Praat ons nog met die jeug oor hoe dit regtig gaan?
Gebruik ons die woorde “goed dankie” nie te maklik nie? Hoeveel van ons is werklik eerlik oor hoe dit met ons gaan? Is ons werklik bewus van wat ons vra, of vra ons bloot uit gewoonte of beleefdheid hoe dit gaan?
Geskryf deur Anneli Pouwels, VGK Maranata
Persoon 1: “Hallo, hoe gaan dit?”
Persoon 2: “Goed dankie. En met jou?”
Persoon 1: “Goed dankie.”
Is dit, wat hierbo staan, nie maar net die algemene groet nie? Gebruik ons die woorde “goed dankie” nie te maklik nie? Hoeveel van ons is werklik eerlik oor hoe dit met ons gaan?
Is ons werklik bewus van wat ons vra, of vra ons bloot uit gewoonte of beleefdheid hoe dit gaan? Of leer die wêreld ons om die beste front voor te hou en voor die voet bloot te sê dat dit goed gaan? Is ons skaam om te erken hoe dit regtig gaan? As ons erken hoe dit gaan, gaan dit voel dat ons gefaal het? Of wil ons eerder nie by jeugvereniging of op die kerkplein sê hoe dit werklik gaan nie, want ons is bang ander mense hoor ons?
Ek weet ek sal makliker vir iemand, wat my nie so goed ken nie, sê dat dit goed gaan met my eerder as om my hele verhaal te moet vertel. Soek ek nou verskonings vir my en jou, liewe leser?
Die afgelope weke, nadat ek die versoek gekry het om ‘n artikel te skryf, het ek my voorgeneem om eerlik te wees teenoor die mense naaste aan my. Indien ek ‘n slegte dag gehad het, het ek dit genoem en indien ek ‘n goeie dag gehad, het ek dit ook genoem. Dit was egter bitter moeilik om eerlik te wees… hoekom? Omdat dit tyd vat om te vertel waarom dit gaan soos wat ek gesê het dit gaan.
Wel, nou kom ons uit by die konsep van tyd. In die gejaagde lewe van vandag is daar volgens die wêreld nie tyd om stil te staan en te luister nie. ‘n Vriendin van my het vir my ‘n video aangestuur wat handel oor ‘n gesprek tussen twee vriende. Die vriendin het vir haar vriend gevra of hy wil kom kuier. Die vriend het gedink dit is bloot om te kuier. Later toe hy haar weer sien en hoor hoe swaar sy gekry het, het hy gevra hoekom sy niks gesê het nie. Sy antwoord toe dat sy wel het. Hy het deur hulle boodskappe gegaan en gesien dat sy inderdaad gevra het of hy wil kom kuier, maar dit op dieselfde manier gevra het as toe dit goed gegaan het. Na die misverstand en onduidelike hulpkreet het die twee vriende afgespreek om ‘n kodewoord te gebruik indien hulle hulp nodig het. Die kodewoord is: 8-minute. Waarom 8-minute? Omdat dit 8-minute vat om by die kruks van die saak te kom. 8-minute om te hoor wat regtig aangaan.
Galasiёrs 6:2a roep ons as Christene op om mekaar se laste te dra. Vra mekaar hoe dit regtig gaan en hê die vrymoedigheid om eerlik te antwoord. Neem tyd om na jou medemens te luister.
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp