“The Greatest Rivalry” - Groter as wat jy dink
Vandag skop ‘n geskiedkundige toetsreeks tussen die Springbokke en die All Blacks af om 17:10 in Johannesburg. Daar is nie ‘n groter wedstryd as wanneer hierdie twee spanne mekaar in die gesig staar nie. Maar tog is hierdie "rivalry" nie so groot soos wat die naam sê nie...
Vandag skop ‘n geskiedkundige toetsreeks tussen die Springbokke en die All Blacks af om 17:10 in Johannesburg. Albei spanne lyk sterk en dit blyk ‘n groot kragmeting te wees. In 1921 het hierdie twee spanne vir die eerste keer teen mekaar gespeel en sedertdien was daar nie ‘n groter wedstryd as wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland hulle beste spelers teen mekaar laat speel nie. Tog is hierdie reeks genaamd Rugby’s Greatest Rivalry relatief klein, en nie so groot soos wat die naam sê nie. Laat ek verduidelik.
Sport, en veral rugby, het enorm groot geword in ons land, veral die afgelope 7 jaar sedert die Bokke die eerste keer in 12 jaar die Wêreldbeker huistoe gebring het. Dit was so ‘n groot opwinding vir ons land waar mens juis voel ons kan nie wen nie. Wat dit nóg ‘n groter hupstoot gegee het, was om in 2023 as verdedigende kampioene wéér die Web Ellis Cup huis toe te bring. Voor 2019, egter, was ons maar stil en eintlik negatief oor die Springbokke. Hulle het net aanhou sukkel. En dit het nie na baie gelyk in ‘n land waar woorde soos moord, bendegeweld en verkragting elke tweede nuusberig se opskrif ingevul het nie.
Die Springbokke wat so begin wen het, het ons land ‘n idee van hoop gegee. Die vraag is: Wat gaan gebeur as hulle verloor? As Rassie nie meer daar is nie, ons sportsterre se loopbane verby is, wat gaan ons gelukkig kan maak? Dan moet ons na die titel van die reeks kyk, en besef dat dit werklik net Rugby se grootste stryd is. Die stryd om lewe is baie groter, en duisende jare ouer as ‘n rugbywedstryd op die kalender.
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12)
Ons het drie groot vyande: Die duiwel, die wêreld, en ons eie sondige natuur. En hierdie drie saam is ‘n baie sterk span wat veg om ons lewens te verwoes. Hoe kan jy so ‘n span spelers keer? Juis as jy self deel is van hulle. Niemand sal so ‘n stryd halfhartig kan baasraak nie.
Dit voel asof ons slegte hoofopskrifte in die koerant net nie kan vryspring nie. Naderhand voel dit dat ons versmoor word in ons eie land se geweld en politiek. Waar is die einde daarvan? Ek het onlangs iemand hoor sê: “Die lewe is ‘n donker tonnel, maar Jesus is die lig aan die einde van die tonnel.”
Ons sonde en die dood bly dinge wat ons gewoon nie kan oorwin nie. Ons het die Messias nodig, Jesus Christus wat die stryd vir ons gestry het. Hy, die Seun van God self, het aarde toe gekom en deur sy hele lewe hier op aarde gely. Ons kan soms dink dat dit vir Hom niks was nie, want Hy is mos God? Maar omdat Hy die Seun van God is, is Hy nie afgestomp teen die sonde en ellende in die wêreld nie. Sy gevoel van God se toorn oor die bose op aarde was skerper as enige een van ons s’n.
Maar sy lyding was veral erg aan die kruis toe Hy daar ons sonde gedra het. In sy liefde het Hy daar gehang. Dis nie die spykers wat Hom daar gehou het nie maar sy troue liefde. Hy het die stryd hel toe gevat. Omdat Hy sonder sonde was en die krag van God gehad het, kon die dood Hom nie daar hou nie. En Hy het opgestaan. Hy het die oorwinning behaal.
Maar soos ons reeds genoem het, is die ellende steeds daar. Die oorwinning is behaal, maar die stryd is nog nie verby nie. Vandaar dat Paulus sê wat hy gesê het in Efesiërs 6:12. Dis hoekom Jesus nie die stryd daar gelaat het nie. Hy het sy Heilige Gees oor ons uitgestort om ons geloof te gee. Die krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het, lewe nou in die gelowige se hart.
Glo jy in Hom? Glo jy dat Hy die stryd oorwin het? Glo jy dat Hy vir jou sodoende die ewige lewe gegee het en dat Hy gaan terugkom om sy kinders huis toe te neem?
Trek daarom die geloofsklere aan: die volle wapenrusting van God (lees gerus hier ‘n reeks onlangse oordenkings daaroor). Daarmee kan jy volhard in die geloof en in afhanklikheid van Jesus Christus lewe. Gee jouself oor aan die heerskappy van Jesus Christus. Hy is die een wat gaan terugkom as die Ruiter op sy wit perd. Al ons vyande gaan neergevel word. En ons gaan in ewige vrede met Hom lewe, aan die boesem van ons hemelse Vader.
Dis mooi om te sien hoe die spanne tot dusver in hierdie toer na hulle wedstryde gebid het. Mag dít ons perspektief bly. Laat ons nie gefokus bly op rugby nie, maar laat ons ons gedagtes rig na bo, na daar waar Christus is (Kolossense 3:1). Môre mag ons weer in sy (en ons) Vader se huis bymekaarkom om die evangelie van Christus te hoor. Hy is die uiteinde van die lewe. Dáár is jou lewe veilig en saam met Christus verborge in God (Kolossense 3:2). In Hom wag daar vir ons ewige heerlikheid.
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville