Praktiese Bybelstudie metodes

Tokichi Ishii was ’n berugte Japanse misdadiger wat aan die begin van die 1900’s geleef het. Terwyl hy in sy tronksel op die doodstraf gewag het, is hy besoek deur ’n sendeling wat vir hom ’n Bybel gegee het. ’n Enkele teksvers het hierdie geharde, wrede misdadiger in die hart getref.

Praktiese Bybelstudie metodes
Photo by Sincerely Media / Unsplash

Geskryf deur Tannie Lientjie Drijfhout, VGK Pretoria

Tokichi Ishii was ’n berugte Japanse misdadiger wat aan die begin van die 1900’s geleef het. Hy was meer as 20 keer in die tronk en is beskryf as “so wreed soos ’n tier”. Terwyl hy in sy tronksel op die doodstraf gewag het, is hy besoek deur ’n sendeling wat vir hom ’n Bybel gegee het. ’n Enkele teksvers het hierdie geharde, wrede misdadiger in die hart getref.

Tokichi het God deur Sy Woord leer ken, en dit het hom ondersteun tot aan die einde toe. Vandag leer ons steeds God deur Sy Woord ken. Dit het die krag om ons harde harte te verander en te voed totdat ons die laaste lewensasem uitblaas. Daarom is dit van uiterste belang dat ons weet hoe om Bybelstudie te doen!

In hierdie artikel gaan ons eerstens kyk na ’n praktiese metode om ’n Bybelgedeelte te analiseer. Tweedens sal daar aandag gegee word aan hoe om raak te sien hoe die Bybelgedeelte in die groter prentjie van die Skrif pas.

’n Praktiese Metode om te Analiseer

In hierdie artikel wil ons spesifiek fokus op ’n metode waarmee jy kan bepaal wat in ’n Bybelgedeelte gebeur. Ander vrae, soos aan en deur wie dit geskryf is, wanneer en waar dit plaasgevind het, sowel as waarom die skrywer dit geskryf het, is natuurlik ook belangrik, maar kan dikwels maklik beantwoord word met behulp van betroubare Bybelverklarings of Bybelstudieboekies.

Ons breine is kragtige beeldverwerkers en patroonsoekers. Daarom is thinking maps ’n ideale manier om te bepaal wat in ’n Bybelgedeelte aangaan. Thinking maps is dinkkaarte wat ons help om inligting te analiseer, te organiseer en visueel voor te stel.

Thinking maps is gebaseer op agt kognitiewe prosesse wat vir ons breine bekend is. Eerstens moet ons bepaal watter kognitiewe proses die skrywer aanspreek. Is die skrywer besig om te:

  • definieer?
  • beskryf?
  • klassifiseer (hoofgedagtes met ondersteunende gedagtes)?
  • verskillende dele uit te lig?
  • kontrasteer?
  • die volgorde van gebeure aan te dui?
  • oorsaak en gevolg te verduidelik?
  • vergelyk met die bekende (analogieë)?

Sodra jy bepaal het wat die skrywer doen, kan jy dit visueel vir jouself in ’n kaart voorstel. In hierdie artikel kan ons nie elke kaart breedvoerig bespreek nie. Kliek op hierdie skakel om meer inligting en ’n voorbeeld van elkeen te sien.

Omdat ons almal se breine verskillend werk, sal elkeen se dinkkaarte anders lyk. Ons is telkens verbaas om te sien hoe verskillende mense verskillende patrone in dieselfde Skrifgedeelte identifiseer.

Sien die Groter Prentjie Raak

Ons kan maklik vasgevang raak in die detail van ’n Skrifgedeelte (die wat) en vergeet om die groter prentjie in ag te neem. Dan is ons soos ’n geoloog wat, te midde van ’n asemrowende landskap, slegs op ’n grondmonster fokus en nie die pragtige omgewing rondom hom raaksien nie.

Dis belangrik dat ons, ná ons analise, ook vir onsself vra:

  • Wat sê dit oor God, sodat ek Hom kan aanbid?
  • Wat wys dit oor my eie hart, sodat ek my kan bekeer?
  • Wat wys dit oor Jesus Christus, sodat ek Hom kan dank vir wat Hy gedoen het?

God het Lukas 23:34 gebruik om Tokichi Ishii tot geloof te bring. Die woorde “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” het hom diep geraak. Hy het dit soos volg beskryf:

“I stopped: I was stabbed to the heart, as if by a five-inch nail. What did the verse reveal to me? Shall I call it the love of the heart of Christ? Shall I call it His compassion? I do not know what to call it. I only know that with an unspeakably grateful heart I believed.”

Tokichi het in die Skrif die glorie van God gesien in die aangesig van Christus!

Gaan bestudeer God se Woord, sodat jy ook die diepte daarvan kan ontdek en ’n aanskouer mag wees van God se glorie. Mag God se Gees jou harde hart verander in ’n hart van vlees deur Sy onfeilbare Woord.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp