Koop Jou Verlossing! – Moderne Aflate

Ons is alreeds bekend met die tydperk van die aflaatverkope. Dit het sy bestaan gekry in die Rooms-Katolieke Kerk rondom die jare 1510. ‘n Aflaat behels die vrywaring van tydelike straf in die vaevuur asook vergifnis van sondes.

Koop Jou Verlossing! – Moderne Aflate
Photo by Katt Yukawa / Unsplash

Geskryf deur Wian Bouwmeester, VGK Pretoria-Maranata

Ons is alreeds bekend met die tydperk van die aflaatverkope. Dit het sy bestaan gekry in die Rooms-Katolieke Kerk rondom die middeleeue. ‘n Aflaat behels die vrywaring  van tydelike straf in die vaevuur asook vergifnis van sondes. Johann Tetzel was onder andere ‘n groot naam wat betref die aflaatverkope, met sy bekende woorde: “sodra geld in die kas klingel, spring ‘n siel van die vaevuur in die hemel.”

Die doel van die aflaatverkope was nie net om mense tot die Roomse Kerk te bekeer nie, maar meer tot finansiering van die nuwe Sint Pieterskerk te Rome. Martin Luther het in hierdie tyd geleef. Hy het sy bekende 95 stellings as antwoord op die aflaatverkope saamgestel, laat druk en gepubliseer. Die groot fout van die aflate was die feit dat jy vir jou sondes self kan betaal. Selfverlossing dus. Maar wat ook uitstaan is dat, as aflate enigsins sin gehad het, waarom het die mense nie kort kort ‘n aflaat gekoop nie? Een vandag, en een môre is as goed genoeg aanvaar. Ons is elke oomblik van die dag sondig. Dus benodig ons elke oomblik van die dag, en elke nuwe sondige gedagte, ’n aflaat. Want soos dit destyds bestuur is, kon jy mos nou een koop, en dan eers weer aan die einde van jou lewe, oftewel oor ‘n hele aantal jare. So, die hele idee wat betref die aflate is maar moeilik om te deursien.

Maar gelukkig weet ons dat vergifnis slegs deur Christus moontlik is, deur genade alleen: Sola Gratia. Ons benodig ‘n Verlosser, nie ‘n aflaat nie.

Maar nou is die vraag: is die aflate net iets van die verlede? Of het ons vandag ook te doen met tipes aflate? Wel die antwoord is ja, ons het ook te doen met moderne aflate.

Ons is dikwels besig met goeie werke (‘n voorbeeld van aflate), maar tog knibbel daardie heilige gevoel en selfgesentreerde houding by ons gedagtes op. Dink dalk aan die geld wat vir kollekte gegee word - voel jy bietjie selfverrykend nadat jy van jou geld gegee het? Wanneer jy die boemelaar langs die straat help, voel jy dat jy nou iets verdien? Dieselfde met die klere wat jy vir die armes gee, donasies en skenkings wat jy bied.

Doen jy sulke werke, en dan gaan vertel jy almal direk daarna?

Doen ons nog goeie werke uit dankbaarheid? Dankbaarheid is ‘n kenmerk van ons geloof, ons verlossing. Wat gee ons vir Christus terug? ‘n Hoogmoedige hart na kollekte? ‘n Selfgesentreerde goeie werk?

Dit is belangrik vir ons om onsself daaraan te herinner hoekom ons goeie werke doen. Ons verdien om verbrand te word soos die martelaars in die vroeë kerk, niks meer nie. Maar ons ag onsself hoër as die mense van daardie tyd. Ons loop nie meer die lang pad vir Christus nie. Ons wil  Christus leer ken soos ons self wil.

Daar is nog tipes aflate vandag. Sosiale media kan aan ‘n mens gou verkeerde inligting verkoop, wat meen dat jy so en so moet wees, en in baie gevalle lyk, om in te wees en deel te wees van almal anders. Daar word ‘n sekere beeld geskep waaraan jy moet voldoen.

Ons moet onthou: Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Die duiwel gaan ons dreig met sonde wat ons met elke gedagte gaan uitdaag, en wat ons dikwels ‘n moeilke pad gaan gee met moeilike keuses.

Die aflaatverkope, antiek of modern, moet gesien word as ‘n steeds-dreigende gevaar wat ons verseker moet analiseer in ons daaglikse lewe. Ons kan elke dag onsself vra: wat het ek vandag gedoen wat nie myself en my waardes verteenwoordig nie, maar dié van die wêreld? Watter goeie werk het ek vir my naaste of vir Christus gedoen vandag, maar met ‘n selfsugtige hart? Is ek dankbaar vir Christus en sy werke vir my, en hoe God my gemaak het?

Kom ons werk aan ons dankbaarheid en stap die ekstra myl vir Christus. Hy het immers ons sondes van ons afgewas met sy lewe, ‘n groter genadegawe as dit kry ‘n mens nie. Verder eindig dit nie by sy dood en opstanding nie, dit begin reeds daar, en ons mag dankbaar deel daarvan wees. Ons mag Hom vir sy liefde dank en  vir vrede en godsdiensvryheid. Kom ons gryp die tyd aan om Hom te leer ken! Christus het vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp