Die Kerk Spook op Halloween

Wat is die eerste gedagte wat by jou opkom wanneer jy 31 Oktober hoor? Vir meeste van ons is dit Halloween, want dit is wat ons orals op sosiale media en in winkels raaksien. Pampoene, kostuums, en lekker eetgoed vier hooggety.

Die Kerk Spook op Halloween
Photo by David Menidrey / Unsplash

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata

Wat is die eerste gedagte wat by jou opkom wanneer jy 31 Oktober hoor? Vir meeste van ons is dit Halloween, want dit is wat ons orals op sosiale media en in winkels raaksien. Pampoene, kostuums, en lekker eetgoed vier hooggety.

Meeste geleerdes stem ooreen dat Halloween sy oorsprong ongeveer 2000 jaar gelede vanuit die Celte vind wat die einde van die oestydperk gevier het deur die fees genaamd ‘Samhain’. Tydens hierdie fees is die skans wat die lewendes en dooies skei, verdun, en kon die lewendes met afgestorwe geliefdes kommunikeer. Offers is aan die godedom gebring, en mense het diere-koppe na hierdie fees gedra (vandaar die Halloween kostuums). Verder het die Romeine ook ‘n soortgelyke fees gehad waar die godin van vrugbaarheid aanbid is (daar kom die appel-hap speletjie vandaan), hierdie fees was egter losbandig. Die Rooms Katolieke Kerk wou hierdie heidense feeste vervang met hul eie feeste. Op 1 November is die dag ingehuldig om die ‘Heiliges’ – of ‘Hallows’ te vereer en dus het 31 Oktober ‘ou-hallows-aand’ geword. Dit is waar die naam Halloween vandaan kom. Ten spyte van die pouse se “Christelike” benadering, het die heidense gewoontes bly voortleef tot vandag.

As dit 31 Oktober is moet ons dus nie gaan kyk na spoke en monsters nie, want dit is nie iets vir die Christen nie. Die naaste wat ons aan spoke kom, is om na die kerkgeskiedenis te kyk en God se genade daarin te sien. Die Bybel waarsku ons teen dinge soos Halloween. Eerstens, kan ons nie met spoke kommunikeer nie, en hulle nie met ons nie. Neem die gelykenis van Lasarus en die ryk man wat onderskeidelik in die hemel en die hel is. Die ryk man vra vir Abraham of Lasarus sy 5 broers kan gaan waarsku en dat hulle sekerlik na Lasarus sal luister, waarop Abraham antwoord: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.” (Lukas 16: 31)

Verder nog moet ons versigtig wees as dit kom by spoke en monsters, want al lyk dit na pret, skuil daar gevare agter. Die mens moet versigtig wees met horror-flieks of soortgelyke dinge. Sulke films of stories rondom hekse skep die idee dat bose geeste en bonatuurlike kragte slegs ‘n idee of konsep is wat vir ontspanning (soos flieks) gebruik word. Nie net is dit vanuit die Bybel duidelik dat bose geeste bestaan nie. Ons lees daar van mense wat besete is en hulleself of ander seermaak, dit is ernstige sake. Dit kom nie net voor in verhale in die Bybel nie, maar ons sien vandag die werk van bose geeste om ons. Neem as voorbeeld, Heath Ledger, die akteur van die Joker in die bekende fliek The Dark Knight. Hy het homself vir ‘n maand in ‘n hotelkamer toegesluit om homself vir die rol voor te berei. Die rol van die skisofreniese moordenaar en psigopaat het so deel van homself geword, dat hy klaarblyklik as gevolg daarvan mal geword en selfmoord gepleeg het. Hierdie demoniese karakter (lees gerus daaroor op die internet) het duidelik hierdie akteur verwoes. Ons moet dus wegbly van demoniese gedrag en nie die duiwel en sy onderdane kans gee om vatplek in ons lewens te kry nie.

Dit is belangrik om by te voeg dat ons as Christene nie bang hoef te wees dat bose geeste oor ons beheer sal kry nie. Christus het ons van die bose bevry en bewaar ons daarteen. Christus het ons nie verniet geleer om te bid dat ons van die bose verlos moet word nie. Dit is deel van die evangelie. Ons is vrygekoop, ons is God se eiendom. Ons moet dus wel waaksaam wees en nie die duiwel uitdaag nie. Die kick uit horror-flieks wil ons weer terugbring dat ons dit weer opsoek. Netso is speletjies soos charlie-charlie ewe gevaarlik. Laat ons Christus navolg en vreugde en vryheid daarin vind, en nie op die randjie van die afgrond na satan vra nie. Al is hierdie dinge deesdae nie op die voorgrond van Halloween nie, vorm dit dikwels deel daarvan en moet ons dit in gedagte hou as ons na Halloween kyk. Dit kom immers vanaf ‘n fees waar geeste opgeroep is.

Dikwels is dit nie verkeerd om aan aktiwiteite deel te neem en pret te hê deur soos karakters te verklee nie, maar jy moet jouself tog afvra: “Wat vier ek hier? Wie dien ek hiermee?” Dus, as dit by Halloween kom, moet ons twee keer nadink. Dien ons God deur Halloween te vier? Die antwoord word ons alreeds vir ons gegee.

31 Oktober is ‘n dag wanneer ons aan iets anders kan dink: Reformasie. Dit klink vervelig en iets waaraan ons nie gou aandag wil gee nie, maar dit is ‘n dag waarop ons God se instandhouding van sy kerk herdenk. Op 31 Oktober 1517 het die reformasie begin toe Martin Luther, een van die reformeerders, sy 95 stellings bekendgestel het. Die kerk was besig om op ‘n dwaalspoor te gaan en die Reformasie was die manier waarop Christus sy kerk weer na Homself gebring het.

Hierdie dag is dus ‘n baie belangrike dag, want ons mag weer besef hoe groot Christus se genade is. Die Reformasie het erken dat die mens slegs deur genade gered word, nie deur goeie werke nie. Dit het kerkgang drasties verander, en die gelowige was weer afhanklik van God i.p.v. hulself.

Ja, die woord ‘reformasie’ kom nie in die Bybel voor nie, maar die Reformasie gaan na die Bybel terug en bou op God se Woord. Danksy die Reformasie kan ons almal Bybellees, hang ons saligheid nie van ons goeie werke af nie en is ons almal dieselfde voor God. Almal het Christus nodig, want net Hy alleen kan ons red. Dit is wat ons herdenk as ons reformasie-dag vier. Wat ‘n groot vreugde om so iets te mag vier!

Ons het dus op 31 Oktober ‘n keuse om te maak: Herdenk ons Halloween of herdenk ons Christus se instandhouding van sy kerk?

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp