Oë toe en hande omhoog in die stryd

Op die oog af is ons van kop tot tone gereed vir die geestelike stryd. Maar, soos ‘n speelgoed soldaatjie geen krag in homself het om homself te verdedig nie, so staan ons ook, met wapenrusting en al, nog sonder krag in die militêre basis. Waar kry ons die krag om die geestelike stryd te betree?

Oë toe en hande omhoog in die stryd
Photo by Matthew Henry / Unsplash
terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, 
en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
en vir my,
sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,
waarvoor ek 'n gesant is in kettings, 
sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek.” (Efesiërs 6:18-20)

Op die oog af is ons van kop tot tone gereed vir die geestelike stryd. Maar, soos ‘n speelgoed soldaatjie geen krag in homself het om homself te verdedig nie, so staan ons ook, met wapenrusting en al, nog sonder krag in die militêre basis. Vers 10 sê dat ons “kragtig moet word in die Here en in die krag van sy sterkte”, waarna die wapenrusting van God aan ons voorgelê word in vers 11-17. Met hierdie krag kan ons die geestelike stryd betree, maar hoe kry ons die krag?

In die vorige oordenking het ons gekyk na die swaard van die Gees wat ons op ons moet neem (vers 17). Met dit in gedagte vervolg vers 18 dan dat terwyl ons die helm van verlossing en die swaard van die Gees op ons neem, moet ons bid, in die Gees. Soos ons in die militêre basis gereed staan, is die adrenalien hoog: ons is ten volle toegerus, maar in ons koppe sien ons al pyle vlieg, testudo-formasies vorm, en tweesnydende swaarde reflekteer in die son. En dan hoor ons die Bevelvoerder sê: “julle is nou ten volle toegerus, maar wat julle ook al doen in hierdie geestelike stryd, bid”. Die totaliteit van sy woorde maak die bevel nog meer gewigtig: met alle gebede, by elke geleentheid, met alle volharding, vir al die heiliges. Die laaste bevel dra gewig: dit fokus ons adrenalien op die belangrike en gee ons krag om die stryd aan te pak.

Ons kan hierdie stryd nie alleen aanpak nie. Soos ons in die opbou na hierdie oordenking gesien het, is daar min wat ons uit onsself kan doen om staande te bly. Gebed, wat ‘n persoonlike gesprek en kommunikasie tussen die soldate en God is, is dus van noodsaaklike belang om staande te kan bly. Ons besluitneming, beweging, en beskerming benodig deurlopende kommunikasie met ons Bevelvoerder. Hierdie lyn van kommunikasie is dus nie net ‘n nuusberig nie, maar ook ‘n volle vertroue dat die Bevelvoerder die regte besluite sal maak vir ons in hierdie stryd. Hoe lyk jou lyn van kommunikasie?

In die hedendaagse lewe het ons slegs kontak met die regering as ons probleme het: paspoorte en lisensies word hernu, huwelikskontrakte word ingedien, bouplanne word gekeur, eiendomme word geregistreer, of belasting word betaal. Die voorbeeld klink dalk irrelevant, maar bestaan jou gebedslewe ook miskien uit ‘n tou van selfgesentreerde versoeke? Eentonig, koud, en sonder ‘n verhouding met die Persoon aan die ander kant?

Ons bid nie net tot God wanneer ons iets nodig het nie. Gebed is die natuurlike voortvloeiing van ‘n lewe wat geleef word in afhanklikheid van God - ‘n verhouding met Hom. Anders as ‘n koue regeringsgebou, is die troonsaal van God warm en aangenaam vir die wat in die Gees tot Hom nader (HK Sondag 45). Maar daarvoor moet ons die Een ken tot wie ons nader, want hoe kan ons bid tot ‘n onbekende God (Handelinge 17:23)? As ons sukkel om te bid, lê die probleem nie in hoe ons bid, wanneer ons bid, of hoe baie ons bid nie, maar eerder in ‘n dieper probleem: in ons verhouding met God.

Paulus skryf dat ons met alle gebed en smeking moet bid - nie slegs eentonige versoeke nie. In die Ou Testament was offers een van die belangrike maniere waarop God se volk tot Hom genader het. Daar was brandoffers, spysoffers, dankoffers, sondoffers, skuldoffers, en drankoffers (vgl., Levitikus 1-6 en Numeri 15:1-10). In die Nuwe Testament het Christus as die volmaakte Versoeningsoffer gedien (Romeine 3:25) sodat ons tot God kan nader in gebed (Romeine 8:15-17). Gebede van belydenis, dankbaarheid, skuld, worstel, boetedoening, omgee, en voorbidding vorm deel van die Christen se gebed tydens die stryd! Ons gebede mag dalk deur ons verbeelding en kleingelowigheid ingeperk word, maar deur die Woord kan die omvang van ons gebede vergroot word (vgl. Johannes 17, Mattheüs 6:9-13, en verskeie Psalms).

Tydens die stryd gaan ons onsself gereeld bevind onder verskillende situasies. Soms is ons deel van die testudo-formasie, ander kere is ons op onsself. Om by elke geleentheid te bid keer dat ons moed verloor (Lukas 18:1) - dit behou ons perspektief. Wanneer ons dus die kommunikasielyn tussen ons en ons Bevelvoerder lewend hou deur by elke geleentheid sonder ophou te bid vir sy genade en Hom daarvoor te dank, mag ons krag kry by Hom om staande te bly in die stryd (Jesaja 40:31).

Die Bevelvoerder bepaal ook hoe hierdie kommunikasie moet plaasvind, naamlik dat ons moet bid “in die Gees”. Net soos die hart-verstand verbintenis in vers 16 en die Woord-Gees verbintenis in vers 17, sien ons hier ook ‘n onafskeibare verbintenis tussen die Gees en gebed. Omdat die Gees ‘n noue verbintenis met die Woord het, vloei gebed in die Gees dus uit die Woord, waardeur ons leer om die wil van God vir ons lewens te soek. Ons bid nie altyd “in die Gees” nie - ons gebede word soms meer gevorm deur eie sondige begeertes as deur God se Woord en wil. Om te bid in die Gees bring ons terug na die swaard van die Gees sodat ons gebede in die Woord gegrond is.

Deur by elke geleentheid te bid, kan ons waak met volharding in hierdie stryd, juis om staande te bly (vers 14). Wanneer die Bevelvoerder sy laaste bevele gegee het, hardloop ons nie in die veld in en begin veg nie, maar ons waak eerder. In die tuin van Getsemane het Jesus vir sy dissipels gesê om te waak, sodat hulle nie in versoeking kom nie (Mattheüs 26:41).

Jesus het ook vir sy dissipels gebid. In Johannes 17 bid Hy dat God Hom sal verheerlik (vers 1-8). Hy bid vir sy dissipels: vir eenheid (vers 11 en 21), vir bewaring (vers 12 en 15), vir blydskap (vers 13), vir heiliging (vers 17) en vir aanskouing van sy heerlikheid (vers 24). So bid Paulus ook gereeld in sy briewe vir sy medegelowiges (vgl., Romeine 1:9-10 en Filippense 1:4) en beveel nou ook in vers 18 dat ons vir al die heiliges moet bid. Paulus vra daarom ook dat die gemeente van Efese vir hom sal bid sodat hy self ook staande sal kan bly in die stryd en met vrymoedigheid sy roeping sal kan uitvoer. Bid daarom vir jou medegelowiges in hul roeping, bid vir die vervolgde kerk en bid vir die groeiende kerk dat hulle Skrifgetrou mag bly!

Coram Deo

Op hierdie oorlogsveld, in die stryd teen die Bose, word ons deur die krag en die wapenrusting van God versterk om te waak teen die versoekinge. Die wapenrusting van God gord ons lewe met die Waarheid, beskerm ons hart, gee ons die vrymoedigheid om vas te staan in die Waarheid, versterk ons geloof deur Christus se getrouheid aan ons, laat ons uitsien na die volkome saligheid, weer die Bose af, en reinig ons lewens. Met die wapenrusting van God aan word ons nie onafhanklike soldate nie, maar dit bring ons juis na ons knieë in volle afhanklikheid van ons Verlosser, wat reeds die stryd oorwin het, uit dankbaarheid vir sy verlossingswerk aan die kruis.

Gebed

Ons almagtige God en Vader wat in die hemele is. In die geestelike stryd waar ons onsself bevind, dank ons U vir die genade wat U aan ons bewys het dat ons u kinders genoem mag word. Ons dank U dat ons tot U mag nader met die wete dat U alles ten goede sal laat meewerk. Ons bid of U ons harte wil reinig en ‘n gewillige hart gee sodat ons in u Waarheid mag lewe. En so wil ons U ook vra of U ons ook die vrymoedigheid sal gee om vas te staan in die Waarheid, bereid om verantwoording te doen oor die hoop van die saligheid wat in ons is. Ons vra U of U ons medegelowiges in hul roeping wil seën dat ons as lede van die liggaam in U koninkryk mag dien. Wil U ook wees met die vervolgde kerk, wil U haar bewaar teen die pyle van die Bose. Wil U so ook wees met die groeiende kerk, dat die Woord sentraal mag staan in die gemeentes. Versterk ons met die krag van u sterkte sodat ons mag staande bly in die dag van stryd! Amen.

Vir verdere lesing

  • Heidelbergse Kategismus Sondag 45 gaan oor die gebed, hoekom dit nodig is vir Christene en hoe so ‘n gebed moet lyk.
  • The Whole Armor of God (bl. 103-117) deur Ian M. Duguid brei uit oor onverhoorde gebede, die sukkel om te bid, en hoe ‘n verhouding met God die fondament van ‘n gelowige se gebed is.
  • Johannes 17 - Christus se gebed vir sy dissipels

Bronne

  • Efesiërs 6:18 | Met gebed in die Gees kan die gewapende soldaat staande bly | Ds. HH van Alten | [Link]
  • Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 103-117). Crossway.

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata