Ons word vervolg!

Ons karre en huise is verseker teen diefstal. ‘n Erediens vanuit die gemak van jou sitkamer klink ook nie meer na ‘n slegte idee nie. Die samelewing is konstant gedrewe om nuwe hoogtes van gemak en sekuriteit te verskaf. Hoe gereeld dink ons nog oor die vraag of die wêreld regtig ons tuiste is?

Ons word vervolg!
Photo by Jeremy Lapak / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata

Ons karre en huise is verseker teen diefstal. ‘n Erediens vanuit die gemak van jou sitkamer klink ook nie meer na ‘n slegte idee nie. Die samelewing is konstant gedrewe om nuwe hoogtes van gemak en sekuriteit te verskaf. Hoe gereeld dink ons nog oor die vraag of die wêreld regtig ons tuiste is? Het Christus nie gesê dat ons “nie van die wereld is nie, maar in die wêreld”? (Johannes 17:14-16) Dryf die gemak ons nie juis weg van ‘n vertrouensvolle lewe met God nie?

In die tye van die vroeë kerk het die kerkvader Tertullianus gesê dat die “bloed van die martelare” die “saad van die kerk” is. Christene was in daardie tye hewig vervolg, maar tog het dit nie die kerk se groei gekeer nie. Wêreldwyd vandag is daar lande waar mense vervolg word vir hulle geloof.

Tog sien ons ook ‘n ander kant in die moderne samelewing. Studies het bewys dat hoër-inkomste lande geneig is om minder religieus te wees. Die gesondheidsorg, lewensverwagting, voedselsekuriteit en algemene lewensgemak word op hoë standaarde gehandhaaf in sulke lande, maar daarteenoor is die bevolking ook minder religieus.

Dit is maklik om die vinger te wys na sulke lande en te dink dat die probleme nie op ons van toepassing is nie. Dalk kry jy goeie punte op skool of universiteit; dalk kry jy ‘n goeie inkomste en mag jy geniet van goeie “job security”, of dalk is dit gesondheid waarvan jy mag geniet. Raak jy dan soms gerig op jouself, in plaas van op God?

Daniël, iemand wat hoog in die rang van Koning Belsasar aangestel is, het drie maal daagliks God gedank (Daniël 6:11). Daniël het “koninklik” geleef, maar dit het nie sy geloof geaffekteer nie. Job was ook ryklik geseën met welvaart: baie landerye en ‘n oorvloed kos (Job 1:1-3). Dit het ook nie sy geloof geaffekteer nie. Met beide hierdie voorbeelde het die duiwel op die ou end objektief probeer om Job en Daniël van God af weg te kry. (Job 1:6-12 en Daniël 6:10-17)

In ons daaglikse lewe, laat ons nog ons lig skyn? Dank ons God elke oggend dat ons gesond mag wees, ‘n werk mag hê, die voorreg mag hê om skool toe te mag gaan, of selfs net vir nog ‘n dag uit Sy hand? Dit is so maklik om van die klein goed in die lewe te vergeet. Word ons geloof dan net gebruik vir die ‘grensgevalle’? As iemand sterf, as iemand siek is, as iemand gebore word, of na ‘n stresvolle tyd? ‘n Klein vuurtjie kan lei tot ‘n veldbrand. Wanneer ons God nie in ons daaglikse lewe sien nie, is dit moontlik dat God ook uit die groot prentjie kan verdwyn. Die duiwel is op soek na Christene wat hulle vertroue nie volledig op God stel nie. Christene wat nie alles uit God se hand verwag nie.

Christene wat vervolg word se geloof staan juis sterk, omdat hulle God in elke voetstap van hulle lewe raaksien. Na ‘n donker nag is hulle weer dankbaar dat die son opkom en dat God hulle deur die nag bewaar het teen die gevare. Christene word wêreldwyd vervolg, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Ons is deel van die geestelike vervolging! Laat ons nie die onmeetbare voorreg wat ons het om ons geloof openlik te kan bely, deur ons hande laat gly nie, want daar word daagliks swak plekke in ons geloof gesoek. Die duiwel laat nie ‘n enkele Christen in rus en vrede nie - jou ook nie.

As Christene sal die lewe op aarde nie maklik wees nie (Johannes 15:18-20). Wanneer ons tuis voel in die wêreld, moet ons onsself begin afvra of ons fokus steeds op Christus gerig is, en of die duiwel nie dalk vatplek in ons lewe begin kry het nie. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Petrus 5:8). Laat ons geloof sterk staan, laat ons “waaksaam wees” en “laat niemand die eerkroon ons ontroof” nie! (Skrifberyming 43:5 berymd).

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp