Sal God hierdie sonde vergeef?

“Het ek al sonde teen die Heilige Gees gedoen?” In hierdie vraag lê daar troos en 'n waarskuwing vir ons as God se kinders In hierdie artikel hoop ek om deur middel van Bybeltekste hierdie troos en waarskuwing uiteen te sit.

Sal God hierdie sonde vergeef?
Photo by Alex Shute / Unsplash

Geskryf deur Mark Moes, VGK Pretoria

Het jy al ooit gewonder: “Sal God my vir hierdie sonde ook vergeef?” Of miskien meer spesifiek: “Het ek al sonde teen die Heilige Gees gedoen?” In hierdie vraag lê daar troos vir ons as God se kinders, maar ook ’n waarskuwing. In hierdie artikel hoop ek om deur middel van Bybeltekste hierdie troos en waarskuwing uiteen te sit.

Troos

Baie mense sal Hebreërs 6:4-6 aanhaal en sê: “Kyk, as ’n kind van God sy rug op God draai, dan is daar geen terugkeer vir so ’n kind moontlik nie.” As ons egter na die Bybel in geheel kyk, sien ons dat dit nie waar is nie. Ons sien dit duidelik in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32). Ook in verse soos Johannes 10:28-29 kan ons lees dat God van sy kinders sê: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie...” Ons kry dus ’n baie mooi troos en sekerheid hierdeur dat niks ons, as kinders van God, sal kan skei van God en sy liefde nie.

As ons dan weer na Hebreërs 6:4-6 kyk, kan ons weet dat sulke mense dus nie kinders van God is nie, maar is soos die saad in Lukas 8:13 - mense wat wel die Woord hoor en dit ’n indruk laat maak in hulle lewe, maar dan vir God verwerp. Soms werk die Gees selfs eers deur en in sulke mense, kyk byvoorbeeld maar na Saul (Rensburg, 1988).

Sonde teen die Gees

Daar is baie verskillende sienings oor wat die sonde teen die Heilige Gees presies is. Dieselfde verhaal word in drie Evangeliebeskrywings gevind: Matteus 12:31-32, Markus 3:28-30 en Lukas 12:9-12. ’n Mens kan die vinnige afleiding maak en sê dat die sonde teen die Heilige Gees bewustelike ongeloof is, maar wat dan van bekering? Dink maar aan Paulus. God sê self aan Paulus dat hy doelbewus teen God ingegaan en daardeur seergekry het (Handelinge 9:3-5 en 26:14). As ’n mens kyk na die teksgedeeltes, sien ons duidelik dat dié sonde daarmee te doen het om Christus aan die duiwel te koppel en daardeur Christus en die Gees los te maak van mekaar. Die Heilige Gees getuig altyd van Christus. Die Fariseërs stel dus die werk van Christus deur die Gees direk gelyk aan demone. Kan dit vandag nog gedoen word? Sommige bronne beweer dat dit net tydens Christus se tyd op aarde gedoen kon word en grond dit op Markus 3:30 (Breaker, 2015). Dit bring my by die volgende punt.

Net Christus kan oordeel

Nêrens anders in die Bybel sien ons dat iemand beskuldig word van lastering van die Gees nie. Christus is die enigste Een wat daardie oordeel gemaak het en ek dink dit is ook net reg so. Ons as mense kan nie die saligheid van ander beoordeel nie en moet ook nie probeer om die rol van God as Regter oor te neem nie. Christus sal met sy wederkoms die oordeel oor almal fel (Openbaring 20:11-15).

Die waarskuwing

Ons, as kinders van God, moet gewaarsku word deur dit wat ons uit die Woord oor sondes leer. Sonde lei uiteindelik altyd tot die dood (Romeine 6: 23, Jakobus 1:14-15 en 1 Johannes 5:16).

Ons kan egter wel die leiding van die Gees teenstaan (1 Tessalonisense 5:19) en as ons dit aanhoudend doen, bedroef ons ook die Gees (Efesiërs 4:30). Dit beteken dat ons die Gees teleurstel en hartseer maak, maar dit beteken nie dat Hy sy kinders sal verlaat nie. Elke kind stel op die een of ander stadium sy ouers teleur en tog verwerp of verlaat ouers nie hul kinders nie. Ons wil in ons aardse lewe al so na as moontlik aan God leef. Niks bring God nader aan ons as Hyself deur sy Gees nie. Moet dus nie Christus se Gees weerstaan om in jou te werk nie.

Ons taak

Eerstens vra God vertroue, Hy het dit in die tuin van Eden al geëis, maar eis dit nou nog net so konkreet. Hy vra ook getuienis en liefde. As ons ons naaste liefhet, dan sal ons hulle bestraf of selfs onder die tug plaas as hulle teen God se wil ingaan en die Gees bedroef. Ons moet dit vir hierdie gelowiges duidelik maak dat daar terugkeer moontlik is en ons moet vir hulle bid. Ons moet ongelowiges ook waarsku, want wie weet het God die persoon ook al as een van sy kinders uitverkies voor die grondlegging van die wêreld af (Efesiërs 1:4,5). Leef soos verlostes en laat God se lig skyn.

Buite-Bybelse Bronne

Breaker, R., 2015. Youtube. [Online]
Available at: https://www.youtube.com/watch?v=XeIjxbqC12o
[Accessed 9 April 2023].

Rensburg, J. V., 1988. Kan ’n Kind van God Verlore Gaan?. [Online]
Available at: https://www.christelikemedia.org/article/kan-n-kind-van-god-verlore-gaan
[Accessed 09 April 2023].

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp