‘n Verhouding met ‘n ongelowige – is dit moontlik?
'n Verhouding met 'n ongelowige kan uitdagend wees, maar is dit moontlik? In hierdie artikel word die Bybelse beginsels oor huwelik en verhoudings verken, en riglyne word gegee vir jongmense wat hulself in so 'n situasie bevind.
Geskryf deur Janet Feun, VGK Pretoria
Die huwelik as instelling van God
Wat is die primêre doel waarmee God die huwelik ingestel het? Ons lees in Genesis 2 dat God die vrou gevorm het en haar na die man gebring het om aan die man ‘n helper te gee. Sy moes hom help in die dinge wat op die diens van God betrekking het. Dit sluit ons werk in die wêreld, ons werk in God se koninkryk en ons werk in sy kerk in. Dit sluit ook in om kinders vir God voort te bring en hulle in die vrees van sy Naam groot te maak. Dit is duidelik dat bogenoemde slegs uitgevoer kan word as man en vrou dieselfde God ken, liefhet en aan Hom toegewyd is.
Reeds in Genesis 3:15, net na die sondeval, sê God vir die satan dat Hy vyandskap sal stel tussen die satan se saad en die vrou se saad. God het ‘n duidelike skeidingslyn tussen gelowiges en ongelowiges getrek, en ons kan sommer gou al in die Ou Testament sien wat gebeur as hierdie lyn oorskrei word. In Genesis 6 lees ons dat die seuns van God “vir hulle as vroue geneem het almal wat hulle verkies het,” en kort daarna volg die sondvloed. In Deuteronomium 7:3-4 verbied Moses die volk om met die Kanaäniete te trou omdat dit hulle “van My afvallig sal maak.” Dit is toe presies wat gebeur het, so lees ons in Rigters 3:6.
Die Nuwe Testament eggo die Ou Testament hierin. Natuurlik is die gelowiges nou nie meer net beperk tot een volk nie, maar God het mense van verskillende volke, nasies en tale verkies om sy heilige kinders te wees. 2 Korinthiërs 6:14 sê dan: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” Die huwelik tussen gelowiges reflekteer die verhouding tussen Christus en sy kerk, sy bruid (Efesiërs 5:22-33). As een van die twee nie glo nie, kom hierdie simboliese verhouding dus nooit tot sy reg nie. Selfs al sê die ongelowige dat hy nooit die gelowige se beginsels sal probeer verander nie, is daar verreikende gevolge. Kan daar regtig ware eenheid wees? Wat is die effek op finansiële besluite, etiese en morele invullings, die doel in die lewe, kinders, as die beginsels hemelsbreed verskil?
Ons as gelowiges stem dus saam dat ‘n gelowige glad nie met ‘n ongelowige in die huwelik behoort te tree nie.
Dit is nou maklik vir veral jongmense om te redeneer dat ‘n romantiese verhouding tog nog nie so ernstig soos die huwelik is nie, en dat dit daarom ‘nie so erg’ is om met ‘n ongelowige uit te gaan nie.
Geld bogenoemde beginsels vir die huwelik dan ook vir verhoudings? Dit is belangrik om te besef dat om in ‘n liefdesverhouding met iemand betrokke te wees die uiteindelike doel behoort te hê om in die toekoms met daardie persoon te trou. Vir ‘n gelowige kan ‘n verhouding eenvoudig geen ander doel hê nie. Dus geld bogenoemde beginsels definitief ook vir verhoudings.
Wat as ek dan wel aangetrokke raak tot ‘n ongelowige?
Vir jong mense is dit ‘n aktuele vraag: wat dan as ek wel aangetrokke of verlief raak op ‘n ongelowige? Jongmense ontmoet ‘n groot verskeidenheid mense in hulle daaglikse gang: op staatskole, by die universiteit, by die werk, by die sportklub, by sosiale geleenthede. Daar word gereeld gewaarsku om nie te diep met ongelowiges betrokke te raak nie, maar soms gebeur dit sonder dat jy dit kan help: dalk moet jy elke dag langs dieselfde persoon in die klas sit of dalk is dit ‘n kollega by die werk. Dis nie noodwendig mense van wie jy net kan wegbly nie.
Wanneer jy jonk is, loop jou gevoelens en emosies hoog. Dit is dan moeilik om rasioneel te dink en die waarskuwings van jou ouers of ander aan te hoor of uit te voer. Dit is dan maklik om te redeneer: “Dalk is dit God se manier om hom/haar tot geloof te bring. Ek kan aan ‘n paar mense dink met wie dit so gebeur het; hoekom nie ook met my nie?”
Ek het myself in presies so ‘n situasie bevind. Ek en ‘n kollega het mekaar by die werk ontmoet en was dus elke dag in mekaar se geselskap. Ons het naderhand gevoelens vir mekaar begin ontwikkel. Maar hy was nie ‘n Christen nie; hy was agnosties. Alhoewel hy gesê het dat hy oop sou wees om meer van ‘ons’ geloof te leer, was dit ‘n baie moeilike situasie. Moet ek aanhou met hierdie vriendskap (en dalk in die toekoms ‘n vaste verhouding) in die hoop dat hy dalk tot geloof sal kom? Of moet ek die vriendskap dadelik verbreek om verdere en erger hartseer te vermy? Dit is baie moeilike besluite vir ‘n jongmens wie se gevoelens gewoonlik ‘n oorheersende rol speel.
So, indien jy jouself in so ‘n situasie bevind, wat moet jy doen?
As ek terug dink besef ek hoe baie foute ek in daardie tyd gemaak het en hoe maklik dinge verkeerd kon loop. Hier volg ‘n aantal riglyne vir jongmense wat hulself in ‘n soortgelyke situasie bevind. Onthou, dis nie wenke om die verhouding te laat werk of om die persoon tot geloof te bring nie (dis immers slegs in God se hande!), maar eerder wenke om op ‘n meer verstandige manier met die situasie om te gaan. Dit is ook nie ‘n volledige en volmaakte lys nie – elke individuele situasie verskil natuurlik, maar dis riglyne wat van verskillende bronne ingesamel is: eie ervaring, ander se ervarings, Christelike literatuur, ens.
- Bid, bid, bid en spandeer báie tyd in God se Woord, selfs meer as voorheen!
- Moenie toelaat dat hierdie stadium jou verhouding met God negatief beïnvloed nie. Vra deurentyd vir sy leiding en dat Hy jou oopkop deur hierdie situasie sal laat gaan. God moet immers altyd die belangrikste in ons lewens wees. Ons moet gewillig wees om selfs die sterkste gevoelens vir ‘n ander persoon op te gee as dit indruis teen wat God van ons vra.
- Voordat jy jouself in so ‘n situasie begewe moet jy besef waarvoor jy jouself inlaat. Jy moet jouself behoorlik daarvoor voorberei, veral vir die moontlikheid dat hy/sy nié tot geloof kom nie, en dat jy dan die verhouding gaan moet stopsit. Moenie net van ‘n positiewe uitkoms droom nie, want so stel jy jouself op vir groter seer wanneer dit nie uitwerk nie.
- Maak dit dan ook van die begin af baie duidelik aan die vriend/vriendin dat as julle nie dieselfde glo nie, die verhouding nooit verder as slegs vriendskap sal kan gaan nie.
- Praat gereeld oor jou geloof; gee getuienis van wat Jesus vir jou beteken. Laat dit duidelik sigbaar wees dat God in jou lewe aanwesig is, deur aksies, woorde en dade. Maar moet dit nie afdwing of forseer nie.
- Laat hierdie vriend/vriendin sommer gou jou Christenvriende ontmoet. Dit is goed as hy/sy met verskillende Christene in aanraking kom. Dit kan wees dat jou vriende dalk meer soos hierdie vriend/vriendin dink en redeneer, of dalk met dieselfde vrae geworstel het en dit makliker kan beantwoord as jy.
- Neem jou vriend/vriendin saam kerk en Bybelstudie toe. Daar word hy/sy dan al hoe meer met verskillende Christelike onderwerpe en die teologie gekonfronteer, en ontmoet hy/sy al hoe meer Christene.
- Kry jou wyksouderling betrokke. Dit is belangrik dat ‘n leierfiguur van hierdie vriendskap weet sodat hy jou leiding kan gee, kan dophou hoe die situasie ontwikkel en vermaan of waarsku wanneer nodig.
- Dit is ‘n goeie idee om iemand as accountability partner aan te stel. Verduidelik vir hierdie persoon van die situasie waarin jy verkeer en dat jy gaan sien hoe dit ontwikkel voordat jy besluit om in ‘n vaste verhouding met die vriend/vriendin te gaan. Vra hom/haar om gereeld met jou op te volg hoe dinge verloop. Indien dit nie lyk asof daar enige vordering in die vriend/vriendin se geloofslewe is nie, vra vir jou accountability partner om jou te waarsku en af te raai om nog verder te gaan met die verhouding. Wanneer jy verlief is, staar jy jouself blind aan die goeie en hou aan hoop. Dit is meestal nodig om ‘n onafhanklike persoon te kry om oopkop na die situasie te kyk en raad te gee.
Wenke vir vriende/familie/medegelowiges
- Bid vir God se leiding in hierdie vriendskap.
- Dit is maklik vir medegelowiges om sommer dadelik iemand wat van buite die kerk is af te keur en dadelik baie negatief op te tree teenoor die vriendskap. Dit is die verkeerdste ding om te doen – hoe straal ons dan enigsins Jesus se liefde en die genade wat ons van God ontvang het, uit? Alhoewel ek die bekommernis kan verstaan wat ontstaan wanneer ‘n gelowige betrokke raak by ‘n ongelowige, moet ons besef dat ‘n negatiewe/afkeurende houding daartoe sal lei dat daar geen vrymoedigheid van die twee sal wees om te praat oor dit wat in hulle harte en gedagtes aangaan nie. Dan gebeur dit dikwels dat hulle hulself al hoe meer onttrek. Probeer dus liefdevol omgaan met hulle, maar tog ook liefdevol vermanend. Bied vir hulle ‘n plek waar hulle die vrymoedigheid kan hê om te praat oor die geloof, hulle gevoelens, vrae, ens.
- Veral vir die jongmense: behou goeie kontak met ‘n medegelowige wat betrokke raak by ‘n ongelowige. Dit gebeur maklik dat hulle stadig maar seker kan begin onttrek van jeugaktiwiteite. Hou aan om hulle uit te nooi na sosiale- en bybelstudiegeleenthede. Julle hoef nie noodwendig altyd oor geloofsake te praat nie, maar dis belangrik vir die ongelowige om met Christenvriende omring te word met wie hy mettertyd die vrymoedigheid kan ontwikkel om geloofsvrae te begin vra, sonder om veroordeel te word.
- Ondersteun hulle, veral as die verhouding nie uitwerk nie.
Hoe lank moet ek wag om te kyk of hy/sy tot geloof kom?
Dit is moeilik om te sê. Dit word ook nie noodwendig aangeraai om ‘n spesifieke tyd daaraan te koppel nie. Weereens gaan jy saam met God hierdie pad moet stap en dit in gebed aan Hom moet opdra.
Dit kan maklik gebeur dat die vriend/vriendin die geloof sommer ‘n goedkoop belofte maak sodat hy/sy in ‘n verhouding met jou kan wees. Dit is gevaarlik; moet dit nie sommer glo nie. Dit moet eerder duidelik word in sy/haar leefwyse dat hy/sy die geloof ernstig begin oorweeg: wanneer hy/sy begin nadink oor allerhande geloofsonderwerpe, wanneer hy/sy kom met allerhande vrae, wanneer hy/sy begin om sy/haar lewe te verander. Dis nogsteeds nie ‘n rede om dadelik met hom/haar in ‘n verhouding te gaan nie, maar dis meer oortuigende tekens dat die Heilige Gees regtig in hom/haar begin werk.
Wees dan geduldig en nie oorhaastig nie. Wees geduldig met al die vrae. Hy/sy gaan waarskynlik nog baie opstandig raak ook. Dit is eintlik selfs ‘n positiewe teken, want iemand wat erns neem met die geloof worstel met vrae wat menslik nie logies sin maak nie. Iemand wat net vir die liefdesverhouding ‘tot geloof kom’ is gewoonlik nie baie betrokke by gebed en skrifondersoek nie, en worstel nie met geloofsvrae nie.
Kry genoeg medegelowiges om te help om hierdie moeilike vrae te beantwoord. Iemand wat nie so emosioneel betrokke is nie, kan dalk meer rasioneel en geduldig antwoord.
