangrik. Daardeur kan ons leuens raaksien en uitblus, sodat die Bose se aanvalle nutteloos is teen die gelowige wat sy of haar geloof in God stel. 1 Petrus 5: 9 sê: “Hom (die bose) moet julle teëstaan, standvastig in die geloof.” Deur geloof en deur te groei in geloof sal ons onsself teen hom kan beskerm. 

En neem aan die helm van verlossing (v. 17) 

Die helm is ʼn belangrike deel van die wapenrusting. Dit beskerm die hoof teen beserings wat dodelik kan wees. Hier kan ons aanneem dat Paulus die gedagtes van die Christen wil beskerm. Ons lees ook in 1 Thessalonicense 5:8: “Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” Die helm dien as beskerming van ons hoop op die saligheid, terwyl die Bose probeer om die hoop af te breek. Sodra die hoop op ons saligheid laag is, verloor ons sig op die doel waarvoor ons lewe. Die helm beskerm ons teen die aanval. Dit help ons onthou van God se saligheid, ons doel in hierdie lewe en ons hoop vir die toekoms.

In Romeine 8:30 – 31 staan: “en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” Dit is die implikasie van ons saligheid: as God vir ons is, wie kan teen ons wees? Dra jou helm.

Die Christen wat teen die duiwel se aanvalle wil bly staan, moet hul gedagtes vul met God se belofte. Hulle is in staat om dit te doen, soos geskrywe is in 2 Timotheus 3:15: “en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”

En die swaard van die Gees (v. 17) 

Dit word dikwels uitgewys dat die swaard die enigste wapen in die wapenrusting is waarmee jy kan veg. Soms is die beste manier van verdediging om aan te val. Ons moet nie net onsself verdedig nie, maar ons moet hom oorwin. 

Soos ons in die vers lees, is die swaard van die Gees die woord van God. God illustreer dit in die gedeelte waar Hy deur die satan versoek word in die wildernis. Hy gebruik die woord van God. Deur die Woord te bestudeer, kan ons ook die bose oorwin.

Trek nou die wapenrusting van God aan (v. 11). Maak dit jou eie. Weet wie jy in Christus is. Leef as verloste kind van God. Dit maak jou sterk teen die aanvalle van die duiwel.

Hoe om die wapenrusting te gebruik (v. 18-20).

Dit is belangrik om by elke moontlike geleentheid vir Christus te bid (v. 18). Ons moet standvastig bly in sy geloof en in sy woord. Dit is belangrik om altyddeur te bid. As ons in ‘n geveg ingaan, is dit belangrik om voorbereid te wees. Jy moet oefen sodat jy gemakliker en meer selfversekerd is. Net so is dit belangrik om te oefen om te bid. Bid, al is dit ʼn klein skietgebed. Dit is moeilik om te bid, daarom is dit belangrik om te oefen. Dit is hoe jy jou verhouding met God bou. Maak ‘n lysie van dinge om voor te bid. Stel vir jou ‘n herinnering wanneer om te bid. 

Ons moet ook ten alle tye waaksaam wees. Maar dit is moeilik om altyd waaksaam te wees en daarom kan ons dit ook vir mekaar noem as ons struikel, sodat ander ook vir jou kan bid. Selfs Paulus vra in vers 19 dat hulle ook vir hom moet bid. Ons moet ook onthou om dit weer vir ons naastes te doen. Vra hoe dit werklik gaan of vra hoe kan jy vir hulle bid. Ons is broers en susters in Christus en as familie moet ons ook na mekaar omsien. 

Deel van waaksaam wees is dat ons “vandag as (ons) sy stem hoor” (Hebreërs 3:7) daarna moet luister. Dit is tyd vir ons om wakker te word. Ons lees in Rom 13:11: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.” God maak ons wakker! 

Opgesom leer ons vyf belangrike punte van die gedeelte. Eerstens, die lewe is ‘n oorlogsveld met oorloë wat ons nie kan sien nie. Geestelike oorloë. Tweedens, die duiwel is magtig. Derdens, daar is baie wêreldse versoekinge rondom ons. Om elke hoek en draai moet ons versigtig wees. Vierdens, ons is swak mense. Ons kan ons nie onsself red nie. Laastens, Christus Jesus het vir ons sondes gesterf aan die kruis. Deur Christus is ons nou meer as oorwinnaars. Deur die wapenrusting van God en in Hom kan ons die geestelike oorloë oorwin. 

“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” 
- Jakobus 4:7-8

Die geestelike oorlog waarin ons is, is geweldig ernstig, maar ons hoef glad nie te vrees nie. God gee ons die krag en die wapenrusting wat ons nodig het. Wees daarom sterk in die Here en trek die volle wapenrusting aan. Dan sal jy staande kan bly in hierdie oorlog.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp