Nagmaal en die wyse waarop ons Nagmaal vier

Die Nagmaal is ‘n maaltyd wat ons herinner aan die kruisdood van Christus as ‘n versoening vir ons sondes. Die Nagmaal is ook ‘n maaltyd wat ons telkens met verwagting en verlange laat uitsien na die wederkoms van Christus en die bruilofsmaal van die Lam

Nagmaal en die wyse waarop ons Nagmaal vier
Photo by David Weber / Unsplash

Geskryf deur Mariaan Smit, VGK Pretoria

Die Nagmaal is ‘n maaltyd wat ons herinner aan die kruisdood van Christus as ‘n versoening vir ons sondes. Die Nagmaal is ook ‘n maaltyd wat ons telkens met verwagting en verlange laat uitsien na die wederkoms van Christus en die bruilofsmaal van die Lam. Die Nagmaal verbind ons met die gekruisigde, verhoogde en komende Christus.

Wat beteken die Nagmaal vir ons?

As ons as Christene die Nagmaal vier moet ons dit doen tot Sy gedagtenis.  Met die tekens van die brood en wyn in die hand, dink ons terug en vooruit – terug aan lyde en vooruit na verlossing; terug aan dood en vooruit na lewe; terug aan ‘n oop graf en vooruit na ‘n gedekte tafel.

Die Nagmaal beloof ons ‘n egte dankbare lewe tussen die veilige mure van ‘n Vaderhuis, met harte wat opwaarts in die hemel verhef is en gesigte wat straal van ware blydskap aan die bruilof tafel van die Lam.

Soos ‘n verloofring ‘n pand van trou is, so is die Nagmaal God se seël en pand van trou aan sondaars, sodat ons kan weet dat Hy ons lief het.  Die nagmaal is ‘n teken en seël van die vergewing van sonde deur die bloed van Christus vir almal wat in Hom glo.

Die wyse van Nagmaalsviering

Voorbereiding

Ons moet onthou dat die nagmaal ‘n gemeente-maaltyd is.  Wanneer mense hulleself soos ongelowiges gedra, word die verbond van God ontheilig en die toorn van God oor die hele gemeente verwek.  Daarom moet die ouderlinge saam voor God verantwoording doen van elke lidmaat se lewe. (Jesaja 1, 1 Korintiërs 11, Psalm 50)

‘n Ouderling kan nie ‘n persoon se hart lees nie, maar hulle het die gesag van Christus gekry om elke lidmaat voor die Here te konfronteer oor sy leer en lewenstyl.  Die ouderlinge moet dus die lidmate toerus om self sy/haar lewe te ondersoek.

Elke persoon wat die nagmaal wil vier moet nadink oor sy/haar sonde en dit eerlik opneem in gebed teenoor die Here.  Elkeen moet dan vasstel of hy/sy glo dat die sonde vergewe en weg gewas is, omdat Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf het.  Elkeen moet dan ook sy gewete ondersoek of dit sy/haar voorneme is om van nou af met sy hele lewe aan God dankbaarheid te bewys.

Wanneer die nagmaal gevier word, sal die bedienaar van die Woord begin deur die formulier van die Heilige Nagmaal aan die gemeente voor te lees.  Die formulier het die volgende indelings naamlik:

  • Instelling
  • Selfondersoek
  • Uitnodiging & teregwysing
  • Soek jou lewe in Christus
  • Ons gedenk Christus
  • Christus voed ons tot die ewige lewe
  • Ons word in broederlike liefde saamgebind
  • Ons verwag Christus se wederkoms
  • Verootmoediging & gebed om oorgawe aan Christus
  • Belydenis van geloof
  • Viering van die nagmaal
  • Lofverheffing
  • Dankgebed

Maniere van die Nagmaalviering

Die Nagmaalviering moet sodanig plaasvind dat die aksent val op die versoeningsdood van Christus en gemeenskap met Hom en mekaar.  Daarom moet eerstens gekyk word na die manier waarop Christus die Nagmaal ingestel het.

Soos Christus die Nagmaal ingestel het

Die Nagmaalviering het in die nag plaasgevind, die vorm van ‘n maaltyd aangeneem en het aan ‘n tafel plaasgevind waarby al die dissipels aangelê het, gesigte na mekaar gekeer; daar is ongesuurde brood gebruik wat ten aanskoue van die dissipels gebreek is; gegiste wyn is bedien en almal het uit een beker gedrink. (Matt 26, Mark 14, Luk 22, 1 Korintiërs 10 & 11)

Die wyse hoe die Vrye Gereformeerde Kerke die Nagmaal vier

Die formulier vir die viering van die Heilige Nagmaal word deur die Woord bedienaar aan die gemeente voorgelees.  Die diakens sal die tafel wat met wit linne bedek is in gereedheid bring en daarna sal die ouderlinge die gemeentelede wat geregtig is om die Nagmaal te vier uitnooi na die nagmaal tafel waar Christus die eregas aan die tafel is.

Die Woord bedienaar sal die “hartverheffing” gedeelte uit die formulier van die Heilige Nagmaal lees en dan daarna sal die brood gebreek word en aan al die gemeentelede wat aan die tafel sit uitgedeel word.  (Die brood dui op die liggaam van Jesus Christus)

Die beker sal ook aan die gemeentelede wat aan die nagmaal tafel sit aangegee word.  (Die wyn dui op die bloed van Jesus Christus)

Die Woord bedienaar sal die nagmaal tafel afsluit en dan sal die gemeentelede weer hulle sitplekke inneem.

Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien.  Daar moet egter verstaan word dat die Nagmaal ingestel is deur Christus en dat die Nagmaal ordelik gevier moet word.  Alle bygeloof moet vermy word en die formulier van die Heilige Nagmaal moet voorgelees word waarna daar ook ‘n gebed moet volg.

As ons Nagmaal reg gebruik, sal ons groei in die geloof, vaster gebind word aan Christus, aan mekaar en vol moed voortbeweeg op pad na die land van die belofte!