Sielkunde

Dit is noodsaaklik om te weet wat sielkunde behels voor iemand die besluit maak om ‘n sielkunde beroep na te volg. Ek haal my eerstejaars handboek aan in ‘n poging om ‘n definisie van die vakgebied van sielkunde te gee.

Sielkunde
Photo by Dim Hou / Unsplash

Geskryf deur Armand Luijk, BHons in Sielkunde en Kriminologie, besig met Meesters in Navorsingsielkunde en doseer in Sielkunde by die UP.

Inleiding

Die volgende gedeelte handel oor die veld van sielkunde en spesifiek of daar ‘n plek vir gelowiges in sielkunde is. Dit is ‘n lang pad om te stap om ‘n sielkundige te word. In Suid-Afrika is ‘n baccalaureusgraad in sielkunde die eerste stap na registrasie by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) in een van die professionele sielkundekategorieë. ‘n Persoon kan in die volgende nege kategorieë by die HPCSA registreer:

  1. Kliniese sielkundige
  2. Beradings sielkundige
  3. Opvoedkundige sielkundige
  4. Bedryfs- of organisasiesielkundige
  5. Navorsingsielkundige
  6. Neurosielkundige
  7. Forensiese sielkundige
  8. Geregistreerde berader
  9. Psigometris

Wat is sielkunde?

Dit is noodsaaklik om te weet wat sielkunde behels voor iemand die besluit maak om ‘n sielkunde beroep na te volg. Ek haal my eerstejaars handboek aan in ‘n poging om ‘n definisie van die vakgebied van sielkunde te gee. Maar vir eers, veronderstel die volgende geval van ‘n man wat verslaaf is aan dobbel. Patologiese dobbelary kan allerhande smarte en lyding veroorsaak, tog kan die verslaafde nie ophou dobbel nie. Luister maar na die bekommernis van ‘n dobbelaar genaamd Justin: “Ek het in die afgelope twee jaar duisende rande verloor. Ek het al keer op keer probeer ophou om te dobbel, maar ek kry dit net nie reg nie. Die skuld wat ek gemaak het terwyl ek dobbel is tans besig om my en my gesin se lewens te verwoes. Al wat ek wil hê is ‘n lig wat aangaan wat sê: ‘Dit was jou ou lewe, Justin’.” Wat is die beste manier om vir Justin te help? Moet hy by ‘n ondersteuningsgroep aansluit? Sal berading werk? Wat van medikasie?

Deur die redes te ondersoek vir menslike gedrag kan sielkunde ons help om vrae soos hierbo te beantwoord. Dus, die veld van sielkunde is prakties. Sielkundiges probeer vrae antwoord oor menslike gedrag, op ‘n wetenskaplike manier. Vir ‘n lang tyd al is die dissipline van sielkunde nuuskierig oor die raaisels van die menslike verstand. Uit my handboek kry ek die volgende definiesie van sielkunde: Sielkunde is die wetenskap wat gedrag bestudeer asook die onderliggende fisiologiese en kognitiewe prosesse betrokke in menslike gedrag. Verder, sielkunde is prakties, want die geleerde kennis van die wetenskap word toegepas op probleme. Maar is dit alles nie baie Humanisties nie? Die mens staan in die sentrum, waar is dan nog plek vir God in die veld van sielkunde? Is alles wat ons van menslike verstand kan weet nie net te vinde in die Bybel nie?

Sielkunde en die Woord

Eerstens is dit belangrik om te verstaan dat sielkunde fokus op die brein as sentrum van menslike bestaan terwyl die Bybel die hart aanspreek. Volgens die Woord, kan my verhouding met die Here nie deur een of ander teorie verduidelik of verstaan word nie. Verder is elke dimensie van ons menslike bestaan en persoonlikheid onder volle beheer van Christus. Jesus is dus die Heer oor intellektuele, emosionele, morele en spirituele aspekte van ons persoonlikhede. Baie wysheid oor menslike gedrag en motiverings kan gevind word in die boek van die Spreuke en in die profetiese boeke.  Die woord leer ons, net soos sielkunde, dat daar iets groot fout is met die mens. Ons sien dit in Justin – die vernietigende, maar tog aanhoudende gedrag asook gekwelde geestelike lewe. Sielkundiges mag dalk hierdie as ‘n siekte beskou, terwyl ons in die Woord leer dat dit eintlik vervreemding van God en sonde is.

Sielkunde leer ons dat die mens uiters kompleks en uniek is. As ‘n Christen wat in die bedryf van sielkunde werk en as ek na al die inligting oor menslikheid lees in handboeke en joernale, is ek verplig om uit te roep: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Die wete is te hoog vir my, dit is te hoog vir my begrip… Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering” (Ps 139: 5-6, 14). Alhoewel sielkunde baie antwoorde kan bied op probleme, dink ek nie die veld van sielkunde kan ware verandering van die mens se hart bring nie, en dus ook nie waarlik die behoeftes van mense vervul nie. Jesus het aan die behoeftes, al die behoeftes van die mense voldoen deur die krag van die Heilige Gees, en ek glo Hy beoog dat sy kerk dieselfde moet doen. Mense hoef nie te vertrek en na die wêreld te gaan om aan hul emosionele behoeftes te voldoen nie. Hulle moet na Jesus gebring word, dit is die hoof taak van enige gelowige sielkundige of berader (Matt. 14:16-18). Hoe kan ons vir Justin die lig wys waarna hy so op soek is? Deur hom na die voete van Jesus te bring waar ware lewensverandering – hartsverandering – moontlik is.

So kan ‘n Christen regtig ‘n sielkundige word?

‘n Christen kan ‘n sielkundige word ten spyte van die feit dat daar baie min sielkundiges is wat die Here as hulle Verlosser erken. Jesus het vir ons ‘n hele aantal modelle gegee vir ons rol in Sy koninkryk: die van ‘n mosterdsaadjie, ‘n skat wat weg gebêre word in ‘n veld, ‘n net wat allerande visse vang. Een van die modelle wat my interesseer is die volgende: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was” (Matt 13:33). Jesus wil hê dat sy dissipels moet meng met die “deeg” en om dit ten diepste te beïnvloed. Om hierdie beginsel op ons beroepe toe te pas, behoort daar Christene in alle moontlike beroepe te wees, behalwe dié wat inherent oneties of immoreel is. Gelowiges behoort “deur die deeg” van die samelewing te werk in alle wettige, respekvolle beroepe wat bestaan, insluitend dié van sielkunde. Inderdaad, ‘n toegewyde Christen kan ‘n sielkundige wees!

Verwysings

Da Silva, S. (2011). Can a Christian really be a psychologist? Misconceptions not only prevent believers in Christ from entering the profession, but also from receiving needed help. The Banner. https://www.thebanner.org/features/2011/01/can-a-christian-really-be-a-psychologist

Santrec, S. A. (2016). Towards the possible integration of Psychology and Christian faith: Faculties of human personality and the Lordship of Christ. OASIS, 1-8. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.1908

Van den Berg, A. (2018). How to qualify and practice as a psychologist in SA. Solidariteit. https://jouloopbaan.solidariteit.co.za/hoe-om-sa-n-sielkundige-te-kwalifiseer-en-praktiseer/

Warren, J. (2014). Psychology and Christianity: Friends or foes? Canadian Scientific & Christian Affiliation. https://www.csca.ca/2014/03/25/psychology-christianity/

Weiten, W. (2014). Psychology – Themes and variations. Cengage Learning.