My Christelike Lewe

Baie van ons is bekend met die storie van “Alice in Wonderland”. Op ‘n gegewe tyd in die verhaal bevind Alice haarself op ‘n pad waarvan sy nie die eindbestemming ken nie. Op hierdie reis kom sy dan op ‘n stadium by ‘n vurk in die pad.

My Christelike Lewe
Photo by Amaury Gutierrez / Unsplash

Geskryf deur Johann Snijder, VGK Pretoria-Maranata

Baie van ons is bekend met die storie van “Alice in Wonderland”. Op ‘n gegewe tyd in die verhaal bevind Alice haarself op ‘n pad waarvan sy nie die eindbestemming ken nie. Op hierdie reis kom sy dan op ‘n stadium by ‘n vurk in die pad. Verbouereerd en effens gefrustreerd wonder Alice waarheen sy nou moet gaan. Sy kyk op en gewaar ‘n kat wat in ‘n boom sit met ‘n vreeslike misterieuse grynslag op sy gesig. Met ‘n sug van verligting roep Alice uit na die kat vir raad: “Meneer, waarheen moet ek gaan?” Die kat kyk Alice aan en vra dan: “Dit hang af…waarheen is jy oppad?” Deurmekaar antwoord sy dan: “Ek weet nie.” Dan volg die kat se antwoord: “Wel, dan maak dit nie eintlik saak nie.”

Sonder ‘n doel of ‘n eindbestemming voor oë maak dit werklikwaar nie saak watter pad Alice daarna sou volg nie. En dieselfde geld ook vir my en jou. Op die pelgrimspad in my Christelike Lewe is dit belangrik om te weet waarheen ek oppad is: die ewige heerlikheid saam met Christus! En daarmee kan ons die volgende vraag aanpak: “Watter pad moet ek dan volg en hoe lyk daardie pad dan vir my as gelowige?”

My Christelike Lewe / Christian Living is ‘n ongelooflike wye onderwerp. Dit raak al die sfere van my lewe aan. Francis Schaeffer was ‘n Amerikaanse teoloog wat in die 20ste eeu bekend gestaan het as een van die mees invloedryke van sy tyd. Hy was bekend daarvoor dat hy invloedryke interaksies met ‘n sekulêre kultuur gehad het, terwyl hy steeds by die grondslag en die kern van sy Christelike waardes bly staan het. Hy het die Christene/gelowiges aangemoedig om die waarheid van die Skrif toe te laat om elke sfeer van hulle lewe te vorm en om met die kultuur rondom hulle in waarheid en liefde te handel. Dit is hy wat hierdie onderwerp van my Christelike Lewe / Christian Living goed benader het deur die vraag te stel: “How then shall we live?” / “Hoe sal ons dan lewe?”

Wel, hoe sál ons dan lewe? Die woord Christen beskryf iemand wat “...[verlos is] uit die mag van die duisternis en oorgebring [is] in die koninkryk van die Seun van sy liefde…” (Kolossense 1:13). Dit is ‘n onverstaanbare en onverdiende daad van genade wat die Here sonder enige menslike bydrae in gelowiges bewerk. Die woord lewe het te make met die gelowiges se reaksie op hierdie genade, in alle sfere van ons lewens.

Ons lees in Johannes 17 vers 3 dat Jesus bid dat Christene “[die Here] ken, die enigste ware God, en Hom wat [Hy] gestuur het - naamlik Jesus Christus.” Dit is dus die Here se wens vir elke wedergebore Christen om die Here meer en beter en dieper te ken en te groei in liefde vir Hom. My Christelike Lewe / Christian Living is ‘n lewe van konstante groei. Dit sou teen die wet van die Here en van die natuur wees as ek ‘n spreekwoordelike baba bly in geloof en geestelik as ‘n dwergie bly lewe. Die Heilige Gees vorm my en laat my groei in heiligmaking om ‘n geestelike volwassene te word. Ons lees in 2 Petrus 3 dat ons moet “[sorg dat ons] aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

Die Here se Woord leer my ook hoe hierdie progressie in my lewe lyk:

Ten eerste moet ek verstaan wat die effek van die wet en die Evangelie is op my lewe.
Dit begin alles by die goeie nuus van Christus. Maar dit is alleen maar goeie nuus as ek ten eerste verstaan en ten volle daarvan oortuig is dat ek voor God die Vader deur die wet skuldig staan tot die dood toe. Ek is ‘n sondaar in dringende nood vir ‘n verlosser. Eers as die wet my ten volle hiervan oortuig het, dan wys die evangelie vir my die oplossing daarvoor: naamlik Jesus Christus. Die saligheid wat ek in Jesus Christus ontvang is ‘n lewendmakende gebeurtenis (Kolossense 1:13 en Johannes 3). Hierdie nuwe lewe verander hoe ek teen die wet en teenoor Christus staan. Die wet beskuldig my nie meer nie, maar dien nou in Christus as ‘n tipe gids vir my lewe.

Tweedens is dit noodsaaklik dat ek in kennis van God moet groei (2 Petrus 3).
My Christelike Lewe / Christian Living behels die toepassing van die Woord van die Here, op baie praktiese maniere in al die sfere waarin ek in my lewe funksioneer. Dit is dus nodig vir my om te groei in kennis van God. Ten eerste moet ek die betekenis van God se Woord verstaan sodat ek ten tweede die toepassing van daardie waarheid in my lewe kan raaksien. Dit gaan oor van Lees en Verstaan na Toepassing in my lewe. Andersins, as ek dit eerstens verkeerd verstaan pas ek dit verkeerd toe en gaan ek agteruit in my Christelike Lewe.

Derdens sal ek dan groei in my persoonlike verhouding met die Drie-Enige God wat my geskape en verlos het.
Hierdie kennis waarin ek groei het direk te make met my persoonlike verhouding en my kennis van God. Deur die Woord te ken leer ons die Vader, Seun en Heilige Gees op ‘n baie dieper, intieme vlak ken. Die Gees lei ons in hierdie groeiproses. Hoe meer ek Hom ken, hoe meer sal ek Hom ook liefhê. Hoe meer ek Hom lief het, hoe meer sal ek dan ook word soos Hy.

Vierdens groei ek dan ook in my verhoudings met ander mense rondom my. (Familie, vriende, die medelidmate in die kerk, die wêreld).
Vanuit hierdie intieme liefde en kennis van wie God is kom daar dan ook ‘n beter begrip van wie my naaste is en hoe ek teenoor hulle staan, en hoe hulle teenoor God staan. My Christelike Lewe is ‘n lewe van liefde; eerstens ‘n diepe liefde vir God en daarna ook ‘n liefde vir my naaste. Ek kan liefhê, omdat God my eerste liefgehad het. Deur die Gees leer ek hoe om in liefde teenoor my vriende, familie, kerklidmate en ander mense in die wêreld op te tree.

Laastens groei my eie persoonlike karakter dat ek meer en meer soos Christus sal word.
Ons lees in Efesiërs 4:23-24: “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.” As ek deur die Gees gelei word en arbei om hierdie groeproses aan te pak sal ek vooruit beweeg. En so kry my persoonlike Christelike karakter dan sy vorm. So sterf ek my ou, dooie mens/karakter af en trek ek die nuwe mens aan, waarin ek groei en geestelik “groot word” in Jesus Christus.

Die doel van my Christelike Lewe op die uiteinde is die verheerliking van God in wie ek nou is en in alles wat ek doen. Sy eer en heerlikheid staan voor alles anders. Hy is die Gewer van nuwe lewe en Hy hou dit ook in stand en laat dit groei. Mag ek en jy arbei vanaf ‘n geestelike baba opgroei om geestelik volwasse te word, sodat ons God in alle sfere van ons lewe mag verheerlik!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp