Riviere en Klippe – God lei ons deur dodelike waters heen.

“Jou huis is waar jou hart is.” Dit praat van jou tuiste. So, waar voel jy die meeste tuis?

Riviere en Klippe – God lei ons deur dodelike waters heen.
Photo by Joris Visser / Unsplash

Lees Josua 3 en 4

“Jou huis is waar jou hart is.” Dit praat van jou tuiste. So, waar voel jy die meeste tuis?

Sommige mense sal hulle adres gee. Ander sal weer aan ‘n spesifieke atmosfeer of persoon dink waar hulle gelukkig en veilig voel. Israel het vir baie jare nie ‘n tuiste gehad nie. Eers was hulle slawe in ‘n ander man se land, en toe het hulle vir 40 jaar deur die woestyn gedwaal. Tog was hulle nie sonder hoop nie, want God het belowe dat Hy hulle tuis sal bring.  Net so ly ons almal self aan ‘n tipe heimwee. Ons is nog nie tuis nie – iets bly krap. Dis omdat ons tuiste elders is, of eerder, by Iemand anders is. God gaan ons daar bring.

As ons die verhaal van die deurtog deur die Jordaan sou oorvertel in ons eie woorde, sou ons dink aan die water wat opdam en die mense wat deurtrek. Ons vergeet egter dat die hoofkarakter God self is. Hy het d.m.v. die ark reg in die vloedwaters (3:15) gaan staan. Vloede maak dood, ons land het dit onlangs baie duidelik gesien. Maar geen vloed is groter as God nie. 

So God tree letterlik vir ons in. God neem leiding en gaan staan in die dodelike vloedwaters van die Jordaan. Toe stop die watervloed; die dodelike waters kon God se mense nie aanraak nie en hulle kon droogvoets deurtrek. 

Christus het presies juis dit gedoen. Net soos die ark ‘Immanuel – God met ons,’ was, so het Jesus uit die hemel aarde toe neergedaal en in die dood ingestap aan die kruis. Ons verdrink in ons eie sonde en ellende, ons kan nie self die vloedwaters oorkom nie. Ons het Christus nodig. Slegs deur Hom kan ons die beloofde land binnegaan. En in Hom het die dood sy angel verloor. Ja die dood bly erg, maar vir gelowiges is dit nou net ‘n deur tot die ewige lewe: ewige vrede en heerlikheid met God. Daarom is dit belangrik dat ons besef dat God die hoofkarakter in die deurtog deur die Jordaan is. Ons moet nie die ark vergeet nie. 

God self het ook gesorg dat die ark nie vergete bly nie. Hy sorg vir twee hope van klippe: een in die middel van die rivier en ‘n tweede aan die oewer van die Jordaan. Dit is sodat die mense nie vergeet wat God vir hulle gedoen het nie. Meer nog, is dit ook ‘n leerskool vir kinders. Soos die Heilige Gees dit weergee in vers 6 en 21 van hoofstuk 4, gaan kinders die stapel op die oewer sien en vra: “Wat beteken hierdie klippe?” 

‘n Pa kan dan vir sy seun wys dat daar nog ‘n stapel in die middel van die Jordaan staan. En dan kan hy sê: “Presies daar het die ark van God gestaan, die klippe hier kom van daardie selfde plek af. Jy sien, God self het ons daardeur gebring. Nou is ons hier in die beloofde land, ons huis, ons tuiste.”

Ons het self sulke klipstapels vandag: die doop en die nagmaal. Die doop herinner ons dat die sondes afgewas is deur die bloed van Jesus Christus. En die nagmaal maak dit duidelik dat Jesus se liggaam vir ons gebreek is, soos ‘n brood, sodat ons droogvoets deur die dood kan trek – die beloofde land in.

Jesus self gaan ons kom haal. Sy liefde is veel dieper as die waters van die Jordaan. Ja die lewe gee soms storms en golwe word na ons kant toe gegooi, maar Hy self gaan ons daardeur huis toe neem. Die dood sal ons nie aanraak nie, want Hy gaan ons na Homself toe neem. Hy is ons tuiste.

Coram Deo

Die ark, die rivier, die klippe en die mense dien een doel: die eer van die Here. Net so doen die dood en opstanding van ons Heiland dieselfde, en ook ons eie verlossing dien tot die lof en eer van God die Vader. Dis waartoe alles in die lewe – en selfs die dood – lei. Mag ons daarom so ons hele lewe rig dat dit dieselfde doel dien.

Gebed

Ons almagtige Skepper God en Vader. U is verhewe bo alles, selfs die see en groot watervloede kan nie voor U bly staan nie. Wie is ons dan sonder U, Here? ‘Wat is die mense dat U aan hom dink?’ Ons sou verdrink het sonder U. Ons sou nooit die beloofde land sien as dit nie vir u Seun was nie. Dankie dat Hy ons plek in die dodelike waters ingeneem het, en dit ook oorkom het! Nou weet ons dat ons lewe. Ons verlang na ons tuiskoms, Here. Daarom bid ons, kom tog gou, Here Jesus. Maranata. Amen.

Lees verder

Psalm 69 | Filippense 2:5-11