Ontdekkingsreisiger in die kunswerk van alle kunswerke
Rembrandt, beroemde meester, begin met 'n voorbereidende houtskoolskets op sy doek van fyn linne. Sy palet bevat handgemaakte verf, vakkundig saamgestel uit olie en pigmente. Met 'n paletmes meng hy die verf tot die gewenste kleure.
Geskryf deur Arjan Boon, VGK Maranata
Rembrandt, beroemde meester, begin met 'n voorbereidende houtskoolskets op sy doek van fyn linne. Sy palet bevat handgemaakte verf, vakkundig saamgestel uit olie en pigmente. Met 'n paletmes meng hy die verf tot die gewenste kleure. Sy verskeidenheid kwaste is van egte varkhare, elk van verskillende groottes en vorms. Daar is fyn kwaste vir detailwerk en breër kwaste vir groter oppervlaktes en agtergronde. Met sy paletmes voeg hy tekstuur en diepte by. Laag vir laag bou hy sy skildery op, met elke instrument wat sy rol vervul in die skepping van die finale meesterstuk.
Nou, eeue later, word Rembrandt se skilderye met intense belangstelling deur kunskritici ondersoek. Een van hulle doen navorsing oor hoe die verf so treffend op die doek aangebring is. In sy notaboekie skryf hy dat daar iets agter die kwashale, vorms en vlakke moet wees. En na jare se ondersoek en toetse konkludeer hy dat die skildery sonder twyfel geskep is deur houtskool, verf, kwaste en paletmesse. Hierdie dinge het die kunswerk gemaak. Die navorser het duidelike bewyse daarvan, want met sy mikroskoop het hy iets harigs op die doek ontdek, wat na ondersoek geblyk het ’n varkhaar te wees. Met gesofistikeerde eksperimente en die wiskundige berekening van ‘n 3D-model kom hy tot die gevolgtrekking dat daar ook ‘n paletmes betrokke was. Die bewyse is waterdig en met volledige sekerheid maak hy sy gevolgtrekking: Die maker van hierdie skildery is ’n kwas en paletmes!
Enige nugter persoon sal natuurlik weet dat hierdie kunskritikus nie volledig by sy verstand is nie. Al is daar ’n kwas en paletmes gebruik, is dit mos vanselfsprekend dat hierdie instrumente op hulle eie nie skeppingskragtig is nie, maar dat daar ’n kunstenaar was wat hulle vasgehou het en dat hy alle eer moet kry.
Tog kyk baie ‘nugter’ mense nie vreemd as soortgelyke bevindings gemaak word oor die grootste kunswerk van alle kunswerke nie. Die Skepper word misgekyk in sy skepping. Die aarde is 4.543 miljard jaar oud of dalk ‘n 100 miljoen meer of minder. Deur ’n groot ontploffing het alles uit niks ontstaan. Deur die beginsel van oorlewing van die sterkste en verloop van ongekende lang tydperke moes die prehistoriese vis tot ‘n mens ontwikkel het. In die heelal met sy drie dimensies het die sterre en planete ontstaan deur biljoene jare. En met die spoed van lig is die heelal besig om groter te word. Dit alles kom daarop neer dat die Big Bang die dryfkrag van ewolusie is. Die ‘wetenskap’ bewys dit oor en oor. Baie meer dollars as die aarde se jare word jaarliks gespandeer aan ingewikkelde eksperimente. Die bewyse is waterdig en met vasberadenheid kom hulle tot die gevolgtrekking.
Maar wie bereid is om nugter te dink, kyk verder. Die moderne mens vereer die kwaste en nie die Kunstenaar nie. God het op ’n skilderdoek (die heelal) ’n kunswerk geskep; en dit met verf wat Hy self gemeng het (die materie) en kwaste wat Hy self gemaak het (die tyd). Sy kunswerk vertoon ‘n ongeëwenaarde harmonie van kleure (die natuurwette wat Hy ingestel het). Is die kunsgereedskap – natuurwette, materie en tyd – groter as die kunstenaar? Waarom word hulle dan vereer?
Dis ironies hoe hedendaagse mense hulleself verhewe ag bo die ‘primitiewe’ mense van vroeër. Daardie mense het nog gode en tempels nodig gehad. Ironies genoeg het die hedendaagse mens ook tempels, soos wetenskaplike geboue. Elke paar dae gaan ’n raket in offerrook omhoog aan die groot god van die wetenskap.
Is dit verkeerd om verwonderd te wees oor die wetenskap en dit wat hulle uitvind oor die natuurwette, materie en tyd? Moet ons hierdie kunsgereedskap weggooi? Nee, juis dít is ook deel van die ongelooflike skepping. Deur die studie van die kunswerk leer ons ook om die kunsinstrumente raak te sien en hoe dit ook fantasties goed geskep is. Des te meer sal ons die Meesterbrein daaragter vereer. Ons mag leer hoe sy skepping inmekaarsit en ons verstand gebruik om wonderlike toepassings uit te dink wat in die skepping beslote is. Deur die verstaan van wiskunde en wetenskap leer ons iets van die kwas in God se hand en hoe Hy dit hanteer.
’n Motorkar is ’n indrukwekkende uitvinding en as jy leer verstaan hoe dit werk is dit net nog soveel meer besonder. So mag ons steeds beter leer verstaan hoe God se skepping inmekaarsit. Dit maak ons soveel meer verwonderd daaroor.
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Psalm 8:4-10)
Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp