Totale Verdorwenheid en Onweerstaanbare Genade (Dordtse Leerreëls 3/4)
In die Psalmboek is Hoofstuk 3 en 4 saam gesit onder een titel: “Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind”. Nou hoekom is die twee onderwerpe saam onder een hoofstuk?
Hierdie is deel 3 van die Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"
Lees: Efesiërs 2:1-10
Ons het in hierdie reeks van oordenkings alreeds die eerste twee punte van die akroniem ULTIP behandel. Vandag kyk ons verder na die derde en vierde punt, die “T” en “I”:
- Unconditionall Election (DL Hoofstuk 1)
- Limited Atonement (DL Hoofstuk 2)
- Total Depravity (DL Hoofstuk 3)
- Irresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
- Perseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)
In die Psalmboek is Hoofstuk 3 en 4 saam gesit onder een titel: “Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind”. Nou hoekom is die twee onderwerpe saam onder een hoofstuk? Soos beskryf is in die inleidingsartikel van die reeks, die Sinode van Dordrecht het teen die vyf punte van die Remonstrante (die leer van Arminius) geskryf. Toe hulle by die derde leerpunt van Arminius gekom het, het hulle besef dat die punt op sigself lyk of dit skriftelik reg is, maar wanneer dit saam met die vierde punt gelees word dan begin mens foute vind. Daarom het hulle die punte saam beantwoord in Hoofstuk 3/4. Dit word beskryf in 17 paragrawe van Bybelse leer en 9 paragrawe waarin die Sinode die dwalings van Arminius verwerp.
Wat leer Arminius in hierdie derde en vierde punte?
3. Dat die mens nie uit homself die saligmakende geloof het nie, en ook nie deur die krag van sy eie vrye wil nie, aangesien hy in die toestand van afval en sonde nie uit en deur homself iets werklik goeds kan dink, wil of doen nie (soos veral die saligmakende geloof); maar dat dit nodig is dat hy deur God, in Christus, deur sy Heilige Gees wedergebore word en vernuwe word in verstand, gevoelens of wil, en al sy kragte, sodat hy reg kan verstaan, oordink, wil en doen wat werklik goed is, volgens die woord van Christus, Johannes 15:5: “Sonder My kan julle niks doen nie.”
4. Dat hierdie genade van God die begin, voortgang en voltooiing van alle goeie dinge is, ook in soverre dat die wedergebore mens, afgesien van hierdie voorafgaande of bystandbiedende, opwekkende, daaropvolgende en samewerkende genade, nie die goeie kan dink, wil of doen of enige versoeking tot kwaad kan weerstaan nie; sodat alle goeie werke of dade wat bedink kan word, aan die genade van God in Christus toegeskryf moet word. Maar wat die wyse van hierdie genade betref, is dit nie onweerstaanbaar nie, aangesien daar geskrywe is van baie dat hulle die Heilige Gees teëgestaan het, Handelinge 7 en ook op baie ander plekke.
As mens die derde punt lees, lyk dit of daar nie ʼn skriftelike fout is nie; dit is waar dat ons as mense nie enige goed kan doen nie. Maar dit is in punt vier, spesifiek die laaste sin, waar die dwaalleer uitkom. Die laaste sin kom terug op Arminius se leer wat sê dat die mens siek of beseer is en nie totaal verdorwe soos die Bybel vir ons leer nie. Kyk waarop Arminius in die laaste sin klem lê: “Maar wat die wyse van hierdie genade betref, is dit nie onweerstaanbaar nie, aangesien daar geskrywe is van baie dat hulle die Heilige Gees teëgestaan het, Handelinge 7 en ook op baie ander plekke.”
In die vorige oordenking het ons gekyk na Christus wat na die aarde gestuur is. Ons het ook gesien wat Arminius geleer het: dat God, deur Christus, vir alle mense ʼn tweede kans gegee het, maar dat mense wel die keuse het om die te aanvaar of nie. Dit is in Hoofstuk 3/4 waar ons kyk na die “aanvaring” van die genade van God en of dit moontlik is. Die hoofstuk behandel hierdie eerstens deur te kyk na die verdorwenheid van die mens, dan sy bekering tot God en laastens na die wyse waarop hierdie bekering plaasvind.
Nou hoe pas ons dit toe op vandag en die wêreld waarin ons lewe? Die antwoord is KEUSE. Keuse word in ons kulture vandag hoog geag! Ons moet kies waarvan ons hou, wat ons wil doen, wat ons glo en wie/wat ons is. Dit is die gevaar; ons dink ons sal goeie en regte keuse maak, maar dit is glad nie waar nie. Hoofstuk 3/4 leer ons oor ons totale verdorwenheid. Ons kan niks, NIKS, goed doen nie. God het ons perfek en na sy beeld geskape, maar deur die sondeval het ons net slegte dinge op onsself gebring (DL 3/4:1). Die sonde van die ouers word oorgedra na die kinders. Verdorwe ouers = verdorwe kinders (DL 3/4:2). Paragraaf 3 noem dat ons verdorwe mense “onbekwaam [is] tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in sonde en slawe van die sonde.” Kyk na jou lewe - sien jy dit raak? Besef jy hoe sondig en verdorwe jy eintlik is? Ons moet elke dag weer selfondersoek doen; soos Paulus die Korinthiërs bemoedig “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Korinthiërs 13:5).
Paragraaf 3 noem verder dat ons nie onsself kan help of red nie: “kan en wil hulle [die mens] nie tot God terugkeer of hulle bedorwe natuur verbeter of onderneem om te verbeter nie”. Die natuur en die wet kan ons ook nie red nie (sien Paragraaf 4 en 5). Niks kan ons red nie behalwe “die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk” (DL 3/4:3).
Ons is verdorwe. Ons moet dit besef en erken, want anders maak ons God klein en die mens groot. Maar, ons moet ook besef dat God alleen bekering gee. Ons kan niks self doen nie. Paragraaf 11 leer ons van hierdie bekering: “deur die kragtige werking van die Gees ... dring Hy ook deur tot die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is”. Dit is God se onweerstaanbare genade (die vierde punt van ULTIP).
Paragraaf 12 noem dit duidelik, dit is “God wat sonder ons, in ons werk”. Laat dit insink! Ons wat teen God rebelleer, wat totaal verdorwe is, wat die ewige dood verdien, kry sonder dat ons dit verdien, die genade van God. Hy werk dit in ons sonder dat ons daarvan weet. Daarom kan ons nie hoogmoedig word nie – dit is deur God alleen! Kom ons besef dat ons klein en nietig is en so kan ons ook God groot maak in ons lewens. Gee Hom die glorie en eer, soos Judas doen in Judas 1:24 en 25 “Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen”.
Verdere Lesing
- Romeine 6:15-23
- Filippense 2
- Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4
Gebed
Onse genadige en almagtige Vader, Here ons dank U dat ons voor U mag kom. Sonder U sou ons niks kon doen nie, ons sou net die sondige en slegte dinge kies en doen. Maar, Here, deur U alleen is ons gered en kan ons ook in geloof leef deur die Heilige Gees. Help ons om konstant ons lewens te gee vir U en u glorie. Ons bid dit nie omdat ons dit verdien nie, maar deur u Seun, Jesus Christus, Amen.
Coram Deo
Die besef en erkenning dat ons niks goed kan doen nie is moeilik vir ons. Maar die besef dat God alles vir ons doen, stel ons instaat om Hom te dien en prys. Gee alle eer aan God!
Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, God's Glorious GODness (bl. 1-31).
Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata