Maar Here, Ek Kry Skaam

Almal het bagasie wat hulle saamdra. Ons almal het wonde en littekens oor die sonde en ellende wat ons meegemaak het of steeds bly ervaar. Hierdie merke weeg swaar, en ons kry skaam oor hulle. “Hoe kan ek van die skaamte ontslae raak?” 

Maar Here, Ek Kry Skaam
Photo by @felirbe / Unsplash

Lees Josua 5:1-9

Almal het bagasie wat hulle saamdra. Ons almal het wonde en littekens oor die sonde en ellende wat ons meegemaak het of steeds bly ervaar. Hierdie merke weeg swaar, en ons kry skaam oor hulle. “Hoe kan ek van die skaamte ontslae raak?” 

In ons fokusgedeelte lees ons van 2 generasies. Die een is ‘n rebelse groep wat besny is, maar in die woestyn gesterf het. Die tweede is ‘n groep wat op die Here vertrou en hulleself laat besny.

Die eerste groep is die generasie wat uit Egipte uitgelei is. Hulle was almal besny gewees. Hulle het egter telkens teen God gerebelleer: ‘n goue kalf, kla oor kos en water, betwyfel vir God en weier om die beloofde land Kanaän in te gaan. In Numeri 14 lees ons oor 10 van die 12 spioene wat twyfel onder die volk gesaai het. Hulle wou nie die land betree nie, en daarom was hulle straf dus ook dat hulle nie sal ingaan nie. Hulle wou teruggaan Egipte toe, maar sou vervolgens 40 jaar in die woestyn rondswerf en nie die land van melk en heuning sien nie (v.6). 

Hulle rebellie het klaarblyklik verder gestrek en hulle het nie eens hulle eie kinders besny nie. Hulle het die God van die verbond verwerp (selfs al het hulle die uittog uit Egipte ervaar) en toe ook die verbondsteken van hulle kinders weerhou. Hulle het hulle eie kinders onder die vloek van die dood geplaas. 

As ons Numeri 14 (rebellie) lees, en ook Eksodus 32 (goue kalf), hoor ons hoe Moses met God praat. Elke keer sê hy vir die HERE, “Maar Here, wat sal die Egiptenare sê wanneer hulle sien hoe Israel bly rondswerf en doodgaan? Dit sal ‘n bespotting wees. Dink aan U eie Naam.” Egipte sou toekyk; hulle gaan nie gou vergeet het wat destyds met hulle gebeur het nie. Hulle gaan sien en sê: “Maar hoekom het God hulle in die woestyn ingebring? Om hulle te laat sterf?” Die HERE word bespot, en Israel dra die las. Daarom, sê God in vers 9: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” 

Hierdie bespotting het baie kante om na te kyk. Eerstens het ons al na Egipte se letterlike bespotting gekyk. Tweedens, het daardie bespotting ‘n stemmetjie in Israel se oor geword. Hulle self, telkens weer, het dieselfde taal gepraat as die Egiptenare. Toe hulle honger was, het hulle terug verlang na die vleispotte in Egipte. Hulle het die water gemis, die lewe ook. Maar hulle het vergeet dat hulle slawe was – hard onderdruk was.

Satan, deur Egipte, het in hulle kop gekom. So het die bespotting ‘n skaamte geword. Israel het skaam gekry en dit het verder tot sondes gelei en hulle dieper en dieper in hulle eie skaamte laat wegsink. Dit het swaar geweeg. Maar die HERE het die skaamte verwyder, deur die besnydenis. Dis afgesny. 

Nog ‘n kant van die bespotting (of skaamte, soos die Hebreeus dit weergee) is dat die onbesnedenes deur God vervloek is. Dit was ‘n skaamte. Die besnydenis was die teken van God se verbond en sy beloftes (Genesis 17). Maar as iemand onbesnede was, was dit ‘n teken van vervloeking. Eenvoudig gestel: die wat besny was, was God se kinders, maar die wat nie besny is nie is nie sy kinders nie. Lewe sonder God is dood. Dink maar aan hoe die Here Moses wou doodmaak omdat hy nie sy seuns besny het nie. Dis ‘n ernstige probleem. Daarom word vers 9 net soveel sterker.

Die bespotting van Egipte is verwyder, want Israel is nou uiteindelik in hulle beloofde land, anderkant die rivier. Die skaamte van hulle eie sondes is verwyder, want die stem van Satan is niks teenoor die verbondsbeloftes van God nie. Die vloek van Israel is afgesny, wat hulle is nou besny, hulle is nou God se kinders. 

EN, geliefde, ons self is nou God se kinders. Dit is wat die doop vir ons uitbeeld. Ons besny nie meer nie, maar ons doop nou. Genoeg bloed het aan die kruis van Christus gevloei, so nou beeld die doop die afwassing van ons sondes deur die bloed van Christus uit. Ons skaamte is afgewas. 

Die wêreld bespot ons, “waar is julle God?” Maar ons weet dat hulle g’n voet het om op te staan nie. Ons, inteendeel, het Christus as die hoeksteen. Ons hoef nie skaam te kry nie, want ons fondasie is vas. Broer, laat gaan daardie skaamkry van jou. Suster, moenie skaamkry nie. Jy is skoon, jy is Syne. Sy bloed het dit gedoen. “Hoe kan ek van die skaamte ontslae raak?” Deur genade in Christus alleen.

Gebed

Uit genade alleen kom ons na U toe, Vader. Al dra ons dikwels die las van skaamte, veral wanneer ons aan u heiligheid dink. Hoe kan ek, 'n sondaar, voor U verskyn? Hoe kan ek dit doen? Omdat my skaamte van my afgewas is. U het ons innig lief, en ons is genadiglik vergewe. Daarom loof ons U, ons getroue God, ons Verlosser Jesus Christus. U is vir ewig getrou. U nooi ons na u tafel, en daarom mag ons deel in u seëninge. Vader, daar is baie wat skaam kry. Ons dink aan die armes, die verlore siele, die verwardes. Daar is soveel mense wat die skaamte van sonde dra deur die ellende wat hulle beleef, en wat die genade van ons Here so dringend nodig het. Ons bid vir hulle almal, dat hulle vryheid en rus in u Seun mag vind. Ons dink aan die mense in die gevangenis, wat op 'n baie direkte manier die gevolge van hulle sonde dra. En aan dié wat deur wêreldse godsdiens van God af weggelei word. Mag al die verlorenes, dié wat skaam is, dié wat onbewus is van u genade, dit in die evangelie vind. En dié wat ter wille van die evangelie skaamte ervaar, die vervolgdes, die geïsoleerdes, mag hulle vrede vind in u genade. Vader, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, en laat U gedien word in alles wat ons doen. Mag ons, al moet ons die aanslae van die wêreld en Satan verduur, nooit skaam wees vir die evangelie nie. Dit bid ons, uit genade alleen, tot u eer alleen.

Amen.

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville