Ongemaklike tekste van Jesus: Draai die ander wang

“As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een.” Op die oog af lyk dit of hierdie lering van Jesus passiwiteit aanmoedig – asof ons mense moet toelaat om bloot oor ons te loop. Is dit werklik wat Jesus met hierdie woorde van ons verwag?

Ongemaklike tekste van Jesus: Draai die ander wang
Photo by Prateek Katyal / Unsplash

Geskryf deur Lise-Carien Breyl, VGK Bellville

In Lukas 6:29 (AFR20) leer Jesus Sy volgelinge die volgende: “As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie.” Op die oog af lyk dit of hierdie lering van Jesus passiwiteit aanmoedig – asof ons mense moet toelaat om bloot oor ons te loop. Is dit werklik wat Jesus met hierdie woorde van ons verwag?

Wanneer ons dieper na die agtergrond van hierdie verse in ‘n Bybelse konteks kyk, kom ons egter agter dat Jesus Sy volgelinge oproep tot ‘n nie-gewelddadige weerstand teen onreg, gegrond in liefde en waardigheid.

Die betekenis van “draai die ander wang”

In Matthéüs 5:39 (AFR20) sê Jesus: “Maar Ek sê vir julle dat julle nie ‘n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom.” Om die ware betekenis van hierdie vers te verstaan, moet ons eers die kulturele konteks waarin dit geskryf is, ondersoek: die konteks van eerste-eeuse Judea. ‘n Klap op die regterwang, in ‘n regterhandse samelewing, sou gewoonlik, soos wat ons dit ken, ‘n “back-hand” klap wees – ‘n manier om iemand te verneder eerder as om werklik seer te maak. In die Joodse en Romeinse kultuur was so ‘n spesifieke klap gewoonlik gebruik om meerderwaardigheid te toon, om mag te bewys, soos ‘n meester aan ‘n slaaf.

Deur om die ander wang te draai, beteken dat die slagoffer nie reageer met geweld nie, maar die ander persoon die kans gee om ‘n besluit te maak: om weer te slaan met ‘n oop hand, of om ‘n tree terug te vat.

Dus wanneer Jesus sê dat ons die ander wang moet draai, leer Hy nie dat ons ander mense moet toelaat om oor ons te loop nie, maar voorsien Hy ons liewers met ‘n manier om onreg te konfronteer sonder om self onreg aan ander te pleeg. Deur die ander wang aan te bied, dwing jy die ander persoon om όf weer te slaan, όf om op te hou. Hierdie is nie ‘n teken van swakheid nie, maar liewers ‘n teken van moed en waardigheid.

Om jou bokleed en onderkleed te gee

In Lukas 6:29 (AFR20) gaan Jesus verder en sê:“As iemand jou bokleed vat, moet hom ook nie jou onderkleed nie weier nie.” In die Joodse samelewing was die bokleed (die buitenste kleed) een van die belangrikste besittings van ‘n arm mens. Dit was sό belangrik geag dat dit selfs in die wet uiteengesit is: geen persoon se bokleed mag oornag as sekuriteit vir skuld gehou word nie (Eksodus 22:26-27). Die onderkleed (die binneste laag kledingstuk) was dikwels die enigste ander kledingstuk wat iemand besit het.

As iemand jou bokleed vat en jy gee hom ook jou onderkleed, beklemtoon jou vrygewigheid net verder die onreg en gierigheid van die ander persoon.

Jesus se lering

Die boodskap wat Jesus aan ons probeer oordra gaan nie oor swakheid, of om eenvoudig onreg te aanvaar nie. Hy leer ons om boosheid op ‘n ander manier te beveg – nie deur wraak te neem nie, maar deur:

  • nie kwaad met kwaad te vergeld nie (Romeine 12:17-21);
  • onreg deur liefde en waarheid te ontbloot;
  • om onreg met geregtigheid te konfronteer – nie deur geweld nie.

Jesus is self vir ons die grootste voorbeeld van hierdie beginsels regdeur Sy lewe hier op aarde - veral tydens sy lyding. Toe Jesus tydens sy verhoor geslaan is, het Hy nie teruggeslaan nie, maar kalm die onreg aangespreek (Johannes 18:22-23). En natuurlik was sy kruisiging die grootste voorbeeld van hoe die boosheid van hierdie wêreld, van ons eie sonde, oorwin is deur sy groot genade en liefde. 

Deur te kyk na hoe Jesus geleef het, en dan Hom te volg, beteken dat ons keer op keer liefde bo vergelding moet kies in konflik- en onregverdige situasies. Dit vereis dat ons:

  • eerder moet vergewe as om wraak te neem (Romeine 12:18-19);
  • boosheid met goedheid moet oorwin (Matthéüs 5:44, Romeine 12:20-21);
  • opstaan vir geregtigheid, sonder die gebruik van geweld.

Hierdie lering is moeilik in vandag se wêreld, en dit vat baie om die kwaad met goed te beveg. Maar dit is presies wat Jesus vir ons leer – ‘n manier van liefde, sy liefde, is uiteindelik sterker as enige onreg wat teen ons gepleeg kan word. 

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp