Nie vir mense nie, maar vir God
In die middel van Jesus se bergpredikasie (Mattheus 6:1-18), bevind ons onsself met drie afsonderlike aspekte van ‘n Christelike leefstyl: liefdadigheid bewys, gebed, en vas. Hoe doen ons dit en hoe verskil dit van die wêreldse beeld?
Matthéüs 6:1-18
In die middel van Jesus se bergpredikasie, bevind ons onsself met drie afsonderlike aspekte van ‘n Christelike leefstyl: liefdadigheid bewys, gebed, en vas. Die aspekte word elkeen in ‘n soortgelyke patroon aan die skare voorgelê: ‘n waarskuwing, hoe die geveinsdes dit doen, hoe ons dit moet doen as gelowiges en die rede hoekom ons dit so moet doen. Christus gee vir ons voorbeelde: Hy verwys na die geveinsdes wat hul eie eer soek en dat hulle nie hul loon gaan verkry nie. Die mentaliteit in teenstelling met die geveinsdes word voorgeskryf as ‘n mentaliteit van verborgenheid, want dit is waar die Vader ons dade sal sien en in die openbaar sal vergelde.
Wat beteken dit dat die Vader ons dade sal vergelde? Beteken dit dat ons ‘n beloning sal ontvang wanneer ons liefdadigheid bewys, wanneer ons bid, en wanneer ons vas? Om dit te verstaan, moet ons kyk na Christus wat die volmaakte voorbeeld van liefdadigheid, gebed en vas vir ons stel. Christus het geen belang daarin gehad om eer by mense te soek nie, maar hy het eerder die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem (Johannes 13:23-26). Hy het Homself verneder tot die dood toe, en daarom het God Hom uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is (Filippense 2:6-9). Kry ons dan ‘n nuwe naam wanneer ons goeie werke doen of nederig is? Die vergelding waarvan Christus praat is nie ‘n loon wat ons verdien nie, maar slegs genade van God aan die wat in Hom is. In Openbaring 3:5 sal, wanneer ons die hemel ingaan, Christus ons naam bely voor die Vader en voor die engele.
Kom ons kyk na elkeen van die aspekte: liefdadigheid, gebed, en vas. Daarby word ‘n fiktiewe karakter se storie vertel om dit aktueel te probeer maak.
“Liefdadigheid bewys” is sinoniem aan “goeie werke doen”. Wanneer ons goeie werke doen, hoe moet ons daarmee omgaan? Christus sê vir ons dat ons nie ‘n trompet voor ons moet blaas wanneer ons goeie werke doen nie.
René het uitgehelp by die kerk se uitreikaksie om mure te verf by die Jakaranda kinderhuis. Deur die dag neem mense fotos van hoe almal werk en daardie aand post René dit op sosiale media. Sy kyk elke 5 minute op haar foon of daar al enige likes of comments ingekom het. Sy praat met haar vriendinne oor hoe sy ‘n positiewe beeld op sosiale media wil uitstraal, maar haar trompet is dopamien-gedrewe - ‘n uitkyk op status.
Ons kry of soek baie keer ‘n rede om goeie werke te doen en daarvoor sal ons soms ekstra baie moeite doen vir eenvoudige resultate. René se probleem is nie haar goeie daad nie, maar eerder dat sy eer soek by mense en nie by God nie. 1 Petrus 2:11-12 gee vir ons ‘n ander beeld van goeie werke. Voor ons goeie werke kan doen, moet ons afsien van vleeslike begeertes. Vers 12 stel dat ons ‘n skoon lewenswandel in die wereld moet hou, sodat die ongelowiges deur ons goeie werke God kan verheerlik. In Lukas 11 waarsku Jesus dat ‘n netjies opgeruimde (maar leë) huis sewevoudig deur bose geeste bewoon sal word. Vul daarom jou huis met geloof en laat goeie werke daaruit voortvloei.
Wanneer ons bid, bid ons tot Iemand persoonlik, naamlik ons Vader wat in die hemel is. Die Jode het in die Ou Testament gebid tot die “God van my vader”, byvoorbeeld die “God van Abraham” (Johannes 5:18)1. Maar Christus, ons middelaar, bring ons nader aan God - deur die aanneming tot kinders (1 Johannes 3:2), mag ons nou roep: “Abba, Vader!” (Romeine 8:15). Ons mag bid tot ons Vader, in die Naam van die Seun, ons middelaar, deur die krag van die Heilige Gees.
Gert bid elke oggend en aand. Vir die afgelope paar maande bestaan sy gebede hoofsaaklik uit ‘n eentonige herhaling wat vra om genesing van sy ma wat siek is. Hy hoop dat hoe meer hy daarvoor bid, hoe groter die kans is dat die Here sy gebede verhoor. Soms wonder hy ook of hy reg bid, so hy sal byvoeglike naamwoorde byvoeg om seker te maak sy versoek aan die Here is duidelik. As mense by die kerk vra of hulle kan help met die situasie, is sy antwoord eenvoudig dat hulle kan bid vir sy ma. Hy dink heeltyd aan sy ma en dit is vir Gert moeilik om geloof in sy eie lewe raak te sien. Hy is eerder vasgevang in twyfel en onsekerheid en wonder of God sy gebede sal verhoor.
Gert het gehoop dat sy, en ander mense se gebede, vir sy ma dus ‘n prioriteit by God behoort te kry. Hy het gedink dat hoe meer perfek sy gebede is, hoe groter is die kans dat God dit sal verhoor. Ons gebede is nie eensydig soos ‘n email wat gestuur word, of ‘n brief wat in ‘n posbus gegooi word nie. Gebed is ‘n direkte lyn van kommunikasie met God - deur gebed mag ons ‘n nouer verhouding met God bou deur Hom ons Vader te noem en Hy sal ons sy weë bekend maak (Jeremia 33:3). Ons mag saam met die dissipels in Lukas 11:1 aan die voete van Jesus sit en sê: “leer ons om te bid” en die Heilige Gees sal ons swakhede te hulp kom (Romeine 8:26).
Om te vas is om sonder kos te gaan vir ‘n kort tyd, gewoonlik vergesel deur gebed. Vas is nie om gewig te verloor of om selfbeheersing op kos toe te pas nie, maar dis ‘n Godwaartse oefening.
Tim is 20 jaar oud. Hy is besig met sy LLB by die Universiteit van Pretoria en aan die kant het hy ‘n Instagram account waar hy tips gee vir LLB studente. Maar met sy besige skedule voel hy ver van God. Hy het êrens gehoor dat vas ‘n goeie manier is om nader aan God te kom, maar hy is bang hy sal nie vol kan hou nie. Hy besluit toe om homself aanspreeklik te hou deur elke dag vir ‘n paar weke lank te post dat hy vas. Hy maak dit eerder as ‘n dieet bekend op Instagram om weg te steek dat hy vas en om meer followers te kry. As hy meer as ‘n sekere aantal likes per dag kry, sal hy dit die volgende dag weer doen.
Vas het ‘n een doel: Om ons nader aan God te bring. Toe Christus op aarde was, was dit nie nodig vir sy dissipels om te vas nie (Matthéüs 9:14-15). Tim het oorspronklik die korrekte verstaan van vas gehad, maar hy het nie vertrou dat God hom deur die vastydperk sal dra nie. Daarmee saam het hy ook ‘n sekondêre doelwit gehad naamlik om te sien of hy meer followers sou kon kry. Die eksperiment het dus meer as een doel gehad, maar as ons vas verwag God ‘n skerp fokus op Hom. Vas kan gesien word as ‘n gawe van God: om te onthou, te bely, te rus, toe te wy, en te vier. Wanneer Christus tydens sy versoeking sê dat die mens nie alleen van brood sal lewe nie (Matthéüs 4:4), skuif Hy die fokus van aardse behoeftes na geestelike behoeftes - ‘n doelbewuste keuse.
Deur daarna te streef om Christus se volmaakte voorbeeld en lering van liefdadigheid, gebed, en vas te volg in die Bergpredikasie, kan ons Christus se beeld uitstraal op aarde - ‘n selflose, Godgesentreerde leefstyl. Die vraag is dus nie of ons liefdadigheid bewys, bid, en vas nie - maar eerder: As ons liefdadigheid bewys, bid en vas - doen ons dit tot God se eer of vir ons eie eer.
1 Sien ook Genesis 28:13, Exodus 3:15, Matthéüs 22:32, Handelinge 3:13, en Handelinge 7:32.
Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata