Moet ons as Christene “Takealot”, of eerder eers deeglik dink voordat ons koop?

As ‘n mens die definisie van ‘verbruikerswese’ oftewel “consumerism” opsoek, word dit beskryf as die “aanhoudende neiging om goedere aan te koop of dienste te bekom wat nie nodig of noodsaaklik is vir die voortbestaan van die individu nie.”

Moet ons as Christene “Takealot”, of eerder eers deeglik dink voordat ons koop?

Geskryf deur Junelle Miske, VGK Maranata

As ‘n mens die definisie van ‘verbruikerswese’ oftewel “consumerism” opsoek, word dit beskryf as die “aanhoudende neiging om goedere aan te koop of dienste te bekom wat nie nodig of noodsaaklik is vir die voortbestaan van die individu nie.” Ons as individue het dus ‘n konstante behoefte aan, en soeke na, meer en beter dinge. 

Vir die wêreld is ‘n verbruikerssamelewing ‘n goeie ding, want dit het baie ekonomiese voordele. Dink byvoorbeeld aan die suksesvolle wêreldwye aanlyn-verkope platform Amazon, of selfs Takealot, wat aansienlik baie werksgeleenthede skep en klein besighede die geleenthede gee om produkte te verkoop en die ekonomie aan te moedig. Net die naam “Takealot” sê alreeds baie van wat die mega-verkoopsreuse vir ons probeer aanmoedig om te doen.

Vir die hele wêreld, en dus vir ons as Christene, kan die verbruikerswese ons in die versoeking lei en vir ons gevaar inhou. Dinge soos materialisme en gierigheid word deur die verbruikersindustrie aangemoedig - iets waarvoor ons as kinders van die Here versigtig moet wees. Dit is nie so moeilik om in hierdie spiraal van die verbruikerswese ingesluk te word nie. Kom ons kyk eers na ‘n voorbeeld: wanneer jou vriend/vriendin ‘n nuwe kar ontvang, nuwe moderne klere koop, ‘n groter salaris as jy verdien of selfs op ‘n luukse vakansie mag gaan, kan dit dalk ‘n gevoel van jaloesie, ongelukkigheid of begeerte in jou hart wek. Aan die anderkant, kan die persoon wat die bogenoemde kan bekostig weer voel dat hulle beter is as ander mense en selfs hoogmoedig raak omdat hulle dalk meer of “beter” goedere kan koop. So kan daar maklik ongelukkigheid tussen mense ontstaan en verdeeldheid kom.

Die Woord van God waarsku ons egter teen materialisme en gierigheid. In Matthéüs 6:24 (AFR20) lees ons: “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal όf die een haat en die ander liefhê, όf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”

Met bemarkingsmetodes konsentreer die Verbruikerswese daarop om die begeerte by mens te wek dat hulle ‘n sekere produk of diens nodig het om gelukkig te wees. Hierdie advertensies kan oneerlik wees en valse inligting oordra, wat die verbruiker oortuig om die produkte te koop. Klink die liedjie van die spotgoedkoop Chinese handelsmerk “Temu” bekend: “Feels like a dream, feels like magic. Now I believe I can have it”? Of selfs hulle bekende slagspreek: “Shop like a billionare”?

As Christene moet ons hiervoor oppas, want dit kan selfs daartoe lei dat ons al ons geld op onsself spandeer en nie meer die behoeftes van mede Christene in nood raaksien of erken nie. Ons word opgeroep om die behoeftiges te ondersteun in Romeine 12:13 (AFR53): “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid”.

En dan is daar ook nog die opdrag aan ons om rentmeesters van God se skepping te wees. Wanneer ‘n mens te veel goedere aankoop wat jy nie werklik nodig het nie, kan mens bydra tot die wanbestuur en onoordeelkundige gebruik van God se hulpbronne in die skepping. Ons moet bewustelik dink waarom ons iets koop en watter effek die vervaardiging daarvan op die natuur, en in party gevalle selfs op die produseerders daarvan, of hul gesondheid, het. Herwinning, hergebruik en die aankoop van organiese produkte is net enkele maniere hoe ons verantwoordelik met God se Skepping kan omgaan.  God se opdrag in Genesis 2:15, om die aarde te bewerk en te bewaak, is steeds geldig. Wanneer ons dit gehoorsaam, bring ons eer aan Hom.

Dus, hoe kan ons as Christene dan onsself beskerm om nie onnadenkend goedere te koop nie? Hier volg drie basiese beginsels wat ons van vandag af kan toepas:

  1. Wees dankbaar en tevrede met alles wat jy van God mag ontvang. Kom ons wees eerlik, ons sal nooit heeltemal tevrede wees met dit wat ons het nie. Daardie handelsmerk tekkies wat “almal dra” gaan regtig nie die laaste ding wees wat jou vir die res van jou lewe tevrede sal hou nie. Belê dus liewers in Christelike groei in plaas van in materialistiese groei.
  2. Voordat jy iets koop, vra jouself eerlik af of jy dit werklik nodig het. En benadeel die vervaardiging daarvan dalk God se skepping of ondersteun dit moontlik onregverdige arbeid? Ons almal het al gehoor van die berigte dat kitsmode verkopers soos die bekende “Shein” dalk gebruik maak van onregverdige arbeidspraktyke. Of dit nou waar is of nie, vra eers jouself af of dit tog die moeite werd is om so ‘n besigheid, wat in elk geval plaaslike besighede vernietig, te ondersteun.
  3. Onthou dat, om die beste en nuutste besittings te besit nie ware vreugde bring nie. Slegs ‘n verhouding met ons Vader bring volmaakte vreugde. ‘n T-hemp of pet met die nuutste, bekende handelsmerk sal nie jou verhouding met ons Vader laat groei nie; dit sal dalk heel eerder die teenoorgestelde doen.

Alhoewel die woord “Verbruikerswese” nie in die Bybel voorkom nie, word ons duidelik teen ontevredenheid en gierigheid gewaarsku. In Lukas 12:15 (AFR53) staan daar: “En Hy se vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”  Laat ons dan gewaarsku wees om nie ons aandag van die Here en Sy Koninkryk af weg te skuif na die wêreld en al sy begeerlike besittings, wat hulle vir ons meestal onbewustelik adverteer, nie.

Volgende keer, voordat jy die “Add to cart” knoppie druk, onthou: “It’s not getting what you want, but wanting what you have got”.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp