Oorsig oor die Offerdiens

“En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle:” Dit is hoe die boek Levitikus begin. Geen inleiding, geen verduideliking... Die boek spring eerder weg met dit wat belangrik is: die direkte opdragte van God.

Oorsig oor die Offerdiens

Lees: Hebreërs 9 &10
Kernteks: Levitikus 1:1

“En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle:”

Dit is hoe die boek Levitikus begin. Daar is geen inleiding, geen verduideliking van wat nou gaan volg nie. Die boek spring dadelik weg met dit wat belangrik is: die direkte opdragte van God. Ja, want die boek Levitikus sluit meer direkte woorde van God in as enige ander boek in die Bybel (van Wyk, 2023). 

En tog is dit een van die boeke waaraan ons die minste aandag gee, wat ons soms selfs sommer oorslaan… 

Sommige van ons voel miskien dit is alles tog net bedoel vir die Ou Testamentiese Israel, ander van ons voel dalk dit is te ingewikkeld om te verstaan en dalk is daar nog ander wat net voel daar is geen toepassing of boodskap vir hulle in hierdie boek nie. 

Maar as dit inderdaad die boek in die Bybel is met die meeste direkte woorde van God, wie is ons dan om te besluit dat dit nie belangrik is nie? Sou God dalk 27 hoofstukke van die Bybel gemors het?  

In 2 Timotheüs 3 lees ons: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (vers 16 en 17). En inderdaad Levitikus is deur God self geïnspireer met presies hierdie doel sodat “die mens van God volkome kan wees” of in die woorde van Levitikus self: “Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig” (Levitikus 19:2).

Die boek Levitikus is propvol raad en riglyne vir ‘n lewe saam met die allerhoogste God, asook heenwysings na die Verlosser en sy versoening vir ons. Ook vandag nog het dit ‘n diep en verrykende boodskap vir ons. In hierdie kort reeks wil ons spesifiek let op die verskillende offers. Die offers wat ‘n verhouding met God moontlik gemaak het. Die offers waardeur die volk hulle toewyding en dankbaarheid kon bewys op die manier wat vir God behaaglik is. En die offers wat ten diepste heenwys na Jesus ons verlosser. 

Daar is vyf hoof tipes offers in die Ou Testament. Bestudeer die diagram hier onder om ‘n oorsig te kry van die verskillende offers, die doel van die offer, wat geoffer is en waar in Levitikus jy daarvan kan lees:

Coram Deo

Die offerdiens was ‘n kritiese deel van die Ou Testamentiese godsdiensrituele. Vandag offer ons nie meer bulle, bokke of brode nie. Maar ons mag nogsteeds God ontmoet in die erediens. Deur die bloed van Christus het ons selfs baie meer direkte toegang tot Hom. In Christus is daar versoening vir al ons sondes (Markus 10:45, Romeine 5:8-10, Efesiërs 5:2, Hebreërs 9&10, 1 Johannes 4:10, ens.). Maar ons is nie net God alle dank en lof verskuldig vir sy versoeningswerk nie, maar ook vir sy voorsienigheid (HK Sondag 10 en verwysings). Uit dankbaarheid wil ons ons hele lewe stel as ‘n “aan God welgevallige offer” (Romeine 12:1). 

Gebed

Almagtige God, ons kom met groot eerbied voor U. Here, vandag mog ons meer leer oor die offerdiens, u direkte voorskrifte oor hoe U gedien wou word. Dankie dat U ‘n verhouding met ons wil bou, dat U die moontlikheid van versoening gee, dat U selfs u eie Seun geoffer het om vir ons sondes te betaal. Dankie vir u voorsienigheid in ons lewens, en dat ons in alles op U kan vertrou. Here, ook vandag wil ons weer ons sondes voor U bely, die sondes wat ons keer op keer weer doen en die waarvan ons nie bewus is nie, want ‘n gebroke hart en gans verslae gees, dit is u offers, Heer! Skep in ons ‘n nuwe hart sodat ons ook ons lewens as ‘n dankoffer aan U kan gee.Amen.

Bronne

Verdere lees stof: Lees die voorskrifte vir die offerdiens in Levitikus 1-7

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria