Ontmoet die Heilige Gees in die Ou Testament

Wanneer ‘n mens aan die werk van die Heilige Gees dink, dink ‘n mens baie keer net aan die Nuwe Testament waar die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag en sedertdien mense uit alle nasies tot geloof in Christus gekom het.

Ontmoet die Heilige Gees in die Ou Testament
Photo by Sunguk Kim / Unsplash

Geskryf deur Arjan Boon, VGK Pretoria-Maranata

Wanneer ‘n mens aan die werk van die Heilige Gees dink, dink ‘n mens baie keer net aan die Nuwe Testament waar die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag en sedertdien mense uit alle nasies tot geloof in Christus gekom het. Die Heilige Gees was egter ewe aktief in die Ou en die Nuwe Testament. God Drie-enig is ewig en ‘n mens kan sy werke regdeur die geskiedenis waarneem.

In die Ou Testament word daar na die Heilige Gees verwys as “die Gees van God” of “die Gees van die Here”. Die Gees van die Here was, is en bly deel van die Drie-eenheid. Dis die Gees van die Here wat mense in staat stel om Godgegewe opdragte uit te voer.

Die Gees van die Here was deel van die skepping. In Genesis 1:2 staan daar dat die Gees van God oor die waters van ’n woeste en leë aarde gesweef het. Hier dui die Bybel aan dat die Heilige Gees ook teenwoordig was by die skepping as die “uitvoerende arm” van die Drie-eenheid. Wanneer daar in Genesis 1:26 staan “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”, word die Drie-eenheid geïmpliseer. Oor hierdie vers is daar egter onenigheid. Sommige mense wat nie in die Drie-eenheid glo nie, sê dat hierdie “Ons” nie die Drie-eenheid impliseer nie. Skynbaar is hierdie voornaamwoord slegs gebruik om die belangrikheid of grootheid van God uit te wys, net soos dit die gewoonte is om vandag koninklikes in die meervoud aan te spreek. Daarteen is egter tereg ingebring dat die Hebreeuse taal nie so ‘n “majesteitsmeervoud” gehad het nie. Ook is dit nog nie ’n rede om die Drie-eenheidsleer te verwerp nie. Die Skrif getuig van Homself. Ons ken talle ander teksgedeeltes wat van die Drie-eenheid getuig. In Job 33:4 getuig Job dat die Gees van God hom geskape het en dat die asem van die Almagtige hom lewend maak. Die asem van die Almagtige wys na die Heilige Gees. Wat ’n mooi getuienis! Job getuig dat die Heilige Gees in hom woon en werk.

Deur die loop van die Ou Testament sien ons die werk van die Heilige Gees. God se uitverkore volk is soos ’n skip wat op die regte pad gestuur moet word. God stuur leiers om sy volk op die regte pad te hou. God stuur vir Moses. Moses het die werking van die Heilige Gees geken en ervaar. Die HERE het neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie (Numeri 11:25). Hierdie Ou Testamentiese uitstorting van die Heilige Gees is baie soos die uitstorting van die Heilige Gees in die Nuwe Testament, maar verskil in die opsig dat net Moses en ’n geselekteerde 70 manne die Heilige Gees ontvang het. In die Nuwe Testament ontvang mense uit alle volke en nasies die Heilige Gees. In die Ou Testament was slegs God se volk Israel deel van die verbond, maar in die Nuwe Testament mag mense uit alle volke, tale en nasies deel hê aan God se verbond, waarin hulle die Heilige Gees ontvang.

Wanneer dit sleg gegaan het met God se volk Israel, het God rigters gestuur om hulle te lei. Die Gees van God het oor hulle gekom en hierdie leiers krag gegee om die volk te lei. ’n Voorbeeld van so ’n leier is Gideon. Dit gaan nie goed met die volk Israel nie, hulle dien God nie meer nie. Hulle aanbid boomstamme en kniel voor Baäl. God stuur ’n rigter om sy volk te lei. Die Gees van die Here het Gideon vervul en hy het op die ramshoring geblaas en ’n leër agter hom aangeroep. Deur die geskiedenis van die Rigtertydperk het die Gees van die Here verskeie persone vervul wat die volk van die Here gelei het. Die Heilige Gees het wedergeboorte, vervulling, weerhouding en bekragtiging vir diens in mense se harte gewerk. Wanneer die Gees van die Here oor die volk van die Here vaardig was, het dit goed gegaan met hulle.

Die profete het die heiligheid van die Heilige Gees verkondig. Hierdie heiligheid troos nie net nie, maar vermaan ook. In Jesaja 4:4 staan daar dat die Here die onreinheid van die dogters van Sion afwas en die bloedskulde uit Jerusalem wegspoel deur “die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging”. Die Heilige Gees is God en het daarom Goddelike kwaliteite. “Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?” (Jesaja 40:13) Jesaja voel klein en is onder die indruk van die Gees van die HERE

Joël was ‘n Ou Testamentiese profeet wat oor die koms van die Heilige Gees op Pinkster geprofeteer het (Joël 2:28-29). Joël profeteer van ‘n nuwe era wat gaan kom met die koms van die Messias. Deur die koms van die Leraar, Christus, sal die straf van die volk afgeweer word. Die koms van die Leraar en die uitstorting van sy Gees sal die begin van God se heilstyd aandui. Esegiël profeteer ook oor die koms van die Heilige Gees. “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe Gees in julle binneste gee en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en aan julle ‘n hart van vlees gee.” Die Heilige Gees sal oor alle nasies gestort word sodat ons almal vir God kan verheerlik en deel van sy koninkryk mag word.

Ons mag in die werk van die Heilige Gees deur al die eeue waarneem hoe God sy raadsplan uitvoer. In die Ou Testament sien ons hoe die bediening van die Heilige Gees heengewys het na Jesus Christus. Toe Hy gekom het in die volheid van die tyd, is  die Heilige Gees oor die gelowiges van alle volke, tale en nasies uitgestort.