Dit is regtig genade van God wanneer jy tekens van geloof by iemand anders sien ontwikkel. Maar dan beteken dit definitief nie dat jy maar net kan ontspan nie. Baie keer vat dit maande tot jare vir die persoon om oortuig te wees dat hy werklik uitverkies is. Groei in geloofsoortuiging gebeur ook nie eksponensieel nie: meestal gaan dit op en af. Dit kan ‘n mens moedeloos maak, maar bly vashou aan die Here en hou vas aan sy beloftes, “dat Hy wat ‘n goeie werk in [iemand] begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” (Filippense 1:6)
So, is dit moontlik?
Ja, dit is inderdaad moontlik om ‘n ongelowige te ontmoet, verlief te raak op hom/haar, dat hy/sy tot geloof kom en dat julle op die ou einde gelukkig getroud is. Dit ís moontlik. Maar dit is die uitsondering. Ons mag nie ons liefdesverhoudings bou op waarskynlikhede (“dalk kom hy/sy eendag tot geloof”) nie, maar slegs op dit wat God se wil van ons vereis. Dit is nie wys om ‘n lewensmaat buite die geloof te gaan soek nie. Liefdesverhoudings moet definitief nie as sendingsveld gebruik word nie, want ons oorskat gewoonlik ons vermoëns om vas te staan in die geloof wanneer ons emosioneel te diep betrokke raak by ‘n ongelowige.
Dus, ook in ons liefdesverhoudings word ons opgeroep tot selfbeheersing. Die liefde het keuses en besluite waaroor ons beheer het en waarvoor ons verantwoordelikheid moet neem. Aangetrokkenheid tot ‘n persoon wat nie ons geloof en beginsels deel nie, kan onderdruk word. Die wêreld vind hierdie benadering onnatuurlik, maar dié wie die lewende God dien is bereid om alle begeertes wat met sy wil teenstrydig is, op te gee.
Tog werk God op verskillende maniere om skape by sy kudde te voeg en moet ons nie summier alle vriendskappe met ongelowiges afwys nie. Dit bly ‘n moeilike situasie waarin baie moeilike besluite geneem moet word en waarin baie duidelike grense gestel moet word. Dis ‘n pad wat jy slegs in afhanklikheid van God sal kan stap; nooit in jou eie krag nie. Dit raak ‘n baie gevaarlike situasie wanneer jy self gaan begin plannetjies maak en op jou eie insigte begin staatmaak.
Afsluiting
Nadat ek en Sean mekaar in 2012 ontmoet het, het hy oop gestaan daarvoor om my Christenvriende te ontmoet en saam met ons kerk toe te gaan. Daar het hy al hoe meer Christene ontmoet en ‘n hele aantal gemeentelede het ‘n geweldige impak op die pad wat ons gestap het, gehad. Ons is werklik dankbaar teenoor hulle. Hulle was gasvry, vriendelik, geduldig en altyd bereid om leiding te bied in moeilike worstelinge en raad te gee, sonder om te oordeel. Dit het die moeilike en toe nog onbekende pad baie draagliker gemaak en God se liefde regtig duidelik sigbaar gemaak. Mettertyd het dit duidelik geword dat die Heilige Gees in Sean begin werk: hy het baie tyd in die Woord spandeer, gebid, gesmeek, verskillende bronne geraadpleeg en dit oordink, vrae gevra.
Maar dit was nie net easy going van daar af nie. Daar was dae, weke, maande wat worstelinge oor geloofskwessies die oorhand gekry het. Dan weer tye van rustigheid en aanvaarding. En dan kom die twyfels weer. Oor ‘n aantal jare het die tye van vrede en oortuiging van God se uitverkiesende werk in hom oorgeneem, en het die twyfels en worstelinge al hoe meer begin afneem.
In 2016 het Sean openbare belydenis van sy geloof gedoen. Einde 2017 is ons getroud. Wanneer ons terugkyk op die afgelope 12 jaar, is dit met groot dankbaarheid en verwondering. Dit is slegs God se genade dat Hy Sean op hierdie manier by sy kudde gevoeg het, en daarvoor kom Hy alle eer en dank toe.
Skakel elke Saterdag in vir geloofsgesentreerde gesprekke, insigte uit die Skrif, en praktiese riglyne vir jou daaglikse wandel met God.
Vind gerus meer inligting deur die volgende skakel te volg: https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/
Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp