Dankbaarheid wat God eer

“Throughout Scripture, we see people honoured and encouraged for their wild, heartfelt and unusual worship… True worship is often loud and messy.” (Rose & Rose, 2019)

Dankbaarheid wat God eer
Photo by Jonathan Petersson / Unsplash

Lees: Levitikus 1&2

“Throughout Scripture, we see people honoured and encouraged for their wild, heartfelt and unusual worship… True worship is often loud and messy.” (Rose & Rose, 2019)

Hoe lyk jou aanbidding en lofpryse? In hierdie artikel kyk ons spesifiek na die lof- en dankaanbidding vanuit die Ou-Testamentiese offers. 

Ons het in die vorige oordenking oor die Brandoffer gesien dat die volk nie offers gebring het om God om te koop of sy guns te wen nie, maar dat dit veel eerder uit dankbaarheid was vir wat hulle reeds van God ontvang het. Tog was daar streng reëls en baie spesifikasies rondom die brandoffer, God het ook vereis dat die offer op baie spesifieke tye gebring moes word (lees hier meer). In Levitikus 2 en 3 kom ons by twee offers met beide die doel om (spontane) dankbaarheid en lof teenoor God te betuig: die spysoffer en die dankoffer. Kom ons kyk na beide en wat ons oor God en ons diens aan Hom daaruit kan leer. 

Spysoffer

Die doel van die spysoffer was om God te prys en te eer vir sy voorsienigheid. Wanneer ‘n Israeliet hierdie offer gebring het het hy daarmee God gedank dat Hy vir hom sorg met alles wat hy nodig het. 

Die brandoffers het streng reëls gehad, en die offeraar kon niks byvoeg nie. Op ‘n soortgelyke manier kan ons niks bydra tot ons versoening nie. Die spysoffer daarenteen het meer vryheid toegelaat. 

In Levitikus 2 lees ons dat die Israeliete die spysoffer rou of gebak kon bring. Hulle kon ook kies om dit in die oond of in ‘n pan, as plat koeke of as gebakte brokkies te bring (Levitikus 6:21). Deur graan en plat koeke te offer het hulle beide erken dat hulle daaglikse voedsel van God kom, en terselfdertyd gesimboliseer dat elke aspek van hulle daaglike lewe aan God gewy moet wees. Besef ons dit nog?

Ten spyte van die meer vryheid is dit net soos by die ander offers belangrik dat dit puur is. Dit is immers “'n hoogheilige deel van die vuuroffers van die Here” (Levitikus 2:10). Die Here stip baie duidelik uit dat die Israelite geen suurdeeg by die offers mag voeg nie. In die Bybel is suurdeeg soms ‘n simbool van sonde en onheiligheid (Lukas 12:1). Moontlik omdat gisting ’n soort mikrobiologiese afbreekproses is en dus kan dui op die gevolge van die sonde. Iets soets soos heuning sal die gistingsproses aanwakker en versnel, en daarom was dit ook verbode om dit aan die spysoffer toe te voeg. 

Teenoor die verbod op suurdeeg staan die gebod dat sout nooit aan die spysoffer mag ontbreek nie. Sout is ‘n preserveermiddel en het ‘n reinigende impak. Dit laat mens ook dadelik dink aan Jesus se opdrag in Mattheüs 5:13 “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?” 

Die spysoffer moes met fynmeel en olie gemaak word, en die deel wat verbrand is, moes met wierook gemeng word. Olie en wierook was beide simbole van oorvloed, seën en feesviering. Die heerlike geur van die spysoffer was ‘n sterk herinnering aan God se oorvloedige voorsienigheid. Ons bring nie meer spysoffers nie; tog leef ons ook uit die voorsienige hand van God. Hoe betuig jy jou dankbaarheid?

Dankoffer

In Levitikus 3 en 7:11-34 lees ons oor die dankoffer. Dit is by uitstek die offer wat spontaniteit toelaat. Wanneer die Israeliete aan God ‘n spesiale offer wou bring wat nie deel is van al die voorgeskrewe rituele nie, kon hulle ‘n dankoffer bring. 

Jy kon vir drie verskillende redes ‘n dankoffer bring – as ‘n lofoffer, ‘n gelofteoffer of ‘n vrywillige offer. Die offer kon ‘n bul, vers, skaap, lam of bok wees. In alle gevalle moes die niere, lewer en vet verbrand word en die bloed teen die altaar uitgegiet word. Die bors was as beweegoffer bestem aan Aäron en sy seuns en die regterboud as hefoffer vir die dienende priester. Wanneer iemand ‘n lofoffer gebring het moes hulle behalwe vir die dier ook ongesuurde platkoeke en ‘n gesuurde brood bring. Die dankoffer staan uit as die enigste offer waarvan die offeraar mog eet, hy mog dit selfs met enige rein persone deel. ‘n Ware feesmaal uit dankbaarheid!

Ja, vrede met God is inderdaad iets om oor vrolik te wees en te vier. Tog herinner die voorskrifte van die dankoffer ons ook baie duidelik aan die heiligheid van God. Ons lees immers twee keer van die doodstraf in verband met die dankoffer: by die eet van vet en bloed (Levitikus 7:20) en onreinheid (Levitikus 7:25&27). 

Dit is nie ‘n demper op die spontaniteit of die feesvreugde van die dankoffer nie, maar eerder ‘n herinnering aan die eerbied wat ons aan ons almagtige God verskuldig is. Hoe lyk ons (spontane) lof aan God? Mag dit uitbundig en van harte wees, maar mag dit ook op so ‘n manier gebeur dat God daarin ‘n welgevalle sal hê. 

Coram Deo

In Christus is die wette vervul en ons bring nie meer spys- en dankoffers nie. Tog het ons nog minstens net soveel rede vir dankbaarheid. 

Ons het ook niks wat ons nie ontvang het nie. Vir ons geld: “Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof” (Psalm 104:27-29). Deur Christus se versoeningswerk hoor God ons gebede genadiglik aan as ‘n lieflike geur. Gedrywe deur die Gees mag ons God vrywillig dien. Ons mag die Here prys met sang en lied. Ons mag uit dankbaarheid ons goed en tyd aan die Here gee. 

Maar ons moet ook altyd onthou dat hierdie God die almagtige Skepper van hemel en aarde is. Laat ons in ons vrywillige godsdiens nie dieselfde fout as Nadab en Abihu maak nie (Levitikus 10). Laat ons ‘n voorbeeld neem aan Dawid, ja, hy kon van vreugde voor die ark dans, maar hy moes eers op die harde manier leer dat dit uiters belangrik is om God te dien hoe Hy voorgeskryf het (2 Samuel 6 – die skeur aan Ussa). 

So om terug te kom na die aanhaling aan die begin van die oordenking. God soek ons hart, Hy soek nie net rympies en formaliteite nie en Hy gee ruimte vir spontaniteit. Maar God stel ook die perke. Hierdie perke demp nie die vreugde en dankbaarheid nie, maar help ons eerder om God die eer te gee wat Hom toekom. 

Verdere leesstof

  • Levitikus 6:14-23, 7:11-34
  • Levitikus 10
  • 1 Samuel 1:21-28
  • 2 Samuel 6

Gebed

Here, ek kom voor U in groot dankbaarheid. Dankie vir u sorg. Dankie vir my daaglikse brood. Dankie vir die natuur wat ook in hierdie pragtige lentetyd orals rondom ons van u grootheid kan getuig. Dankie, bo alles, vir u verlossing en die wonderlike werk aan die kruis. Help my om my hele lewe, selfs die mees alledaagse dinge, as dankoffer aan U te wy. Maak my ‘n sout in hierdie wêreld en verwyder die suurdeeg van die sonde uit my lewe. Help my om vrywillig en spontaan U te loof en te prys. Help my ook om dit te doen soos wat U behaag en nie my eie kop te volg nie. Aan U kom toe alle lof en eer en heerlikheid, in die hemel en op aarde. Amen

Bronne

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria